Regering sal SAR-dodetal ondersoek ná Franse berigte

Die regering sal internasionale berigte ondersoek wat die dodetal ná ‘n aanval op Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) in twyfel trek, het die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, Donderdag gesê.

Volgens ‘n Franse nuusagentskap beweer rebelle dat die aantal Suid-Afrikaanse soldate wat in die stryd van Bangui dood is, tussen 36 en 50 is.

Die Suid-Afrikaanse regering sê die dodetal is 13.

Nkoane-Mashabane het gesê amptelike dokumente toon dat die situasie in die SAR chaoties is.

“Wat ek kan sê is dit wat deur verteenwoordigers van die Verenigde Nasies en Afrika-unie bevestig word – dat daar in ‘n staatsgreep-situasie chaos, lewensverlies en ander onvoorsiene omstandighede is.”

“Ons sal die feite nagaan en terug rapporteer indien dit nodig is,” het Nkoana-Mashabane gesê.

Pres. Jacob Zuma het Woensdag by die Eccas-beraad in N’Djamena, Tsjad, aangekondig dat Suid-Afrikaanse soldate uit die SAR onttrek sal word.

Afrika-leiers by dié beraad het besluit om nie die SAR se selfaangestelde president, Michel Djotodia, as die land se leier te erken nie.

Waar was SA se militêre intel?

Die erkenning van die minister van verdediging, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, dat die nasionale weermag nie voorbereid was en nie verwag het dat die rebelle hulle sou aanval in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) nie, bevestig dat die regering die weermag in die steek gelaat het.

Hierdeur erken die minister dat daar nie genoegsame ondersteuning was nie en in besonder nie voldoende inligtingsondersteuning vir die troepe in die SAR nie.

Ernstige vrae moet nou gevra word aangaande die bevoegdheid van Militêre Inligting (MI) wat nie inligting kon verskaf om die situasie te voorkom nie.

Een daarvan is hoe dit gebeur het dat die minister en pres. Jacob Zuma verkeerdelik ingelig is voordat besluit is om troepe na die SAR te stuur.

Die inligting was duidelik nie akkuraat nie en daarvoor behoort MI die verantwoordelikheid te neem.

Daar behoort nou ‘n ondersoek gedoen te word oor hoekom MI in hierdie geval gefaal het en nie sy plig na behore uitgevoer het nie.

Kony-losprys aangekondig vir SAR

Die Australiese koerant Herald Sun berig dat enige iemand met inligting oor Joseph Kony en twee van sy luitenante – Dominic Ongwen en Okot Odhiambo – sowel as Sylvestre Mudacumura, die leier van die Demokratiese Magte vir die Bevryding van Rwanda, ‘n beloning van $5 miljoen van die VSA kan opeis.

Die verklaring kom ‘n dag nadat Afrika-troepe in die SAR die soektog na Kony afgelas het.

Die US State Department bied die geld aan kragtens ‘n bepaling van die Rewards Program.

Die voorsiening is uitgebrei nadat dit voorheen slegs oorlogsmisdade soos erken deur internasionale straftribunale vir Rwanda en die voormalige Jugoslavië ingesluit het.

Nou dek dit ook daardie misdadigers in die Internasionale Strafhof en ander internasionale tribunale, soos in die vooruitsig gestel vir die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Sirië.

Baie kort na die bogenoemde aankondiging, het Afrika-troepe in die Sentraal-Afrikaanse Republiek skielik die soektog na Kony en sy Lord’s Resistance Army-rebelle afgelas.

‘n Gebrek aan samewerking deur die nuwe SAR-leierskap, onder leiding van die voormalige rebelleleier Michel Djotodia, is as die rede aangevoer.

Die afgesette president Bozizé was ‘n sterk voorstander teen Kony in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Die VSA en die Afrika-Unie het glo twee basisse in die land waaruit bedrywighede teen Kony se rebelle gevoer word.

Bedrywighede teen die 51-jaar-ou veldheer en sy guerrilla’s behels ‘n gewapende mag van ongeveer 5000 mense met ongeveer 3000 van hulle uit Uganda.

Sowat 100 Amerikaanse militêre adviseurs is op die toneel. Daar word verklaar dat hulle die Afrika-Unie se magte ondersteun.

Kony se volgelinge word tans geraam op ongeveer 250 mense. Die grootste deel van hulle is verstrooi in klein groepies wat in die oerwoud wegkruip. Kony word gesoek deur die Internasionale Strafhof vir oorlogsmisdade.

Die aard van die soektog vir Joseph Kony, en die internasionale openbare appèl wat dit ontvang het, bly egter ‘n raaisel.

Dit het alles begin in 2012, toe ‘n aanlynveldtog genaamd Kony 2012, gelei deur die groep, “Invisible children”, so vinnig viraal versprei het dat dit binne ‘n week die hele wêreld iets nuuts geleer oor Uganda en sy probleme.

Maar die ware doelstellings van die veldtog is steeds onduidelik vir baie mense. Die groep het vinnig onder skoot gekom vir hul oënskynlike verwarring van liefdadigheidswerk wat direkte militêre optrede in Uganda bepleit.

Die mees bisarre gebeurtenis egter was die arrestasie van die Christelike filmmaker agter die “Kony 2012”-veldtog, wat vir masturbasie in die openbaar aangekeer is net dae na die sukses van sy veldtog.

Ander vrae is ook geopper. Miskien is die grootste vraag wat oorbly die skielike ontplooiing van Amerikaanse troepe na Uganda, in Oktober 2011, voor die Kony 2012-veldtog op die openbare toneel ontplof het.

President Obama se besluit om te ontplooi is gebou rondom die idee om ontslae te raak van Joseph Kony en sy Lord’s Resistance Army. Maar dit het ook saamgeval met beskuldigings dat Ugandese amptenare omkoopgeld ontvang van internasionale oliemaatskappye.

Met Joseph Kony het Africom dus ‘n steeds sterker vastrapplek op die vasteland verkry.

Die vermoede bly dat Amerikaanse oliebelange in Sentraal-Afrika die onskatbare oliereserwes daar wil beskerm.

Zille stort krokodiltrane oor SAR

Die besluit om Suid-Afrikaanse soldate uit die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) te onttrek, is Donderdag deur die DA verwelkom.

“Dit is veral goeie nuus vir die familie en vriende van soldate wat in die SAR gestasioneer is, wat die laaste week in buitengewone gevaar was, en wat 13 van hulle mense in die stryd verloor het,” het Helen Zille, leier van die party, gesê.

“Die presidensie moet die land binnekort oor die volle besonderhede van die onttrekking inlig.”

Pres. Jacob Zuma het Woensdag die besluit by die Eccas-beraad in N’Djamena, Tsjad, gemaak.

“Pres. Zuma het besluit om die Suid-Afrikaanse magte wat in Bangui ontplooi is, te onttrek,” het Idriss Deby, president van Tsjad, gesê, en bygevoeg dat Zuma steeds bereid was om in die toekoms soldate te voorsien.

Zille het gesê hoewel die onttrekking van die troepe welkome nuus is, moet Zuma steeds verduidelik waarom Suid-Afrikaanse troepe in die SAR ontplooi is.

Die neokoloniale spel in SAR op dreef

Die felheid waarmee opposisielede van COPE en die DA president Zuma se optrede in die Sentraal-Afrikaanse Republiek veroordeel, laat ‘n mens wonder of hulle werklik verstaan wat daar afspeel. Die ander moontlikheid is dat hulle besonder goed ingelig is oor die optrede van ene Jack Grynberg, ‘n Amerikaanse oliemagnaat in die SAR.

Grynberg het onlangs sy aanspraak op oliekonsessies in die land verloor wat hy deur die howe wou herstel. Gerugte wil hê dat die Seleka-rebelle deur Grynberg Petroleum teen president Bozizé befonds is. Daar het skielik oral werwingsentra in die land oopgemaak wat rekrute R1000 belowe om hul “patriotiese plig” vir Seleka na te kom.

Die oliemagnaat van Denver is geen vreemdeling by konflik nie. Daar word bespiegel dat Grynberg verantwoordelik was vir die fenomenale opgang wat British Petroleum ná die val van die Sowjet-Unie gemaak het.

Grynberg, ‘n voormalige CIA-agent, het na bewering geologiese data by die Amerikaanse regering oor olievelde in Kazakstan gesteel wat hy aan BP se Lord Browne verkwansel het.

Die Amerikaner het hom egter destyds met Browne misgis, en toe hy skrik vir die bedrae omkoopgeld wat Browne bereid was om te betaal aan Kazakstan se president Nazarbajef, het die twee se verhouding in ‘n bitter twis ontaard.

Van Grynberg se voorneme om die gay Browne se voorliefde vir kinders te ontmasker, of sy belastingontduiking in lande soos Egipte waar hy letterlik miljarde van die staat gesteel het, het dadels gekom aangesien Browne lankal reeds politici kon oorreed dat hy in landsbelang optree, ook in die VSA.

By Woensdag se byeenkoms, was daar eenstemmigheid by die vergadering dat Suid-Afrika uit die SAR moet onttrek, ‘n goeie aanduiding dat Suid-Afrika ten minste Suid-Afrikaanse belange daar verteenwoordig, anders as ‘n paar ander spelers.

Bozizé het glo hulpbronkonsessies aan Suid-Afrika toegestaan in ruil vir beskerming teen neokoloniale aasvoëls. Die Franse was na bewering woedend oor dié ooreenkomste en was ná Woensdag se vergadering sigbaar verlig oor die besluit dat Suid-Afrika sal onttrek.

Idris Déby, die leier van Tsjad, het Woensdag op ‘n perskonferensie ná die leiersbyeenkoms gesê dat hulle die oorname van die rebelleleier, hoofman Michel Djotodia, as president van die SAR verwerp. Djotodia het vroeër aangekondig dat hy vir die volgende drie jaar die “oorgang” sal lei.

Die Communauté économique des Etats d’Afrique centrale (CEEAC) het hul ondersteuning vir ‘n oorgangskandidaat in die SAR uitgespreek wat die land binne 18 maande tot ‘n oorgangsbestel sal lei. ‘n Oorgangsraad is in die vooruitsig gestel, naamlik die Comité national de transition (CNT), waarby die rolspelers van die Libreville-ooreenkoms ook ingesluit is.

“‘n Komitee wat bestaan uit bekende figure in die SAR moet die oorgang lei. Hulle sal uitvoerende magte hê en sal die oorgangspresident kies,” het Déby gesê.

Die ambassadeur van die EU in Bangui, Guy Samzun, het egter sy hoop uitgespreek dat die rebelleleier Djotodia wel as president sal oorneem, wat kan lei tot verdere destabilisering in midde-Afrika. Die VN het egter reeds die mandaat vir ‘n multinasionale ingrypingsmag in die DRK goedgekeur.

Die herstel van ‘n grondwetlike bestel in die SAR in ooreenstemming met die voorskrifte van die Afrika-Unie se veiligheidsraad, is geopper asook die volgehoue betrokkenheid van die Organisation internationale de la francophonie.

Die Suid-Afrikaanse weermag se ontplooiing in die DRK sal op vrede en stabiliteit in die streek gerig wees. Ugandese soldate en vegvliegtuie is ook in die noorde van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) saamgetrek.

‘n Sending bestaande ​​uit ministers van die CEEAC, die Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State, die Afrika-Unie, die EU en die Organisation internationale de la francophonie, sal aanstons oor die toekoms van SAR besluit.

Die rol wat die Amerikaanse oliemagnaat Jack Grynberg in die toekoms van die SAR sal speel, moet egter nie geringgeskat word nie.

ANC-minister is moeg vir apartheid-verskoning

Dit het tyd geword vir die regering om verantwoordelikheid vir sy optrede te aanvaar, het die minister in die presidensie, Trevor Manuel, Woensdag gesê.

“Ons [regering] kan nie meer aanhou sê dis apartheid se skuld nie,” het Manuel aan joernaliste by die regering se leierskapsforum in Pretoria gesê.

“Ons moet elke oggend opstaan en besef dat ons ‘n verantwoordelikheid het. Daar is nie meer ‘n Botha-regime om oor ons skouer te loer nie, ons is vir ons eie dade aanspreeklik.”

Manuel het gesê dat die regering dalk in 1994, 1995 en 1996 nog kon sê “ons het nie die ervaring nie”, maar vandag is daar geen meer verskonings nie.

“Dit is ‘n voorreg om vir vier agtereenvolgende termyne te kon dien en met dié voorreg kom verantwoordelikheid.”

Hy het gewaarsku dat die lyn tussen ‘n staatsamptenaar en ‘n politikus besig is om te verdwyn.

“Staatsamptenare en ons as ministers kom van dieselfde aktiviste-agtergrond, maar ons moet verseker dat selfs al is ons van dieselfde politieke party, politiek nie in die werkplek oorgedra word nie,” het hy gesê.

Manuel het ook gesê dat werkverwante kwessies nie in die politieke spasie opgelos moet word nie.

Boer in plaasaanval gewond

‘n Boer van Vredefort is gewond in ‘n bakleiery met twee gewapende rowers op sy plaas, het die polisie in die Vrystaat Woensdag gesê.

Konst. Peter Kareli het gesê die 61-jarige Andries Cox was by sy vee op die plaas Middelerf toe hy Woensdag omstreeks 03:30 deur twee gewapende mans gedreig is.

Kareli het gesê die mans het geld en wapens van die boer geëis.

By die huis het die mans Cox se vrou, Anna, wakker gemaak en hul eise herhaal.

Die polisie het gesê die boer het aan die mans gesê die items waarna hulle soek is op die tweede verdieping van die huis. Op pad daarheen het ‘n bakleiery tussen die boer en die rowers uitgebreek. Cox is in sy hand en voet geskiet.

Die mans het met geld, juweliersware en selfone gevlug.

Kareli het gesê Cox is na ‘n hospitaal geneem en sy vrou is vir skok behandel.

Nederland onder water

Nederland, Berlyn se belangrikste bondgenoot vir groter begrotingsdissipline in Europa, staar self ‘n ekonomiese krisis in die gesig. Die eens voorbeeldige ekonomie is in skuld gedompel weens ‘n gebarste eiendomsborrel. Baie huiseienaars is “onder water” weens negatiewe eiendomsgroei.

Die ekonomiese nuus uit Nederland klink tans soos dié uit die suidelike lande van die EU.

“Onderwater” is ‘n goeie beskrywing vir die krisis in ‘n land waar groot dele onder seevlak is. Ironies genoeg, worstel Nederland, eens ‘n modelekonomie, nou met die soort eiendomskrisis wat slegs die Verenigde State van Amerika en Spanje tot nou toe geraak het. Banke in Nederland het ook miljarde in lenings in die private en kommersiële eiendomsmark sedert die 1990’s ingepomp, sonder om te verseker dat leners voldoende kapitaal het.

Private huiskopers, byvoorbeeld, kon maklik meer as 100 persent van ‘n eiendom se prys finansier en ‘n lening vir vyf keer ‘n jaarlikse salaris kry sonder ‘n sent ekwiteit. Dit was slegs moontlik omdat die eienaars van eiendomme in staat was om rentekoste ten volle van hul belasting af te trek op verbandlenings.

In plaas van om die lenings af te betaal, het leners die geld in ‘n beleggingsfonds gesit, maand na maand, met die hoop op ‘n wins. Die geld is gebruik om die waarde van ‘n bepaalde eiendom aansienlik te verhoog. Baie Nederlandse spaarders het verwag dat die verkoop van hul verbeterde huise genoeg geld sal genereer om die lenings af te betaal, saam met ‘n gesonde wins.

Meer as ‘n dekade gelede, het die Nederlandse sentrale bank oor die gevare van hierdie euforie gewaarsku, maar sy waarskuwings is verontagsaam. Net verlede jaar het die nuwe regering, onder konserwatiewe-liberale premier Mark Rutte, die vrygewige belasting skuiwergate gewysig. Maar nou is dit amper te laat. Geen land in die euro-sone is so diep in die skuld soos Nederland nie, waar banke ‘n totaal van sowat € 650 miljard in verbandlenings op hul boeke het.

Verbruikerskuld staan op sowat 250 persent van beskikbare inkomste. In vergelyking, in 2011 het selfs die Spanjaarde slegs ‘n skuldverhouding van 125 persent bereik.

Nederland is nog steeds een van die mees mededingende lande in die Europese Unie, maar nou, met die eiendomsborrel wat gebars het, dreig dit om die hele ekonomie te sink. Werkloosheid is aan die toeneem, verbruik en groei het tot ‘n stilstand gekom. Ten spyte van taai soberheidsmaatreëls, is die regering in Den Haag in stryd met die EU-maatstaf hierdie jaar, wat nuwe lenings van meer as 3 persent van die bruto binnelandse produk (BBP) verbied.

Dit is ‘n swaar las, veral vir die Nederlandse minister van Finansies Jeroen Dijsselbloem, wat ook die nuwe hoof van die Euro-Groep is, en nou homself in die onverwagse rol van beide ‘n waghond vir die monetêre unie en ‘n krisiskandidaat bevind.

Die amptelike werkloosheidskoers het reeds geklim tot 7,7 persent. In werklikheid, is dit waarskynlik veel hoër, maar dit is tot nou toe weggesteek deur ‘n demografiese groep genaamd die ZZP. Die “zelfstandigen sonder personeel” (“Eie Onderneming sonder werknemers”) soos die Duitse model van die “Ich-AG” (“my, Inc”). Ongeveer 800,000 ZZP’ers werk tans in Nederland.

Vir maatskappye is dit die moeite werd om hulle permanente werknemers te laat gaan en hulle dan op tydelike kontrakte aan te stel. Dit spaar hulle die koste van sosiale uitkerings.

Daar is moordende mededinging tussen die selfstandiges, wat pryse laer dwing.

Die Nederlanders was lank onder Europa se mees ywerige spaarders, en in die krisis is een van die grootste probleme dat verbruik daal, sê Johannes Hers van die Centraal Planbureau in Den Haag, die raad van kundiges in die Ekonomie Ministerie.

Sy amp verwag ‘n daling van 0,5% in groei vir 2013. Sowat 755 maatskappye het bankrotskap in Februarie verklaar, die grootste aantal sedert rekords begin het in 1981. Die banksektor sal van duisende werknemers ontslae moet raak.

As gevolg van die baie verbandlenings op die boeke, is die finansiële sektor uiters opgeblaas, soveel so dat die totale bates van alle banke vier-en-‘n-half keer die grootte van die ekonomiese uitset is.

SANW omsingel SAR in afwagting op samesprekinge in Tsjad

Suid-Afrika het nog versterkings en wapens noord geskuif na die grense van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), het Beeld berig.

Vegvliegtuie en gevegshelikopters is ook in die SAR se buurstate ontplooi.

Militêre bronne het egter gesê verslae dat Suid-Afrikaanse troepe in Uganda en die Demokratiese Republiek van die Kongo saamtrek, is nie geloofwaardig nie.

“Daar is geen bedreiging van buite, hetsy van [afgesette president] Bozizé of van Suid-Afrika nie,” sê ‘n senior militêre bron. “Die enigste bedreiging wat ons in die gesig staar is van die Seleka rebelle self. Hul leiers is nie in staat om hulle te beheer nie,” het een bron aan timeslive.co.za gesê.

‘n Franse soldaat by die lughawe in die hoofstad Bangui het gesê hy het drie Suid-Afrikaanse Hercules-vragvliegtuie gesien land en opstyg Maandag, en een Woensdag.

By die presidensiële paleis in die hoofstad het dokumente, sommige “vertroulik” gemerk, op die vloer in die geplunderde kantore van senior kabinetsamptenare rondgestrooi gelê.

Die dokumente sluit in besonderhede van ‘n Switserse bankrekening, verslae van Bozizé se militêre bevelvoerders van die rebelle se bewegings, en aanbevelings vir die bevordering van militêre offisiere.

Die rebelle het intussen werwingsentrums oopgemaak om werklose jeugdiges, insluitend vroue, te kry om aan te sluit en hulle belowe ongeveer R1000 per maand.

“Om ‘n soldaat te wees, ons land te beskerm, sal ons taak wees,” sê 17-jaar-oue Basangi Bienvenu.

Samesprekings word vandag in Tsjad gehou by ‘n buitengewone vergadering van die Ekonomiese en Monetêre Gemeenskap van Sentraal-Afrika ­(Cemac), onder voorsitterskap van pres. Idriss Déby van Tsjad.

Pres. Jacob Zuma sal die vergadering bywoon waar verdere militêre optrede in die SAR bespreek sal word.

Hoewel die weermag die berigte van ‘n magsopbou ontken, het Gripen-vegvliegtuie Woensdag opgestyg, vermoedelik na Entebbe in Uganda.

Drie gehuurde vragvliegtuie, twee Ilyushin 76’s en ‘n Antonov 124, het reeds vlugte na Entebbe en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) onderneem. Rooivalke en Oryx-helikopters sal glo ontplooi word.

Die magsopbou is deel van ‘n strategie wat die SAR omsingel in afwagting op die uitkoms van vandag se vergadering. Die teenwoodigheid van Suid-Afrikaanse troepe sal ongetwyfeld ook die besluite van die vergadering beïnvloed.

Luidens berigte uit die DRK en Uganda is van die Suid-Afrikaanse wapentuig en soldate onder meer by Gemena in die DRK, sowat 180 km van die SAR-hoofstad, Bangui, saamgetrek.

Verdagtes in rugbymoord steeds nie vas

Die DA sê die polisie moet verduidelik waarom vyf mans wat daarvan verdink word dat hulle verlede naweek ‘n Engelse rugbyondersteuner by Kingspark in Durban doodgeslaan het, nog nie in hegtenis geneem is nie.

‘n Agt-en-twintigjarige Britse oud-seesoldaat, Brett Williams, is op die stadion se buiteveld dood nadat hy geskop en aangerand is ten aanskoue van rugby-ondersteuners.

Die verdagtes wat na bewering aan die polisie bekend is, het inhegtenisneming oor die langnaweek vrygespring deur te onderhandel dat hulle hul vandag sal oorgee.

Die DA LP, Dianne Kohler-Barnard, het dié reëling egter bevraagteken en sê die mans moes reeds agter tralies gewees het.

n Senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, Johan Burger, sê die polisie het die reg om ingevolge die Strafproseswet mense in hegtenis te neem wat van ‘n ernstige oortreding soos moord verdink word.

Hy sê hulle het ook die reg om so ‘n persoon tot sy eerste hofverskyning aan te hou. Die voorwaarde is dat dit binne 48 uur moet gebeur. Indien die 48 uur oor ‘n naweek strek, behoort dit die volgende werksdag ná die naweek te wees.