Byeboere is bekommerd oor die verdwyning van bye in die Laeveld.
Heuningbye vind Mpumalanga nie meer aantreklik nie. Só is gesê tydens ‘n vergadering verlede week by die Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse (ITSG).
Belangrike rolspelers het, volgens die vergadering-leier, mnr. Fred Bence, op 23 April die toestand van heuningbye onder die loep geneem. Bence is ‘n byeboer van Witrivier. Die kundiges wat bekommerd genoeg oor die situasie is om bymekaar te kom sluit rolspelers van natuurbewaring, bos- en landbou (insluitende boere, navorsers, bemarkers, en chemiese kenners) in.
“Die afname in byeswerms in die natuur van Mpumalanga word op 80% geraam teenoor die jaar 2000. Die hoofoorsaak is dat Mpumalanga as ‘n provinsie nie meer aantreklik is vir die heuningbye nie,” verduidelik Bence. Bye se kos bestaan uit nektar, stuifmeel en water en dit is, soos die byeboer dit beskryf, by die nektar waar die probleem lê. In die Laeveld het die natuurlike habitat min bome en onkruid wat nektar gee terwyl stuifmeel meer beskikbaar is.
Bence sê, “Die natuurlike bome wat van nut is vir die bye, blom amper almal in die lente en ook net vir ‘n kort periode.”
‘n Groot uittog van heuningbye uit Mpumalanga vind jaarliks in die tydperk November tot Januarie plaas as gevolg van ‘n skaarste aan kos. “Hierdie is nie ‘n nuwe verskynsel nie, want sedert 1965 is dit die rede hoekom byeboere hul getal byeswerms jaarliks moet aanvul,” deel Bence mee, maar hy sê dat die mate waarmee die byeboere deesdae sukkel om byeswerms te vang uit die natuur, gemeet teenoor die 1980’s en vroeër, dui op ‘n verslegtende toestand in Mpumalanga se biodiversiteit. Mpumalanga se trekswerms kom hoofsaaklik van Tanzanië en Mosambiek. In die verlede het hierdie trekswerms, vergelykbaar met, byvoorbeeld, die trek van wild in Etosha, na Mpumalanga gestroom omrede die tipe bloekombome desjare baie nektar sowel as stuifmeel gegee het, vertel Bence.
Hy meen dat die gwrandisbloekoms se klone en kruisings daaruit wat deesdae geplant word vêr tekortskiet in terme van kos vir die bye. Die gevolg is dat die trekswerms by Mpumalanga verby trek na Noord-Natal waar hul tipe bloekoms baie byeswerms kan onderhou.
“Gemeet teenoor die tydperk voor 1890, waarna bloekoms op groot skaal aangeplant is, is Mpumalanga se biodiversiteit dalk op dieselfde vlak as destyds,” is Bence se mening, maar die verskil in landbou-intensiteit in die gebied word ‘n probleem as bestuiwing nie na wense kan geskied nie.
Hy verduidelik, “Die groot kopseer waarmee Mpumalanga nou sit is dat sedert die 1980’s vrugtebome aangeplant is wat se opbrengs direk verband hou met die mate van bestuiwing. Mpumalanga se ekonomie draai deesdae rondom landbou, bosbou en toerisme en hierdie sektore gaan almal geraak word asook leweransiers van implemente.”
Hierdie is so aangesien daar met die afname in byeswerms ook in georganiseerde landbou in die komende jare ernstige dalings gaan kom in terme van produksie. Sodanig so, volgens Bence, dat makadamiaboere se opbrengs na een ton per hektaar gaan beweeg. “Die gevolge daarvan vir die boere en die arbeidsmag van Mpumalanga gaan katastrofies wees,” voorspel hy.
Om die publiek en veral boere in te lig oor wat op 23 April bespreek is, word ‘n lesing deur Fred Bence op Saterdag, 11 Mei in die botaniese tuin, Nelspruit gehou. Veral denkers met voorstelle word genooi om van hierdie geleentheid gebruik te maak om te kyk of Mpumalanga sy biodiversiteit kan verbeter. Die lesing word gehou in die Marula-lokaal vanaf 09:00 en die toegangsfooi is R30 per persoon.
Navrae: Lounita van die botaniese tuin by 082-813-5834. Bespreek jou plek vroegtydig.
