Sowat 53 sukkelende munisipaliteite in Kwazulu-Natal is aan die provinsiale regering se finansiële departement “oorgedra” as gevolg van die geldelike verknorsing waarin hulle verkeer.
Suid-Afrikaanse nuus, d.w.s. sowel nuus uit Suid-Afrika én Suider-Afrika.
Sowat 53 sukkelende munisipaliteite in Kwazulu-Natal is aan die provinsiale regering se finansiële departement “oorgedra” as gevolg van die geldelike verknorsing waarin hulle verkeer.
Thabo Mbeki, die ANC-president, het enkele dae gelede tydens ’n sogenaamde “imbizo” in Braamfontein, Johannesburg, gesê dat dié stad hom moet regmaak vir nog baie nuwe intrekkers “van elders in die land”.
Amos Masondo, die ANC-burgemeester vir Johannesburg, het aan Mbeki gesê dat die bevolking van dié stad met 3,5% per jaar groei weens instroming van elders in die land en vanuit die res van Afrika.
Zimbabwe vier vandag Woensdag 18 April sy 27ste jaar van onafhanklikheid van Brittanje te midde van ekonomiese ineenstorting en toenemende politieke spanninge wat die gebeurtenis van enige luister ontneem.
Die veteraanpresident, Robert Mugabe, wat sedert 1980 in die voormalige Rhodesië aan bewind is, sal vandag die hooftoespraak lewer by die Harare-sokkerstadium waar die aanvanklike onafhanklikheidsvieringe destyds gehou is terwyl kleiner byeenkomste in provinsiale hoofstede regoor die land gehou sal word.
“Dié man gaan binnekort aftree en wil ’n laaste stoot aan Zimbabwe gee,” het Mugabe aan honderde skoolkinders en onderwysers wat van uitgesoekte skole af byeengebring is, gesê.
Mugabe, wat op 83 Afrika se oudste leier is, het ook sy plaaslike teenstanders as “boosdoeners wat hier as sy (Blair) se verteenwoordigers optree” beskryf en wat deel is van ’n veldtog om “Zimbabwe weer ’n kolonie te maak”.
’n Onlangse klopjag teen die opposisie-“Beweging vir Demokratiese Verandering”, wat die inhegtenisname en aanranding van sy leier Morgan Tsvangirai ingesluit het, het tot hernieude kritiek vanuit die Weste gelei wat sanksies op Mugabe en sy onmiddellike kliek toegepas het ná bewerings dat hy die 2002-verkiesing gemanipuleer het.
Die Suid-Afrikaanse president, Thabo Mbeki, is deur sy mede-staatshoofde in die streek gevra om as tussenganger tussen die heersende ZANU-PF-party en die MDC op te tree te midde van vrese oor die gevolge van die ekonomiese krisis in Zimbabwe waar 80 persent van mense sonder werk is en inflasie uithaal om 2000 persent te bereik.
Die ekonoom in Harare, Victor Zirebgwa, meen dat min mense waarskynlik gaan feesvier in die lig van die enorme probleme waaronder hulle tans gebuk gaan.
“Wat is daar om te vier? Mense kry swaar vanweë die ekonomiese en politieke krisis,” sê hy.“Ons hoop net vir ’n wonderwerk om te gebeur, maar ons weet nie wanneer dit gaan kom nie.”
Maar die Hoofsweep van die regering, Rugare Gumbo, meen onafhanklikheidsdag behoort steeds ’n bron van trots te wees en behoort ’n geleentheid te bied om die dae van slegs blankes-regering onder die bewind van die toentertydse eerste minister Ian Smith in herinnering te roep.
“Ons is nou baas in ons eie land. Dis jammer dat mense onafhanklikheidsdag verpolitiseer,” het Gumbo aan AFP gesê. “Nou het ons bewegingsvryheid, godsdiensvryheid, vryheid om te assosieer, onder andere. In die verlede is swartes nie eens toegelaat om in die middestad te loop nie.”
Leiers van die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakbonde (Cosatu) eis dat die federasie sy steun vir Jacob Zuma as hul voorkeurkandidaat vir die ANC-presidentskap laat vaar, berig die Sunday Times.
Zuma se kandidatuur is bespreek by ‘n vurige sentrale bestuursvergadering wat by die federasie se Johannesburgse hoofkantoor van 26 tot 28 Februarie gehou is.
“Stel u ‘n situasie voor waar ons ‘n ANC-president het wat die meeste van sy tyd in hofsake deurbring,” het ‘n Cosatu-amptenaar vandeesweek gesê.
Volgens Cosatu-leiers het dié houding na vore gekom vanweë “ernstige oorweging dat Zuma op aanklagte van korrupsie verhoor mag word teen Desember as die ANC se nasionale konferensie in Pietersburg, Limpopo, plaasvind.
Cosatu se Sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, is meegedeel dat “die werkers” nooit ‘n formele besluit geneem het om Zuma vir die ANC-presidentskap te ondersteun nie, maar hom eerder gesteun het teenoor die oënskynlike misbruik van staatsmag.
In die onlangse maande het die Nasionale Vervolgingsgesag sy voorneme om voort te gaan met ‘n klag van korrupsie teen Zuma duidelik gemaak deur in howe aansoek te doen om toegang tot dokument wat Zuma by korrupsie mag betrek.
Volgens senior Cosatu-amptenare het Vavi aan die dagbestuur verklaar dat hy nooit gesê het dat Zuma die volgende president behoort te wees nie, aldus die Sunday Times.
Vavi het ook verlede week tydens ‘n onderhoud met dieselfde koerant gesê dat Cosatu nie ‘n besluit geneem het oor wie vir die ANC-presidentskap gesteun moet word nie.
In die binnekringe van die vakverbond word gesê dat Vavi, wat twee jaar gelede beweer het dat ‘n Zuma-presidentskap ‘n “onkeerbare tsoenami” was, se ommekeer voortspruit uit die dagbestuursvergadering.
Dit verteenwoordig ‘n slag vir Zuma se presidensiële ambisies want Vavi en ander Cosatu-leiers was tot dusver op die voorpunt van diegene wat sy presidentskap bevorder, tesame met die ANC-jeugliga en die SA Kommunisteparty, meen die koerant.
Volgens Cosatu-leiers het Vavi aan die komitee voorgestel dat die federasie ‘n alternatiewe kandidaat behoort te oorweeg.
Daar is toenemende druk op Cosatu om amptelike steun aan die ANC se sekretaris-generaal, Kgalema Motlanthe, toe te sê.
Cosatu se sekretaris-generaal in Kwazulu-Natal, Zet Luzipho, het gesê dat die federasie nog nie besluit het wie om te steun nie.
Die sentrale komitee is ‘n breër liggaam as die dagbestuur en sluit leiers in die laer range in.
Jabob Zuma se voorslepende probleem met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is in Durban “opgelos”, het die ANC-adjunk-president se prokureur gister, Woensdag 11 April, gesê.
Volgens Zuma se prokureur, Michael Hulley, “is die saak opgelos”.
Hulley het verseg om verdere kommentaar te lewer.
Adrian Lackay, die woordvoerder van die Inkomstediens, wou nie onmiddellik kommentaar lewer nie.
Zuma is in Februarie gedagvaar.
Die Independent on Sunday het toentertyd berig dat die dagvaarding die volledigheid van Zuma se bekendmaking van sy inkomste bevraagteken het, asook dat hy in gebreke gebly het om ’n opgawe in te dien.
Hulley het die koerant vertel dat die opgawe laat ingedien is.
“Ons het geen kommentaar nie… ons beskou mnr. Zuma se belastingsake as privaat en daar is niks om te sê nie,” is hy destyds aangehaal.
Presies hoe die saak Woensdag opgelos is, was nie onmiddellik duidelik nie.
Die mark vir haarmiddels om swart hare reguit te maak, is besig om te ontplof, volgens bronne in die bedryf. Die mark vir dié middels, wat in Engels as “relaxers” oftewel ontspanners bekend staan, bedra volgens Nielsen se syfers ongeveer 100 miljoen dollar (R715 miljoen) per jaar.
Die middestede van Suid-Afrikaanse stede en dorpe wemel reeds van sogenaamde etniese haarsalonne waar ’n sessie die klant R500 of meer kan kos. Die ontspannermark in Suid-Afrika word deur Dark and Lovely, ’n produk van die Franse kosmetiekreus, L’Oréal, oorheers.
Maar die grootste mark ter wêreld bestaan in die VSA met sy swart minderheid wat tans op 38,5 miljoen te staan kom en voortdurend deur immigrasie vanuit Afrika en die Karibbiese eilande aangevul word.
Swart Amerikaanse vroue bestee volgens wetenskaplike berekeninge ’n reusagtige $225 miljoen (R1,6 miljard) per jaar aan haarmiddels en -behandelings. Gemiddeld is dit drie keer soveel as wat blanke vroue aan hul hare bestee.
Die dae toe die “Afro-styl” van hare in die mode was en die toentertydse swart Amerikaanse kommunis en aktivis, Angela Davis, se foto oral met ’n groot bos kroeshare gepryk het, is lankal verby. Deesdae moet swartes reguit hare hê en basta!
Om kroeshare reguit te maak, is blykbaar geen maklike taak nie en in die laboratoria van L’Oréal in ’n futuristiese gebou in Clichy-sous-Bois, naby Parys, word daar gedurig navorsing hieroor gedoen. Onder ’n mikroskoop is die Afrika-tipe haar plat, terwyl ’n Westerling s’n ovaal lyk en ’n Oosterling s’n rond is.
Daar bestaan ook twee tipes kroeshare, een wat mens die meer Negroïede tipe kan noem en wat in Wes-Afrika en die VSA voorkom, en ’n ander van die Bantoe-tipe wat meer in sentraal- en suidelike Afrika voorkom. Die Bantoe-tipe is die heel moeilikste om reguit te maak, breek maklik en die struktuur daarvan word ook deur die ontspanners afgetakel.
’n Sekondêre mark van bevogtigers is daarom nodig om dié hare tussen ontspannersessies te behandel, wat insgelyks deur Dark and Lovely bemark word.
Omdat ontspanne hare so broos is, kan hulle nie te dikwels gewas word nie. Marknavorsing in Suid-Afrika het aangetoon dat die gemiddelde swart vrou haar hare een keer per maand was. Daarom word daar nou gekyk na ’n nuwe generasie bevogtigers wat ook anti-bakteriële eienskappe sal hê en wat aangenaam ruik.
Maar intussen lag L’Oréal al die pad bank toe. Die amptelike markgrootte van R700 miljoen per jaar in Suid-Afrika word as ’n konserwatiewe skatting beskou omdat vele middels in die informele ekonomie verkwansel word. Dit mag dalk nader aan een miljard rand per jaar wees.
Ironies genoeg is L’Oréal se wêreldwye hoofkwartier in Clichy-sous-Bois geleë, dieselfde plek waar die Franse onluste deur swartes en Arabiere in 2005 uitgebreek het.
Zimbabwe, wat deur die verdrywing van blanke boere en politieke onenigheid gekortwiek word, was Afrika se swakste ekonomiese presteerder in 2006, terwyl Angola, dansy olie-uitvoere, die beste was. Aldus ’n VN-studie wat verlede week gepubliseer is.
Zimbabwe met al sy probleme het ’n negatiewe 4,4 persent groeikoers geregistreer, wat dit die slegs presterende ekonomie maak, volgens die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika in ’n verslag wat in Addis Abeba gepubliseer is.
“Ekonomiese prestasie in Zimbabwe het negatief gebly… veral vanweë politieke probleme wat deur herhaalde droogtes vererger is,” meen die verslag.
Zimbabwe se inflasiekoers is nou die hoogste ter wêreld op 1 730 persent en die Internasionale Monetêre Fonds voorspel dat dit tot 4 000 persent teen die einde van die jaar gaan styg. Vier uit vyf mense is werkloos en leef in volslae armoede.
Hierteenoor het hoë olie-uitvoerpryse Angola gehelp om die studie se topposisie met 17,6 persent groei in te neem.
Mauritanië is tweede geplaas, met 14,1 persent, terwyl mineraaluitvoere Mosambiek in staat gestel het om die derde plek met 7,9 persent in te neem.
Onder aan die lys saam met Zimbabwe, het die Comores, die Ivoorkus, die Seychelle en Swaziland die laagste ekonomiese groeikoerse in Afrika behaal.
Die verslag voorspel ’n 5,8 persent groeikoers op die vasteland vanjaar, wat ’n effense verbetering van verlede jaar se 5,6 persent was, dansy die toenemende globale vraag na grondstowwe soos olie, minerale en landbouprodukte.
Maar die verspreiding van MIV/Vigs, ’n gebrek aan verskeidendheid in uitvoere en onvoorspelbare weer, asook ondoeltreffende infrastruktuur en onbetroubare energietoevoer kan verhinder dat die voorspelde groei bereik word, lui die verslag verder.
Die VSA het gister vir die eerste maal openlik te kenne gegee dat hulle aktief daaraan werk om Robert Mugabe, president van Zimbabwe, te ondermyn.
Onlangs het berigte oor die aanranding van Zimbabwiese opposisieleier, Morgan Tvangirai, aan die hand van Mugabe se veiligheidsmagte opslae gemaak.
Eric Bost, huidige VSA-gesant in SA, het voorheen sy teleurstelling uitgespreek met die “gebrek aan aksie” uit Afrika om Mugabe se termyn tot ’n einde te dwing. Die VSA se verteenwoordiger In Harare het al by verskeie geleenthede kommentaar gelewer oor die rampspoedige gevolge van Mugabe se beleidsrigtings.
Die betrokke deel is vervat in die Departement se vyfde jaarlikse Supporting Human Rights and Democracy-verslag. Daarin is alle besonderhede vervat van Amerika se wêreldwye aksies om menseregte te bevorder. Lande soos Rusland en Iran word ook breedvoerig bespreek.
Die Amerikaners het bevestig dat hulle byeenkomste borg met die oog daarop om Mugabe se regering te “diskrediteer”.
Mnr Mugabe sal ongetwyfeld egter die bekendmaking verwelkom omdat hy reeds herhaaldelik Brittanje en die VSA van inmenging om sy bewind omver te werp, beskuldig het.
Die vrystelling van die jaarlikse verslag verloop nie altyd sonder kinkels nie. Drie jaar gelede moes dit vertraag word toe menseregteskendings deur Amerikaanse weermagpersoneel by die Abu Ghraib-gevangenis in Irak rugbaar geraak het.
Alhoewel die VSA getalm het met hul afkeur in die Mugabe-regering, was hulle verlede maand taamlik uitgesproke by die Menseregteraad (HRC) in Genève. Terwyl hulle erken het dat Zimbabwe ’n “nominale” demokraties-verkose regering het, is dit as “outoritêr” beskryf. Die verklaring lui voorts soos volg:
Om groter openbare debat oor die herstel van goeie regering [in Zimbabwe] aan te moedig, het die Verenigde State openbare byeenkomste geborg waar ekonomiese en sosiale ontledings aangebied is wat die regering se verskonings vir sy mislukte beleidsrigtings diskrediteer.
Om verder die pro-demokratiese elemente te versterk, het die VS-regering volgehou om die pogings van die politieke opposisie, die media en burgerlike samelewing te steun om demokratiese ruimte te skep en te verdedig en om persone wat die regering kritiseer te ondersteun.”
Barry Lowenkren, afgevaardigde, het volgens berigte gesê die doel van die verslag is nie noodwendig regimeverandering nie, maar moet as ’n manier om die speelveld meer gelyk te maak, gesien word. Hy het bygevoeg dat dit nodig is om aan die mense in Zimbabwe te toon dat hulle die ondersteuning van die VSA geniet.
Zimbabwe gaan die Westerse media se propaganda-aanslag teen die regime van Robert Mugabe op ’n nuwe manier beperk, het dié land se staatsmedia Vrydag bekend gemaak.
“Ons mense word omsingel en gebombardeer deur Westerse media,” het die minister van Inligting, Sikhanyiso Ndlovu, aan die Ziana-nuusagentskap gesê.
Nadat Ian Smith in 1970 as verkiesingsoorwinnaar uit die Gemenebes gestap het, ’n republiek uitgeroep en sodoende die laaste band met die Britse kroon verbreek het, het die Britte wat vroeër by monde van Harold Wilson verklaar het dat Brittanje dit nooit sal aanvaar indien daar nie swart regering in die eertydse Rhodesië kom nie, hewige druk op alle partye uitgeoefen om Mugabe se heerskappy te bewerkstellig.
Onder die wakende oog van Brittanje is alle moontlike eertydse swart opposisiekandidate ook uit die weg geruim en duisende Matabeles is in Mugabe se wrede veldtogte uitgemoor.
Oor die nuwe stasie het die minister bygevoeg dat daar “rewolusionêre nuwe ontwikkelinge in die media gaan kom. Ons gaan by magte wees om ons eie weergawe te gee.” Hy het toe pas Iranse diplomate wat in Harare verteenwoordig is, ontmoet.
Die nuwe stasie gaan die sukkelende staat, in die knelgreep van hongersnood en wegholinflasie, 8,9 miljard Zimbabwiese dollar kos oftewel 39,6 miljoen VS dollar teen die amptelike koers.
Mnr Ndlovu het ná sy ontmoeting met Iran se ambassadeur, Rasoul Momeni, die aankondiging oor die nuwe stasie gedoen nadat ooreengekom is om Bulawayo, die tweede grootste stad, se oudovisuele geriewe ook op te knap,
Iran het reeds toegesien dat die uitsendingsgeriewe in die hoofstad nuut oorgedoen word.
Mugabe het agv Westerse kritiek homself gewend tot lande in Asië asook Iran om sy bewind te bestendig.
’n Fidelity-geldwa is gistermiddag Woensdag 4 Maart deur ’n bende gewapende mans in Norwood, Johannesburg, van ’n onbekende som geld beroof.
Direkteur Govindsamy Mariemuthoo van die SA Polisie het gesê die bende het op die voertuig begin skiet nadat ’n Mercedes-Benz daarin vasgejaag het.
“Nog ’n gewapende groep het uit ’n BMW geklim, het ook begin skiet en het kontanthouers uit die geldwa geneem.”
Die bende het daarna in twee bakkies gevlug en hulle twee voertuie op die toneel gelos.
“Maar vier van hulle is later in hegtenis geneem, drie in Sandringham en een in die Norwood-gebied.”
Mariemuthoo wou nie sê of enige wagte in die skietery beseer is nie. Hy kon nie bevestig of die wagte die geld afgehaal of sou gaan aflewer het nie.
“Ons stel nog ondersoek in,” het hy gesê.