Wit mans in Gauteng verdien die meeste in Suid-Afrika, terwyl jong swart vroue in Limpopo die minste verdien, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) Dinsdag gesê.
Volgens inligting wat Statistiek Suid-Afrika en die SAIRR ontleed het, werk wit mans gemiddeld in die gemeenskaps- en maatskaplike dienstebedryf (insluitend die regering), beklee vaardigheidsposte, behoort aan ‘n vakbond en is tussen 55 en 64 jaar oud.
“Gemiddeld is werknemers wat die minste betaal word swart vroue wat in Limpopo woon, in privaat houshoudings werk; hulle behoort nie aan ‘n vakbond nie en is tussen 15 en 24 jaar oud,” het die SAIRR SA se opname bevind.
Die instituut het gesê in 2011 was die mediaan* maandelikse salaris vir swart salaristrekkers R2 380, R3 030 vir bruin salaristrekkers, R6 800 vir Indiërs en R10 000 vir wit salaristrekkers.
Dit beteken die “mediaan maandelikse salaris van wit salaristrekkers is vier keer meer as swart geskoolde salaristrekkers, ses keer meer as ongeskoolde werkers en dié wat aan vakbonde behoort en twee keer meer as dié wat nie aan ‘n vakbond behoort nie”.
“Die grootste en blywende ongelykheid in Suid-Afrika is tussen diegene wat werk het en die werklose mense, het Georgina Alexander, ‘n navorser by die instituut, in ‘n verklaring gesê.
* Vir die studie is die gemiddelde maandelikse salaris van mense in die formele en informele sektor gebruik, en dis opgedeel op verskillende maniere, soos ras, geslag, provinsie en ouderdom. Die mediaan is die vlak wat die relevante segment van die werkersbevolking verdeel, wat beteken die een helfte verdien minder en die ander helfte meer.
