Staatsveiligheid tjoepstil oor Guptas

Die departement van Staatsveiligheid bewaar die stilswye oor sy rol in die omstrede voorval waarin ‘n private vliegtuig van die invloedryke Gupta-familie verlede week op die Waterkloof Lugmagbasis geland het.

Die departement het bevestig dat sy direkteur-generaal deel is van die taakspan wat die omstandighede rakende die ongemagtigde landing van die vliegtuig op ‘n nasionale sleutelpunt ondersoek.

Die woordvoerder van die departement van Staatsveiligheid het geweier om te sê of die departement voor Dinsdag van die beplande landing bewus was.

Intussen sê die Tshwane Metropolisie hy is verbaas om te hoor dat nege van sy beamptes na bewering deel uitgemaak het van ‘n sekerheidskontingent wat die bruilofsgaste van die Guptas na Sun City begelei het.

Sommige van die beamptes onder verdenking het blykbaar dieselfde dag siekteverlof geneem. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle privaat voertuie gebruik het en dit onwettig met blou polisieligte, sirenes en vals nommerplate toegerus het.

Maak 'n opvolg-bydrae