Boer in plaasaanval gewond

‘n Boer van Vredefort is gewond in ‘n bakleiery met twee gewapende rowers op sy plaas, het die polisie in die Vrystaat Woensdag gesê.

Konst. Peter Kareli het gesê die 61-jarige Andries Cox was by sy vee op die plaas Middelerf toe hy Woensdag omstreeks 03:30 deur twee gewapende mans gedreig is.

Kareli het gesê die mans het geld en wapens van die boer geëis.

By die huis het die mans Cox se vrou, Anna, wakker gemaak en hul eise herhaal.

Die polisie het gesê die boer het aan die mans gesê die items waarna hulle soek is op die tweede verdieping van die huis. Op pad daarheen het ‘n bakleiery tussen die boer en die rowers uitgebreek. Cox is in sy hand en voet geskiet.

Die mans het met geld, juweliersware en selfone gevlug.

Kareli het gesê Cox is na ‘n hospitaal geneem en sy vrou is vir skok behandel.

Maak 'n opvolg-bydrae