“Stel u ‘n situasie voor waar ons ‘n ANC-president het wat die meeste van sy tyd in hofsake deurbring,” het ‘n Cosatu-amptenaar vandeesweek gesê.
Volgens Cosatu-leiers het dié houding na vore gekom vanweë “ernstige oorweging dat Zuma op aanklagte van korrupsie verhoor mag word teen Desember as die ANC se nasionale konferensie in Pietersburg, Limpopo, plaasvind.
Cosatu se Sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, is meegedeel dat “die werkers” nooit ‘n formele besluit geneem het om Zuma vir die ANC-presidentskap te ondersteun nie, maar hom eerder gesteun het teenoor die oënskynlike misbruik van staatsmag.
In die onlangse maande het die Nasionale Vervolgingsgesag sy voorneme om voort te gaan met ‘n klag van korrupsie teen Zuma duidelik gemaak deur in howe aansoek te doen om toegang tot dokument wat Zuma by korrupsie mag betrek.
Volgens senior Cosatu-amptenare het Vavi aan die dagbestuur verklaar dat hy nooit gesê het dat Zuma die volgende president behoort te wees nie, aldus die Sunday Times.
Vavi het ook verlede week tydens ‘n onderhoud met dieselfde koerant gesê dat Cosatu nie ‘n besluit geneem het oor wie vir die ANC-presidentskap gesteun moet word nie.
In die binnekringe van die vakverbond word gesê dat Vavi, wat twee jaar gelede beweer het dat ‘n Zuma-presidentskap ‘n “onkeerbare tsoenami” was, se ommekeer voortspruit uit die dagbestuursvergadering.
Dit verteenwoordig ‘n slag vir Zuma se presidensiële ambisies want Vavi en ander Cosatu-leiers was tot dusver op die voorpunt van diegene wat sy presidentskap bevorder, tesame met die ANC-jeugliga en die SA Kommunisteparty, meen die koerant.
Volgens Cosatu-leiers het Vavi aan die komitee voorgestel dat die federasie ‘n alternatiewe kandidaat behoort te oorweeg.
Daar is toenemende druk op Cosatu om amptelike steun aan die ANC se sekretaris-generaal, Kgalema Motlanthe, toe te sê.
Cosatu se sekretaris-generaal in Kwazulu-Natal, Zet Luzipho, het gesê dat die federasie nog nie besluit het wie om te steun nie.
Die sentrale komitee is ‘n breër liggaam as die dagbestuur en sluit leiers in die laer range in.
