Suid-Afrika het nog versterkings en wapens noord geskuif na die grense van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), het Beeld berig.
Vegvliegtuie en gevegshelikopters is ook in die SAR se buurstate ontplooi.
Militêre bronne het egter gesê verslae dat Suid-Afrikaanse troepe in Uganda en die Demokratiese Republiek van die Kongo saamtrek, is nie geloofwaardig nie.
“Daar is geen bedreiging van buite, hetsy van [afgesette president] Bozizé of van Suid-Afrika nie,” sê ‘n senior militêre bron. “Die enigste bedreiging wat ons in die gesig staar is van die Seleka rebelle self. Hul leiers is nie in staat om hulle te beheer nie,” het een bron aan timeslive.co.za gesê.
‘n Franse soldaat by die lughawe in die hoofstad Bangui het gesê hy het drie Suid-Afrikaanse Hercules-vragvliegtuie gesien land en opstyg Maandag, en een Woensdag.
By die presidensiële paleis in die hoofstad het dokumente, sommige “vertroulik” gemerk, op die vloer in die geplunderde kantore van senior kabinetsamptenare rondgestrooi gelê.
Die dokumente sluit in besonderhede van ‘n Switserse bankrekening, verslae van Bozizé se militêre bevelvoerders van die rebelle se bewegings, en aanbevelings vir die bevordering van militêre offisiere.
Die rebelle het intussen werwingsentrums oopgemaak om werklose jeugdiges, insluitend vroue, te kry om aan te sluit en hulle belowe ongeveer R1000 per maand.
“Om ‘n soldaat te wees, ons land te beskerm, sal ons taak wees,” sê 17-jaar-oue Basangi Bienvenu.
Samesprekings word vandag in Tsjad gehou by ‘n buitengewone vergadering van die Ekonomiese en Monetêre Gemeenskap van Sentraal-Afrika (Cemac), onder voorsitterskap van pres. Idriss Déby van Tsjad.
Pres. Jacob Zuma sal die vergadering bywoon waar verdere militêre optrede in die SAR bespreek sal word.
Hoewel die weermag die berigte van ‘n magsopbou ontken, het Gripen-vegvliegtuie Woensdag opgestyg, vermoedelik na Entebbe in Uganda.
Drie gehuurde vragvliegtuie, twee Ilyushin 76’s en ‘n Antonov 124, het reeds vlugte na Entebbe en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) onderneem. Rooivalke en Oryx-helikopters sal glo ontplooi word.
Die magsopbou is deel van ‘n strategie wat die SAR omsingel in afwagting op die uitkoms van vandag se vergadering. Die teenwoodigheid van Suid-Afrikaanse troepe sal ongetwyfeld ook die besluite van die vergadering beïnvloed.
Luidens berigte uit die DRK en Uganda is van die Suid-Afrikaanse wapentuig en soldate onder meer by Gemena in die DRK, sowat 180 km van die SAR-hoofstad, Bangui, saamgetrek.
