Mugabe, wat op 83 Afrika se oudste leier is, het ook sy plaaslike teenstanders as “boosdoeners wat hier as sy (Blair) se verteenwoordigers optree” beskryf en wat deel is van ’n veldtog om “Zimbabwe weer ’n kolonie te maak”.
’n Onlangse klopjag teen die opposisie-“Beweging vir Demokratiese Verandering”, wat die inhegtenisname en aanranding van sy leier Morgan Tsvangirai ingesluit het, het tot hernieude kritiek vanuit die Weste gelei wat sanksies op Mugabe en sy onmiddellike kliek toegepas het ná bewerings dat hy die 2002-verkiesing gemanipuleer het.
Die Suid-Afrikaanse president, Thabo Mbeki, is deur sy mede-staatshoofde in die streek gevra om as tussenganger tussen die heersende ZANU-PF-party en die MDC op te tree te midde van vrese oor die gevolge van die ekonomiese krisis in Zimbabwe waar 80 persent van mense sonder werk is en inflasie uithaal om 2000 persent te bereik.
Die ekonoom in Harare, Victor Zirebgwa, meen dat min mense waarskynlik gaan feesvier in die lig van die enorme probleme waaronder hulle tans gebuk gaan.
“Wat is daar om te vier? Mense kry swaar vanweë die ekonomiese en politieke krisis,” sê hy.“Ons hoop net vir ’n wonderwerk om te gebeur, maar ons weet nie wanneer dit gaan kom nie.”
Maar die Hoofsweep van die regering, Rugare Gumbo, meen onafhanklikheidsdag behoort steeds ’n bron van trots te wees en behoort ’n geleentheid te bied om die dae van slegs blankes-regering onder die bewind van die toentertydse eerste minister Ian Smith in herinnering te roep.
“Ons is nou baas in ons eie land. Dis jammer dat mense onafhanklikheidsdag verpolitiseer,” het Gumbo aan AFP gesê. “Nou het ons bewegingsvryheid, godsdiensvryheid, vryheid om te assosieer, onder andere. In die verlede is swartes nie eens toegelaat om in die middestad te loop nie.”
