Bye verlaat Laeveld

Byeboere is bekommerd oor die verdwyning van bye in die Laeveld.

Heuningbye vind Mpumalanga nie meer aantreklik nie. Só is gesê tydens ‘n vergadering verlede week by die Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse (ITSG).

Belangrike rolspelers het, volgens die vergadering-leier, mnr. Fred Bence, op 23 April die toestand van heuningbye onder die loep geneem. Bence is ‘n byeboer van Witrivier. Die kundiges wat bekommerd genoeg oor die situasie is om bymekaar te kom sluit rolspelers van natuurbewaring, bos- en landbou (insluitende boere, navorsers, bemarkers, en chemiese kenners) in.

“Die afname in byeswerms in die natuur van Mpumalanga word op 80% geraam teenoor die jaar 2000. Die hoofoorsaak is dat Mpumalanga as ‘n provinsie nie meer aantreklik is vir die heuningbye nie,” verduidelik Bence. Bye se kos bestaan uit nektar, stuifmeel en water en dit is, soos die byeboer dit beskryf, by die nektar waar die probleem lê. In die Laeveld het die natuurlike habitat min bome en onkruid wat nektar gee terwyl stuifmeel meer beskikbaar is.

Bence sê, “Die natuurlike bome wat van nut is vir die bye, blom amper almal in die lente en ook net vir ‘n kort periode.”

‘n Groot uittog van heuningbye uit Mpumalanga vind jaarliks in die tydperk November tot Januarie plaas as gevolg van ‘n skaarste aan kos. “Hierdie is nie ‘n nuwe verskynsel nie, want sedert 1965 is dit die rede hoekom byeboere hul getal byeswerms jaarliks moet aanvul,” deel Bence mee, maar hy sê dat die mate waarmee die byeboere deesdae sukkel om byeswerms te vang uit die natuur, gemeet teenoor die 1980’s en vroeër, dui op ‘n verslegtende toestand in Mpumalanga se biodiversiteit. Mpumalanga se trekswerms kom hoofsaaklik van Tanzanië en Mosambiek. In die verlede het hierdie trekswerms, vergelykbaar met, byvoorbeeld, die trek van wild in Etosha, na Mpumalanga gestroom omrede die tipe bloekombome desjare baie nektar sowel as stuifmeel gegee het, vertel Bence.

Hy meen dat die gwrandisbloekoms se klone en kruisings daaruit wat deesdae geplant word vêr tekortskiet in terme van kos vir die bye. Die gevolg is dat die trekswerms by Mpumalanga verby trek na Noord-Natal waar hul tipe bloekoms baie byeswerms kan onderhou.

“Gemeet teenoor die tydperk voor 1890, waarna bloekoms op groot skaal aangeplant is, is Mpumalanga se biodiversiteit dalk op dieselfde vlak as destyds,” is Bence se mening, maar die verskil in landbou-intensiteit in die gebied word ‘n probleem as bestuiwing nie na wense kan geskied nie.

Hy verduidelik, “Die groot kopseer waarmee Mpumalanga nou sit is dat sedert die 1980’s vrugtebome aangeplant is wat se opbrengs direk verband hou met die mate van bestuiwing. Mpumalanga se ekonomie draai deesdae rondom landbou, bosbou en toerisme en hierdie sektore gaan almal geraak word asook leweransiers van implemente.”

Hierdie is so aangesien daar met die afname in byeswerms ook in georganiseerde landbou in die komende jare ernstige dalings gaan kom in terme van produksie. Sodanig so, volgens Bence, dat makadamiaboere se opbrengs na een ton per hektaar gaan beweeg. “Die gevolge daarvan vir die boere en die arbeidsmag van Mpumalanga gaan katastrofies wees,” voorspel hy.

Om die publiek en veral boere in te lig oor wat op 23 April bespreek is, word ‘n lesing deur Fred Bence op Saterdag, 11 Mei in die botaniese tuin, Nelspruit gehou. Veral denkers met voorstelle word genooi om van hierdie geleentheid gebruik te maak om te kyk of Mpumalanga sy biodiversiteit kan verbeter. Die lesing word gehou in die Marula-lokaal vanaf 09:00 en die toegangsfooi is R30 per persoon.

Navrae: Lounita van die botaniese tuin by 082-813-5834. Bespreek jou plek vroegtydig.

Tien jaar vir R100

‘n 21-jarige van Mdantsane is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy buurman verlede jaar van R100 beroof het, het die polisie Maandag gesê.

Lt. Nkosikho Mzuku het gesê Yamkela Tshoyi is Vrydag in die Mdantsane-landdroshof gevonnis.

In Mei 2012 was Tshoyi se buurman op pad na ‘n winkel toe hy hom beroof en met ‘n mes gedreig het.

“Yamkela het die geld gevat en daarmee weggehardloop,” het Mzuku gesê.

Mzuku het gesê dit was nie maklik om die landdros te oortuig nie, maar Tshoyi is skuldig bevind.

Denel naarstiglik op soek na breinkrag

Die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel probeer sy bes om belowende studente en gegradueerdes te lok om ‘n loopbaan in die verdediging- of veiligheidsektor te oorweeg, het dié maatskappy se hoof van menslike hulpbronne gesê.

“Ons wil ‘n dinamiese omgewing skep waar die beste en slimste studente kies om loopbane in verdediging en veiligheidsverwante sektore soos lugvaart, ruimtevaart, en hoë-tegnologie-vervaardiging na te jaag,” het Natasha Davies, waarnemende hoof vir menslike hulpbronne en transformasie by Denel, gesê.

Davies het gesê tegmologie wat deur die maatskappy ontwikkel word, word toenemend gebruik om probleme soos renosterstropery, dwelmhandel en grensbeheer die hoof te bied. Navorsing oor alternatiewe bronne van energie trek ook baie aandag.

Met “geweldige mededinging” vir ingenieurs- en tegniese studente, lê dié maatskappy die klem op loopbane in nuwe tegniese gebiede, sowel as navorsing en ontwikkeling.

Die maatskappy het in die laaste finansiële jaar R752 miljoen bestee op navorsing en ontwikkeling.

“Die uitdaging is om vaardighede en kennis in ons bestaande arbeidsmag te behou, en om dit aan te vul met die entoesiasme en energie van jong ingenieurs wat die maatskappy binnekom,” het sy gesê.

Staatsveiligheid tjoepstil oor Guptas

Die departement van Staatsveiligheid bewaar die stilswye oor sy rol in die omstrede voorval waarin ‘n private vliegtuig van die invloedryke Gupta-familie verlede week op die Waterkloof Lugmagbasis geland het.

Die departement het bevestig dat sy direkteur-generaal deel is van die taakspan wat die omstandighede rakende die ongemagtigde landing van die vliegtuig op ‘n nasionale sleutelpunt ondersoek.

Die woordvoerder van die departement van Staatsveiligheid het geweier om te sê of die departement voor Dinsdag van die beplande landing bewus was.

Intussen sê die Tshwane Metropolisie hy is verbaas om te hoor dat nege van sy beamptes na bewering deel uitgemaak het van ‘n sekerheidskontingent wat die bruilofsgaste van die Guptas na Sun City begelei het.

Sommige van die beamptes onder verdenking het blykbaar dieselfde dag siekteverlof geneem. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle privaat voertuie gebruik het en dit onwettig met blou polisieligte, sirenes en vals nommerplate toegerus het.

Jeug steun busstakers

Suid-Afrika se jeug steun stakings deur bus-, taxi- en treinbestuurders, het ‘n nuwe meningspeiling getoon.

Minstens 75% meen dis reg as busbestuurders staak, 68% voel dieselfde oor treindrywers en 63% ondersteun taxi-bestuurders se reg om te staak.

Pondering Panda se selfoonopname van 2 146 mense tussen die ouderdom van 18 en 34 het dié menings gewys.

Volgens die uitslae steun jong swartes en bruines die stakings veral; met bykans 79% swartes en 77% bruines wat voel busbestuurders het die reg om te staak.

Slegs 64% Indiërs en 40% wittes het so gevoel.

Wittes was die enigste rasgroep wat meer geneig is om te dink dat stakings deur besbestuurders onwettig moet wees. Minstens 46% van hulle het so gevoel.

Shirley Wakefield, woordvoerder van Pondering Panda, sê jong mense het die stakings “oorweldigend” steun.

“Hierdie getalle wys dat jong Suid-Afrikaners ‘n mate van solidariteit en simpatie met die stakende bestuurders deel.”

Sy sê dis vreemd dat die jeug só voel, aangesien baie jong mense elke dag openbare vervoer gebruik.

Taxi-baas se dogter word DA-jeugleier

Mbali Ntuli, nuutverkose jeugleier van die DA, sê dié opposisieparty moet meer “skop” hê.

“Ons moet harde kwessies soos dagga, dwelms en alternatiewe behuising bespreek…”

City Press berig sy is die naweek by ‘n konferensie in Newtown, Johannesburg, verkies.

Ntuli (25) was eers die afdeling se voorsitter. Sy was ook ‘n raadslid in die eThekwini-metro.

Volgens die koerant besit die nuutverkose leier ‘n maatskappy wat geleenthede reël. Sy is ook ‘n taxi-baas.

Luidens die berig besit sy twee taxi’s wat sy by haar pa – Big Ben Ntuli – geërf het. Hy was een van die grootste taxi-base in die gebied.

“Big Ben” is vir sy sakebelange vermoor toe sy dogter agt jaar oud was.

Zim-boere het te laat wakkergeskrik sê CFU

Charles Taffs, president van die Commercial Farmers’ Union (CFU) van Zimbabwe het Vrydag by ‘n TLU-konferensie se noord-tak gesê Suid-Afrikaanse boere moet leer uit die foute van die boere in Zimbabwe, het Beeld berig.

In die laat 1990’s het Zimbabwiese wit boere nie die tekens raakgesien dat die regering van pres. Mugabe besig was met planne om hul grond te gryp nie.

Taffs het volgens die koerant gesê Suid-Afrikaanse landbou sal moet saamstaan.

“Ons in Zimbabwe was nie verenig nie en ons regering het dit uitgebuit,” het hy gesê.

“Dit is ook belangrik dat met die amptelike strukture op plaaslike vlak saamwerk word en boere moet betrokke raak. Ons het dit te laat besef. Toe ons weer sien, het die regering dié strukture afgebreek en oorgeneem,” het Taffs gesê.

“Dit is ook belangrik dat julle jul saak by die regering stel. Praat met álmal in die regering. Maar moet dit nie met geslote deure doen nie. Doen dit in die openbaar. Dis makliker om die regering verantwoordelik te hou as hy goed in die openbaar gesê het as op geslote vergaderings.

“Hulle boelie jou ook makliker agter toe deure en gee jou baie keer op sulke vergaderings omtrent nie ‘n kans om te praat nie,” het Taffs volgens Beeld gesê.

Hy het verder gewaarsku dat boere nie by politiek betrokke moet raak nie.

Shoprite in PE se dak gee mee

‘n Groot gedeelte van ‘n Shoprite Checkers se dak het in Port Elizabeth inmekaargesak, het die SABC berig.

Stanley Jarvis, ‘n polisiewoordvoerder, sê die brandblusstelsel het vroegoggend onklaar geraak, wat veroorsaak het dat ‘n gedeelte (70 m by 20 m) van die dak ingegee het as gevolg van die water se gewig.

Niemand is beseer nie, omdat die winkel ten tyde van die voorval toe was.

Die voorval het by die Greenacres Inkopiesentrum plaasgevind.

Zambiese Brit moet ‘verduidelik’ oor anti-Suid-Afrikaanse opmerkings

Guy ScottDie Zambiese owerheid gaan blykbaar sy blanke visepresident, Guy Scott, vra of die opmerkings wat hy oor Suid-Afrika en president Jacob Zuma gemaak het, “juis” oorgedra is.

Die SAUK het gister berig dat Zambië se ambassadeur (hoë kommissaris in die Statebond se terminologie) in Suid-Afrika, Muyebe Chikonde, Vrydag deur die departement van internasionale verhoudinge in Pretoria ontbied is om Scott se aanmerkings te verduidelik.

Chikonde sê dat die kommentaar nie die amptelike siening van Suid-Afrika weerspieël nie, het die uitsaaier berig.

Zambië het Suid-Afrika van noue bande verseker en het gesê dat die land Scott, wanneer hy van vakansie af terugkeer, gaan vra of die opmerkings wat aan hom toegskryf word, juis oorgedra is.

Donderdag het Suid-Afrika ‘n verduideliking van Zambië geëis ná berig wat in die Britse Guardian-koerant deur sy Johannesburgse korrespondent, David Smith, gepubliseer is.

Scott het gesê dat Zuma soos die voormalige NP-leier FW de Klerk is. “Hy [Zuma] is baie soos De Klerk. Hy sê vir ons: ‘Los Zimbabwe vir my.’ Verskoon my, wie het julle in elk geval bevry, was dit nie ons nie? Ek bedoel, ek hou nogal van hom, hy lyk na ‘n baie joviale karakter, maar ek beny hom nie sy raadgewers nie,” het Scott gesê.

Hierna het Scott teen Suid-Afrikaners uitgevaar, asook swartes.

“Die Suid-Afrikaners is baie agterlik, wat hulle historiese ontwikkeling betref… Ek haat Suid-Afrikaners… hulle dink regtig hulle is ontsettend belangrik en eintlik is hulle die oorsaak van soveel probleme in dié wêrelddeel,” is hy aangehaal

“Ek vermoed die swartes modelleer hulself op die blankes, noudat hulle aan die mag is.”

Regering skarrel om Gupta-oorteders vas te vat

Alle betrokkenes wat verantwoordelik was vir die Guptas se landing by die Waterkloof-lugmagbasis sal gestraf word, het Jeff Radebe, die minister van Justisie, Vrydag gesê.

Diegene wat verantwoordelik was om die land ‘n “slegte naam te gee,” sal verantwoordbaar gehou word, “wie ook al hulle is, ten spyte van watter posisies hulle beklee,” het Radebe aan joernaliste in Pretoria en Kaapstad gesê.

Verskeie skorsings en inhegtenisnames is Vrydag bekendgemaak.

Die volgende beamptes is hangende ondersoeke geskors: die hoof van staatsprotokol, ambassadeur Bruce Koloane; brig.genl. L. Lombard van die Suid-Afrikaanse Lugmag se bevelspos; brig.genl. TS Madumane van die Suid-Afrikaanse Lugmag se bevelsbasis; lt.kol. C. Anderson van die bewegingsbeheerkantoor; en genl.maj. Phumza Gela van die SAPD se operasionele reaksie-eenheid.

Twee lede van die metropolisie en ‘n polisiereservis is ook in hegtenis geneem omdat hulle vir ‘n sekuriteitsmaatskappy gewerk het wat begeleiding aan die Guptas se trougaste van die basis tot by Sun City in die Noordwes voorsien het.

‘n Private sekerheidsmaatskappy, wat onwettig voertuie met blou ligte en vals nommerplate gebruik het, was ook betrokke. Ministers kon by die mediakonferensie op vrae oor dié voertuie nie nadere besonderhede verskaf nie, en het gevra vir geduld tot die ondersoek afgehandel is.

“Die gebruik van ‘n gemerkte voertuig van die SAPD word nog ondersoek,” het Radebe gesê.

‘n Voorlopige ondersoek is gedoen, maar ‘n volledige ondersoek is onderweg.

‘n Komitee van direkteurs-generaal sal binne sewe dae terug rapporteer aan die kabinet rakende die ondersoek.

Die Guptas se gehuurde straler is Donderdag van die Waterkloof-lugmagbasis verwyder en die weermag het gesê die vliegtuig is na die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg geneem.

“Die regering wil die Suid-Afrikaanse publiek verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om sekerheidsprotokol te versterk en om te verseker dat dit gehoorsaam word,” het Radebe gesê.