Suid-Afrika het op ‘n verduideliking van Zambië aangedring ná opmerkings wat sy vise-president Guy Scott na bewering gemaak oor Suid-Afrika. Scott, wit en Brits, is ‘n bewonderaar van Margaret Thatcher en het haar begrafnis onlangs bygewoon.
Hy het aan The Guardian koerant in die Verenigde Koninkryk gesê Zuma is soos die voormalige apartheidsleier FW de Klerk, en Suid-Afrikaners is “agterlik”.
Scott het gesê: “Hy is (Zuma) is baie soos De Klerk. Hy sê vir ons: “jy los net Zimbabwe vir my.” Verskoon my, wie die hel het jou bevry in elk geval, was dit nie vir ons nie? Ek bedoel, ek hou van hom, dit lyk of hy ‘n gemoedelike karakter is, maar ek kry sy adviseurs jammer.”
Scott het daarna oor Suid-Afrikaners, en swartes aangegaan.
“Die Suid-Afrikaners is baie agterlik in terme van historiese ontwikkeling … Ek haat Suid-Afrikaners … hulle dink regtig hulle is wonderlik en eintlik is hulle die oorsaak van soveel moeilikheid in hierdie deel van die wêreld,” het Scott aan die koerant gesê.
“Ek het ‘n vermoede die swartes modeleer hulself op die blankes nou dat hulle in die mag is.”
Hy het gesê hy hou nie van Suid-Afrika nie, want dit is te groot en “onsubtiel”.
Scott het opgemerk dat Suid-Afrika meer as 80 stamme en verskeie groot taalgroepe het.
