Drie van die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle miljoene by ‘n munisipaliteit in Mpumalanga gesteel het, is Dinsdag op borgtog vrygelaat, het die Valke gesê.
Die drie mans het in die Secunda-landdroshof verskyn en is op borgtog van R15 000 elk vrygelaat. Al vier sal weer saam op 21 Mei verskyn, het kapt. Paul Ramaloko gesê.
Charles Mabe, Bonga Sithole en Sikhakhane Sibeko is op 25 Maart in hegtenis geneem.
Die vierde man, Sihle Mabuya, ‘n munisipale IT-tegnikus, is reeds vrygelaat op borgtog van R15 000 ná hy op 26 Maart in die hof verskyn het.
Die groep het na bewering wagwoorde gebruik om toegang tot munisipale rekeninge te verkry, waarna hulle geld na hul persoonlike rekeninge oorgeplaas het.
“Hulle het daarin geslaag om ongeveer R2,6 miljoen elk te onttrek, en was op die punt om nog R39 miljoen te onttrek toe hulle in hegtenis geneem is.”
Hulle het na bewering ‘n toestel op ‘n rekenaar by die Secunda-munisipaliteit gebruik om die finansiële hoof se wagwoorde te bekom. Dis ‘n eenvoudige prosedure om die toestel aan ‘n rekenaar te koppel.
“Die groep het na bewering die wagwoorde gebruik om toegang tot die munisipale rekeninge te verkry om geld na hulle persoonlike rekeninge oor te dra,” het Ramaloko verlede maand gesê.
