Denel naarstiglik op soek na breinkrag

Die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel probeer sy bes om belowende studente en gegradueerdes te lok om ‘n loopbaan in die verdediging- of veiligheidsektor te oorweeg, het dié maatskappy se hoof van menslike hulpbronne gesê.

“Ons wil ‘n dinamiese omgewing skep waar die beste en slimste studente kies om loopbane in verdediging en veiligheidsverwante sektore soos lugvaart, ruimtevaart, en hoë-tegnologie-vervaardiging na te jaag,” het Natasha Davies, waarnemende hoof vir menslike hulpbronne en transformasie by Denel, gesê.

Davies het gesê tegmologie wat deur die maatskappy ontwikkel word, word toenemend gebruik om probleme soos renosterstropery, dwelmhandel en grensbeheer die hoof te bied. Navorsing oor alternatiewe bronne van energie trek ook baie aandag.

Met “geweldige mededinging” vir ingenieurs- en tegniese studente, lê dié maatskappy die klem op loopbane in nuwe tegniese gebiede, sowel as navorsing en ontwikkeling.

Die maatskappy het in die laaste finansiële jaar R752 miljoen bestee op navorsing en ontwikkeling.

“Die uitdaging is om vaardighede en kennis in ons bestaande arbeidsmag te behou, en om dit aan te vul met die entoesiasme en energie van jong ingenieurs wat die maatskappy binnekom,” het sy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae