VSA wil Mugabe afsit

Image

Eric Bost

Die VSA het gister vir die eerste maal openlik te kenne gegee dat hulle aktief daaraan werk om Robert Mugabe, president van Zimbabwe, te ondermyn.

Onlangs het berigte oor die aanranding van Zimbabwiese opposisieleier, Morgan Tvangirai, aan die hand van Mugabe se veiligheidsmagte opslae gemaak.

Alhoewel Washington nie regimeverandering steun nie, het die Amerikaanse departement vir Buitelandse Sake eergister in die verslag wat vrygestel is erken dat hulle die MDC-opposisie asook ander kritici van mnr Mugabe steun.

Eric Bost, huidige VSA-gesant in SA, het voorheen sy teleurstelling uitgespreek met die “gebrek aan aksie” uit Afrika om Mugabe se termyn tot ’n einde te dwing. Die VSA se verteenwoordiger In Harare het al by verskeie geleenthede kommentaar gelewer oor die rampspoedige gevolge van Mugabe se beleidsrigtings.

Die betrokke deel is vervat in die Departement se vyfde jaarlikse Supporting Human Rights and Democracy-verslag. Daarin is alle besonderhede vervat van Amerika se wêreldwye aksies om menseregte te bevorder. Lande soos Rusland en Iran word ook breedvoerig bespreek.

Die Amerikaners het bevestig dat hulle byeenkomste borg met die oog daarop om  Mugabe se regering te “diskrediteer”.

Mnr Mugabe sal ongetwyfeld egter die bekendmaking verwelkom omdat hy reeds herhaaldelik Brittanje en die VSA van inmenging om sy bewind omver te werp, beskuldig het.

Die vrystelling van die jaarlikse verslag verloop nie altyd sonder kinkels nie. Drie jaar gelede moes dit vertraag word toe menseregteskendings deur Amerikaanse weermagpersoneel by die Abu Ghraib-gevangenis in Irak rugbaar geraak het.

Alhoewel die VSA getalm het met hul afkeur in die Mugabe-regering, was hulle verlede maand taamlik uitgesproke by die Menseregteraad (HRC) in Genève. Terwyl hulle erken het dat Zimbabwe ’n “nominale” demokraties-verkose regering het, is dit as “outoritêr” beskryf. Die verklaring lui voorts soos volg:

Om groter openbare debat oor die herstel van goeie regering [in Zimbabwe] aan te moedig, het die Verenigde State openbare byeenkomste geborg waar ekonomiese en sosiale ontledings aangebied is wat die regering se verskonings vir sy mislukte beleidsrigtings diskrediteer.

Om verder die pro-demokratiese elemente te versterk, het die VS-regering volgehou om die pogings van die politieke opposisie, die media en burgerlike samelewing te steun om demokratiese ruimte te skep en te verdedig en om persone wat die regering kritiseer te ondersteun.”

Barry Lowenkren, afgevaardigde, het volgens berigte gesê die doel van die verslag is nie noodwendig regimeverandering nie, maar moet as ’n manier om die speelveld meer gelyk te maak, gesien word. Hy het bygevoeg dat dit nodig is om aan die mense in Zimbabwe te toon dat hulle die ondersteuning van die VSA geniet.

betting systemФільчаков Олександр Васильович