ANC-minister is moeg vir apartheid-verskoning

Dit het tyd geword vir die regering om verantwoordelikheid vir sy optrede te aanvaar, het die minister in die presidensie, Trevor Manuel, Woensdag gesê.

“Ons [regering] kan nie meer aanhou sê dis apartheid se skuld nie,” het Manuel aan joernaliste by die regering se leierskapsforum in Pretoria gesê.

“Ons moet elke oggend opstaan en besef dat ons ‘n verantwoordelikheid het. Daar is nie meer ‘n Botha-regime om oor ons skouer te loer nie, ons is vir ons eie dade aanspreeklik.”

Manuel het gesê dat die regering dalk in 1994, 1995 en 1996 nog kon sê “ons het nie die ervaring nie”, maar vandag is daar geen meer verskonings nie.

“Dit is ‘n voorreg om vir vier agtereenvolgende termyne te kon dien en met dié voorreg kom verantwoordelikheid.”

Hy het gewaarsku dat die lyn tussen ‘n staatsamptenaar en ‘n politikus besig is om te verdwyn.

“Staatsamptenare en ons as ministers kom van dieselfde aktiviste-agtergrond, maar ons moet verseker dat selfs al is ons van dieselfde politieke party, politiek nie in die werkplek oorgedra word nie,” het hy gesê.

Manuel het ook gesê dat werkverwante kwessies nie in die politieke spasie opgelos moet word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae