DA prys Hani se stryd teen apartheid

Chris Hani, die SAKP-leier, het gelewe en gesterf vir dit waarin hy glo, het die DA Woensdag gesê.

Mmusi Maimane, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, het by die 20ste herdenking van Hani se dood gesê hy was ‘n inspirerende persoon.

“Ongeag sy ideologiese neigings kan ons almal erken dat hy ‘n beginselvaste en vasbeslote leier was,” het Maimane gesê.

“Hy het geleef en gesterf vir dit waarin hy glo en het ‘n groot bydrae gemaak in die geveg teen apartheid. Hiervoor verdien hy om geprys te word.”

“Ons kan net hoop dat die volle waarheid oor sy sluipmoord uiteindelik sal uitkom in die belang van versoening,” het Maimane gesê.

Hani is op 10 April 1993 buite sy huis in Boksburg deur die Poolse immigrant Janusz Walus doodgeskiet met ‘n vuurwapen wat deur Clive Derby-Lewis verskaf is.

Die land kan dankbaarheid betoon deur ‘n verbintenis tot die gemeenskap, het pres. Jacob Zuma tydens ‘n kransleggingseremonie ter herdenking van Hani se dood by die Thomas Titus Nkobi-gedenkpark in Elspark, oos van Johannesburg, gesê.

“Ons moet vinnig werk om die soort samelewing te skep waarvoor kameraad Chris gelewe en gesterf het,” het Zuma gesê.

“Ons moet kameraad Chris se nagedagtenis herdenk deur ‘n beter lewe vir almal te skep, waarin hy geglo het.”

Zuma het gesê dis onmoontlik om in slegs 20 jaar algehele verandering te bring.

Die skade wat deur apartheid veroorsaak is, sal nog lank in die land sigbaar wees, het hy gesê.

“Ek dink dis ‘n fout om te sê ons kan nie apartheid blameer vir wat nou in die land gebeur nie, om die minste te sê.

“Ons hoef nie te sê presies wat apartheid gedoen het nie. Die feit is die land is twee in een; jy gaan na enige stad en daar is ‘n pragtige deel, en plakkers aan die ander kant. Dit is nie die begin van ‘n demokrasie nie, en ons kan nie ophou om die mense wat dit veroorsaak het, te blameer nie,” het Zuma gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae