Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie onder leiding van Tom McLachlan het hulde gebring aan een van Afrikaans se groot taalkundiges, die bekende prof. F.F. Odendal, wat op Saterdag 6 April in Kaapstad oorlede is.
Baie mense sal die naam F.F. Odendal herken omdat dit al so lank prominent op die omslag van die wyd gebruikte Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal, ofte wel die HAT, pryk. Hy was trouens van 1971 tot 2005 die hoofredakteur van hierdie gewilde Afrikaanse handwoordeboek.
Prof. Odendal was egter nie net ‘n leksikograaf van formaat nie. Hy was ook dekades lank lid, en later voorsitter, van die Taalkommissie, die liggaam wat verantwoordelik is vir die opstel van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. In 1984 het die Taalkommissie onder sy voorsitterskap ook die vertalende Lys klassieke eiename gepubliseer.
Honderde studente van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit sal hom ook onthou as uitnemende dosent. Hy was trouens die eerste hoogleraar in Afrikaanse taalkunde aan die RAU.
Hy het ook 25 jaar lank gedien in die destydse komitee vir taaladvies van die SAUK, waar hy ‘n onmisbare bydrae gelewer het, onder meer tot nuutskepping.
Sy nalatenskap op soveel terreine van die Afrikaanse taalkunde is enorm, en die Taalkommissie eer sy nagedagtenis en sy nalatenskap.
Afrikaans het ‘n groot gees verloor, het voorsitter McLachlan gesê.
