Regering skarrel om Gupta-oorteders vas te vat

Alle betrokkenes wat verantwoordelik was vir die Guptas se landing by die Waterkloof-lugmagbasis sal gestraf word, het Jeff Radebe, die minister van Justisie, Vrydag gesê.

Diegene wat verantwoordelik was om die land ‘n “slegte naam te gee,” sal verantwoordbaar gehou word, “wie ook al hulle is, ten spyte van watter posisies hulle beklee,” het Radebe aan joernaliste in Pretoria en Kaapstad gesê.

Verskeie skorsings en inhegtenisnames is Vrydag bekendgemaak.

Die volgende beamptes is hangende ondersoeke geskors: die hoof van staatsprotokol, ambassadeur Bruce Koloane; brig.genl. L. Lombard van die Suid-Afrikaanse Lugmag se bevelspos; brig.genl. TS Madumane van die Suid-Afrikaanse Lugmag se bevelsbasis; lt.kol. C. Anderson van die bewegingsbeheerkantoor; en genl.maj. Phumza Gela van die SAPD se operasionele reaksie-eenheid.

Twee lede van die metropolisie en ‘n polisiereservis is ook in hegtenis geneem omdat hulle vir ‘n sekuriteitsmaatskappy gewerk het wat begeleiding aan die Guptas se trougaste van die basis tot by Sun City in die Noordwes voorsien het.

‘n Private sekerheidsmaatskappy, wat onwettig voertuie met blou ligte en vals nommerplate gebruik het, was ook betrokke. Ministers kon by die mediakonferensie op vrae oor dié voertuie nie nadere besonderhede verskaf nie, en het gevra vir geduld tot die ondersoek afgehandel is.

“Die gebruik van ‘n gemerkte voertuig van die SAPD word nog ondersoek,” het Radebe gesê.

‘n Voorlopige ondersoek is gedoen, maar ‘n volledige ondersoek is onderweg.

‘n Komitee van direkteurs-generaal sal binne sewe dae terug rapporteer aan die kabinet rakende die ondersoek.

Die Guptas se gehuurde straler is Donderdag van die Waterkloof-lugmagbasis verwyder en die weermag het gesê die vliegtuig is na die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg geneem.

“Die regering wil die Suid-Afrikaanse publiek verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om sekerheidsprotokol te versterk en om te verseker dat dit gehoorsaam word,” het Radebe gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae