Verdagtes in rugbymoord steeds nie vas

Die DA sê die polisie moet verduidelik waarom vyf mans wat daarvan verdink word dat hulle verlede naweek ‘n Engelse rugbyondersteuner by Kingspark in Durban doodgeslaan het, nog nie in hegtenis geneem is nie.

‘n Agt-en-twintigjarige Britse oud-seesoldaat, Brett Williams, is op die stadion se buiteveld dood nadat hy geskop en aangerand is ten aanskoue van rugby-ondersteuners.

Die verdagtes wat na bewering aan die polisie bekend is, het inhegtenisneming oor die langnaweek vrygespring deur te onderhandel dat hulle hul vandag sal oorgee.

Die DA LP, Dianne Kohler-Barnard, het dié reëling egter bevraagteken en sê die mans moes reeds agter tralies gewees het.

n Senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, Johan Burger, sê die polisie het die reg om ingevolge die Strafproseswet mense in hegtenis te neem wat van ‘n ernstige oortreding soos moord verdink word.

Hy sê hulle het ook die reg om so ‘n persoon tot sy eerste hofverskyning aan te hou. Die voorwaarde is dat dit binne 48 uur moet gebeur. Indien die 48 uur oor ‘n naweek strek, behoort dit die volgende werksdag ná die naweek te wees.

Maak 'n opvolg-bydrae