Zimbabwiërs in buiteland sal nie kan stem

Zimbabwe sê hy sal nie gehoor gee aan ‘n opdrag van die Afrikakommissie oor Menseregte wat hom gevra het om burgers in die buiteland toe te laat om in die komende referendum en verkiesing te stem nie.

Die AU-liggaam het verlede maand beslis dat die uitsluiting van die stemmery van gewone burgers in die buiteland, ‘n skending van hulle reg is om vryelik aan die regering deel te neem.

‘n Woordvoerder van die Departement van Buitelandse Sake, Joey Bihma, sê egter die grondwet is duidelik dat slegs diplomate en diegene in regeringsdiens in die buiteland mag stem.

Die eerste minister, Morgan Tsvangirai, het intussen gesê die eenheidsregering kon nie ooreenkom oor of buitelandse waarnemers van Westerse lande toegang sal kry om Saterdag se referendum te monitor nie.

Treine uitgebrand, pendelaars aangehits

Vier treinwaens van Metrorail is by die Mlamula Nkunsi-stasie in Orlando, suidwes van Johannesburg, uitgebrand. Dit is die derde voorval binne ‘n maand.

Gister is nog drie rytuie by die Merafe-stasie aan die brand gesteek. Die uitvoerende hoof van Metrorail, Mosengwa Mofi, het verlede maand aangekondig dat die maatskappy verliese van meer as 70 miljoen rand gely het weens dié optrede.

Mofi sê hulle gaan ander rolspelers betrek om ondersoek in te stel na wat tot die voorvalle aanleiding gee.

‘n Groep betogers het buite die Bosman-treinstasie in Pretoria saamgedrom om beter diens van Metrorail te eis. ‘n Man van die Pan Africanist Congress (PAC) in Soshanguve het ‘n megafoon gebruik om pendelaars aan te hits.

Hulle wil glo toilette in die treine hê en eis dat Metrorail oorlading aanspreek. Treine is dikwels laat, wat veroorsaak dat talle pendelaars laat is vir werk. Daar is ook geen veiligheid op die treine nie.

Tshwane-metropolisie, polisiebeamptes en wagte was buite die besige stasie, berig Nuus24.

Geen ‘groot swart braai’ nie

Die man wat op Facebook aangekondig het dat hy ‘n partytjie sal hou om die herdenking te vier van die Westdenedambusramp sal die slagoffers se grafte gaan skoonmaak.

“Daar is ooreengekom dat mnr. Zama Khumalo familielede van die slagoffers sal help om die grafte skoon te maak en kranse te lê by die Wespark-begrafplaas op 13 Maart 2013, 01:00,” het Jurgens Bekker Prokureurs in ‘n verklaring gesê.

Media24 het opdrag gegee dat die firma ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) indien oor Khumalo se kommentaar.

Khumalo, 24, het sy vriende op die sosiale webwerf op 24 Januarie vertel dat hy ‘n uitnodiging na ‘n “groot swart braai” gaan uitstuur om die verdrinking van 42 wit kinders te vier toe hul skoolbus in die Westdenedam ingery het op 27 Maart 1985 in Johannesburg.

Khumalo het die 24 name van die slagoffers saam met ‘n opmerking gepos dat hulle dood “baie waardeer word, my Here!”

Die skikking is bereik met die SAMRK as ‘n bemiddelaar.

SAMRK-woordvoerder Isak Mangena het op 6 Februarie aan The Times gesê dat die boodskap “vol van haat vir ‘n ander ras is, op die oog af”.

DA skarrel om Moslems tevrede te stel

Universiteite regoor die land herdenk “Israeliese Apartheidweek” hierdie week. Organiseerders sê dit is ‘n geleentheid om aandag te vestig op die menseregteskendings wat endemies is aan die konflik in die Midde-Ooste.

In Durban, egter, het die Demokratiese Alliansie geskarrel om aan die regte kant van die debat te bly.

“Daar sal geen poging wees om die muurskildery verwyder te kry nie, en die DA ondersteun vryheid van spraak. [Die] raadslid ondersteun hierdie vryheid,” het die Demokratiese Alliansie-leier, Helen Zille Maandag haastig verklaar, nadat aktiviste in Durban met woede gereageer het op ‘n DA-raadslid se verklaarde teenkanting teen graffiti oor Israel.

Die raadslid, Avrille Coen, het die graffiti in Durban as aanstootlik beskryf.

“Watter bewys het hulle dat Israel ‘n Apartheidstaat is?

“Hierdie muurskildery vertel die helfte van die storie van wat gebeur in die Midde-Ooste.”

Sy het gesê verlede jaar het dieselfde illustrasie vir soortgelyke omstredenheid gesorg en moes dit deur die munisipaliteit verwyder word.

“Ons kan nie ‘n skildery in ‘n openbare ruimte soos ‘n strand hê wat so aanstootlik vir mense van Joodse afkoms is nie.

“Dit is haatspraak om ‘n demokratiese land soos Israel, wat Palestynse in die parlement het, ‘n Apartheidstaat te noem.

“Die skildery moet verwyder word,” het sy gesê. Coen se kennis oor Suid-Afrika se sogenaamde apartheidstaat het haar klaarblyklik ook in die steek gelaat waar ander rasse ook in die Parlement gesit het.

Coen het haar opmerkings in die park gemaak, in die teenwoordigheid van joernaliste.

Die DA in Kwazulu-Natal het probeer om die party te distansieer van die raadslid se opmerkings.

“As Demokratiese Alliansie, sal ons nie betrokke raak in hierdie saak nie en sal nie enige aksie neem nie,” het Hanif Hoosen, die DA se voorsitter in Kwazulu-Natal, gesê in ‘n brief aan die Suid-Afrikaanse Moslem Netwerk (Samnet).

En Dinsdagmiddag is die muur oorgeverf. Die muurskildery het verdwyn onder ‘n dik laag swart verf.

By navraag het Coen gesê sy weet “nie ‘n ding” daarvan nie.

Israelse Apartheidweek is die eerste keer in 2005 in Toronto gehou en is sedertdien by akademiese instellings regoor die wêreld gehou.

Dr Salim Vally, direkteur van die Sentrum vir Onderwys en Transformasie aan die Universiteit van Johannesburg, en ‘n prominente Palestynse Solidariteit-aktivis, is Dinsdag toegang tot die Wesoewer deur die Israelse veiligheidsmagte geweier.

Vally is uitgenooi deur die Friedrich Ebert Stiftung, ‘n Duitse stigting, om ‘n reeks lesings in die Wesoewer aan te bied wat fokus op die reg om te onderrig en kurrikulumontwikkeling te lewer.

“Die mees pynlike ding oor die hele episode,” sê Vally in ‘n verklaring wat vrygestel is, “was die wyse waarop die Palestyne wat terugkeer na hul huise – baie ouer as my ouers – mishandel, geteister en verneder word deur tieners jonk genoeg om hul kleinkinders te wees. Selfs as ek wou, kan ek nie verhoed dat herinneringe van die Apartheid dae my oorweldig met wraak nie.”

Joodse Raad kla Fransman aan

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het ‘n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor die Wes-Kaapse ANC-leier, Marius Fransman se “verdelende retoriek” oor die radio gelê.

Maar Fransman, wat ‘n adjunk-minister van internasionale betrekkinge en samewerking is, het gesê die raad is selektief in sy woede.

Op ‘n gemeenskapsradiostasie twee weke gelede, het Fransman die DA-beheerde Kaapstad veroordeel dat hulle boukontrakte eerder aan “Joodse sakemanne” in teenstelling met Moslems gee.

“Die stof en konteks van hierdie kommentaar het duidelik te kenne gegee dat, volgens mnr Fransman en sy party, die Joodse gemeenskap in Kaapstad onbillik ekonomies baat ten koste van die Moslem-gemeenskap,” sê die raad se nasionale voorsitter, Mary Kluk.

Fransman het die kommentaar gemaak om politieke steun te kry van Kaapstad se Moslem-gemeenskap, het Kluk gesê.

Maar Fransman het skerp gereageer, en sê die raad moet meer “patrioties” raak en hulleself afvra of hulle Suid-Afrikaanse Jode of die Israeliese regering verteenwoordig.

“Hulle is baie aggressief wanneer die regering dit wat gebeur teen die Palestyne as ‘n misdaad teen die mensdom beskou, maar hulle moet ontsteld raak oor die lot van die armes en die plaaswerkers.”

Cosatu ‘aktief vernietig’

Cosatu is op ‘n gevaarlike, afdraande pad, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Dinsdag gesê.

“Die vakbonde is onder beleg weens… ‘n gebrek aan ervaring onder organiseerders en beamptes wat nie opgewasse is om hierdie uitdagings te hanteer nie,” het Mantashe in Boksburg, oos van Johannesburg, aan nasionale ampsdraers van dié vakverbond gesê.

“Werkers gaan begin om na alternatiewe te soek. Wanneer werkers na alternatiewe soek, hoor hulle ons nie en voel hulle ons nie.”

Mantashe het gesê onenigheid heers in Cosatu. Hy het gewaarsku dat daar verdeeldheid is onder die leierskap.

“Julle gaan dit [Cosatu] aktief vernietig. In ‘n jaar se tyd sal daar geen Cosatu meer wees nie…. Alle ander veldtogte gaan plat val as daar nie organisering is nie.

“Bou die organisasie nóú… sodat julle ‘n impak kan maak.”

SA, Angola, DRK gaan ingrypingsmag op die been bring

Die presidente van Suid-Afrika, Angola en die DRK het hulle gewig ingegooi agter ‘n plan om vrede na die DRK se onbestendige Noord-Kivugebied te bring.

President Jacob Zuma, Jose Eduardo dos Santos en Joseph Kabila, het hulle steun toegesê aan ‘n plan wat deur elf state onderteken is en die weg gebaan het vir ‘n ingrypingsmag van 2 500 soldate.

Dos Santos het op ‘n nuuskonferensie in Luanda gesê die drie lande sal help om te verseker dat die ooreenkoms doeltreffend is.

Op die oomblik veg ‘n VN-sending van 17 000 lede na jare van onrus teen die rebelle. Suid-Afrika het soldate in die DRK as deel van die VN-sending MONUSCO.

Agang sal ‘fragmentering verminder’

Die stigter van die politieke forum Agang, Mamphela Ramphele sê die doel van die organisasie is om fragmentering in opposisiegeledere te verminder en die politieke landskap te herskik.

Ramphele het gister haar tuisdorp naby Polokwane besoek. Sy sê sy sal samesprekings voer met ander partye oor kwessies van gemeenskaplike belang.

Sy sê dis nie koalisievorming as sodanig nie, omdat daar verskeie maniere van samewerking uit gesprekke kan voortvloei. Ramphele sê gesprekke kan nie met vooropgestelde idees gevoer word nie.

Polisie skiet meisie in oproer

‘n Sestien-jarige meisie is tydens ‘n gewelddadige oproer op Mayflower naby Ermelo in Mpumalanga deur die polisie raakgeskiet.

Die oproermakers het die kantore van die Albert Luthuli munisipaliteit aan die brand gesteek, die munisipale bestuurder as gyselaar aangehou en sy motor aan die brand gesteek.

Volgens die Departement van Gemeenskapsveiligheid is die meisie getref toe hulle die woedende betogers uiteen gejaag het. Die LUR, Vusi Shongwe het die geweld veroordeel.

Betogers het Maandag in die noordweste van Johannesburg klippe na motoriste gegooi op die R114, tussen Malibongwe-rylaan en Cedarweg.

Volgens die Johannesburgse metropolisie is dit nie veilig om daar te ry nie en word verkeer herlei.

Vroeër is die N14 en in Malibongwe-rylaan vir verkeer gesluit weens die oproer en later weer vir verkeer oopgestel.

Hoofsupt. Wayne Minnaar het Maandagoggend gesê daar was ‘n groep oproermakers op Malibongwe-rylaan naby Cosmo City en nog ‘n groep op die N14 naby Diepsloot.

“Die rede vir die protesoptrede is nie in hierdie stadium bekend nie,” het Minnaar gesê.

Metropolisiebeamptes is ontplooi om die situasie te monitor.

Media24 se politieke verslaggewer skielik oorlede

Voormalige Mail & Guardian-joernalis Mandy Rossouw is op die ouderdom van 33 jaar in haar woonstel in Bryanston, Johannesburg oorlede.

Volgens Beeld is Rossouw in die hospitaal opgeneem oor die naweek met pyn op die bors, maar is ‘n paar uur later ontslaan.

‘n Kennis het haar liggaam gevind by haar woonstel toe sy versuim het om ‘n ete-afspraak na te kom. Die oorsaak van haar dood is nog onbekend.

Redakteur Nic Dawes het gesê: “Mandy was ‘n buitengewone teenwoordigheid in ons nuuskantoor en op ons bladsye, lewendig, gefokus, en vasbeslote om die storie te breek Ons gedagtes is met haar familie, haar Media24-kollegas en haar baie vriende oor die wêreld van die joernalistiek, politiek en diplomasie heen.”

Rossouw was die internasionale korrespondent vir die Media24-groep, politieke verslaggewer vir die City Press en was ook ‘n verslaggewer vir Eyewitness News.

Sy het voorheen gewerk as ‘n politieke joernalis vir Beeld en die Mail & Guardian.

Verlede jaar het sy haar boek Kings en Kingmakers voor die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in die Vrystaat vrygestel.

“Haar dood is ‘n groot verlies vir ons,” sê Tim du Plessis, hoof van Afrikaanse koerante by Media24.