Twee mans is in Johannesburg in hegtenis geneem in verband met die moord op die boer Jannie du Plessis, wat op sy plaas Gretna Green naby Villiers in die Vrystaat vermoor is.
Die mans, 29 en 33, is ná ‘n maand lange soektog deur die Valke in Brixton en Alberton in hegtenis geneem, het Beeld berig.
Boere van die distrik en georganiseerde landbou gaan Vrydag, wanneer die twee vir die eerste keer in die hof op Villiers verskyn, byeenkom om te betoog teen plaasmoorde en borgtog vir plaasmoordenaars.
Volgens die polisie gaan die twee verskyn op aanklagte van moord, gewapende roof, verkragting en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.
Du Plessis is op 6 Januarie in die maag geskiet in ‘n aanval op sy plaas Gretna Green. Hy en sy vrou, Stinnie (59), is sowat agt uur lank in hul kluis toegesluit voordat hulle bevry is.
