Meisie kort voor 21ste geskiet vir selfoon

Die twintigjarige meisie van Centurion, wat voor haar suster doodgeskiet is vir ‘n selfoon, sou verlede week haar 21ste verjaarsdag gevier het.

Nadine Prinsloo wat verlede week vermoor is, sou Saterdag wat verby is, haar 21ste verjaarsdag vier, het haar gesin gesê.

Nadine is deur twee gewapende rowers in haar kop geskiet nadat sy, haar suster Simone (22), en ʼn vriend by die Pretoria-Wes afrit op die N14-snelweg stilgehou het om telefonies aanwysings by hul pa te bekom.

Twee rowers het op hulle afgestorm en selfone geeis. Voordat dié drie enige iets kon doen, het die rowers skote op hulle afgevuur. Nadine is in haar kop en sy getref. Een van die koeëls het Simone op haar vinger getref, het die dogters se ma, Karin Prinsloo vertel.

Simone het direk na die Unitas-hospitaal gejaag, maar Nadine was met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

“Ons is nog nie seker wat ons op Nadine se verjaarsdag gaan doen nie. Vriende en familie gaan oorkom vir die dag,” het ‘n steeds getraumatiseerde Karin aan Looklocal gesê.

Nadine is Maandag begrawe.

Maak 'n opvolg-bydrae