‘n Sestien-jarige meisie is tydens ‘n gewelddadige oproer op Mayflower naby Ermelo in Mpumalanga deur die polisie raakgeskiet.
Die oproermakers het die kantore van die Albert Luthuli munisipaliteit aan die brand gesteek, die munisipale bestuurder as gyselaar aangehou en sy motor aan die brand gesteek.
Volgens die Departement van Gemeenskapsveiligheid is die meisie getref toe hulle die woedende betogers uiteen gejaag het. Die LUR, Vusi Shongwe het die geweld veroordeel.
Betogers het Maandag in die noordweste van Johannesburg klippe na motoriste gegooi op die R114, tussen Malibongwe-rylaan en Cedarweg.
Volgens die Johannesburgse metropolisie is dit nie veilig om daar te ry nie en word verkeer herlei.
Vroeër is die N14 en in Malibongwe-rylaan vir verkeer gesluit weens die oproer en later weer vir verkeer oopgestel.
Hoofsupt. Wayne Minnaar het Maandagoggend gesê daar was ‘n groep oproermakers op Malibongwe-rylaan naby Cosmo City en nog ‘n groep op die N14 naby Diepsloot.
“Die rede vir die protesoptrede is nie in hierdie stadium bekend nie,” het Minnaar gesê.
Metropolisiebeamptes is ontplooi om die situasie te monitor.
