Maar die grootste mark ter wêreld bestaan in die VSA met sy swart minderheid wat tans op 38,5 miljoen te staan kom en voortdurend deur immigrasie vanuit Afrika en die Karibbiese eilande aangevul word.
Swart Amerikaanse vroue bestee volgens wetenskaplike berekeninge ’n reusagtige $225 miljoen (R1,6 miljard) per jaar aan haarmiddels en -behandelings. Gemiddeld is dit drie keer soveel as wat blanke vroue aan hul hare bestee.
Die dae toe die “Afro-styl” van hare in die mode was en die toentertydse swart Amerikaanse kommunis en aktivis, Angela Davis, se foto oral met ’n groot bos kroeshare gepryk het, is lankal verby. Deesdae moet swartes reguit hare hê en basta!
Om kroeshare reguit te maak, is blykbaar geen maklike taak nie en in die laboratoria van L’Oréal in ’n futuristiese gebou in Clichy-sous-Bois, naby Parys, word daar gedurig navorsing hieroor gedoen. Onder ’n mikroskoop is die Afrika-tipe haar plat, terwyl ’n Westerling s’n ovaal lyk en ’n Oosterling s’n rond is.
Daar bestaan ook twee tipes kroeshare, een wat mens die meer Negroïede tipe kan noem en wat in Wes-Afrika en die VSA voorkom, en ’n ander van die Bantoe-tipe wat meer in sentraal- en suidelike Afrika voorkom. Die Bantoe-tipe is die heel moeilikste om reguit te maak, breek maklik en die struktuur daarvan word ook deur die ontspanners afgetakel.
’n Sekondêre mark van bevogtigers is daarom nodig om dié hare tussen ontspannersessies te behandel, wat insgelyks deur Dark and Lovely bemark word.
Omdat ontspanne hare so broos is, kan hulle nie te dikwels gewas word nie. Marknavorsing in Suid-Afrika het aangetoon dat die gemiddelde swart vrou haar hare een keer per maand was. Daarom word daar nou gekyk na ’n nuwe generasie bevogtigers wat ook anti-bakteriële eienskappe sal hê en wat aangenaam ruik.
Maar intussen lag L’Oréal al die pad bank toe. Die amptelike markgrootte van R700 miljoen per jaar in Suid-Afrika word as ’n konserwatiewe skatting beskou omdat vele middels in die informele ekonomie verkwansel word. Dit mag dalk nader aan een miljard rand per jaar wees.
Ironies genoeg is L’Oréal se wêreldwye hoofkwartier in Clichy-sous-Bois geleë, dieselfde plek waar die Franse onluste deur swartes en Arabiere in 2005 uitgebreek het.
