Kony-losprys aangekondig vir SAR

Die Australiese koerant Herald Sun berig dat enige iemand met inligting oor Joseph Kony en twee van sy luitenante – Dominic Ongwen en Okot Odhiambo – sowel as Sylvestre Mudacumura, die leier van die Demokratiese Magte vir die Bevryding van Rwanda, ‘n beloning van $5 miljoen van die VSA kan opeis.

Die verklaring kom ‘n dag nadat Afrika-troepe in die SAR die soektog na Kony afgelas het.

Die US State Department bied die geld aan kragtens ‘n bepaling van die Rewards Program.

Die voorsiening is uitgebrei nadat dit voorheen slegs oorlogsmisdade soos erken deur internasionale straftribunale vir Rwanda en die voormalige Jugoslavië ingesluit het.

Nou dek dit ook daardie misdadigers in die Internasionale Strafhof en ander internasionale tribunale, soos in die vooruitsig gestel vir die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Sirië.

Baie kort na die bogenoemde aankondiging, het Afrika-troepe in die Sentraal-Afrikaanse Republiek skielik die soektog na Kony en sy Lord’s Resistance Army-rebelle afgelas.

‘n Gebrek aan samewerking deur die nuwe SAR-leierskap, onder leiding van die voormalige rebelleleier Michel Djotodia, is as die rede aangevoer.

Die afgesette president Bozizé was ‘n sterk voorstander teen Kony in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Die VSA en die Afrika-Unie het glo twee basisse in die land waaruit bedrywighede teen Kony se rebelle gevoer word.

Bedrywighede teen die 51-jaar-ou veldheer en sy guerrilla’s behels ‘n gewapende mag van ongeveer 5000 mense met ongeveer 3000 van hulle uit Uganda.

Sowat 100 Amerikaanse militêre adviseurs is op die toneel. Daar word verklaar dat hulle die Afrika-Unie se magte ondersteun.

Kony se volgelinge word tans geraam op ongeveer 250 mense. Die grootste deel van hulle is verstrooi in klein groepies wat in die oerwoud wegkruip. Kony word gesoek deur die Internasionale Strafhof vir oorlogsmisdade.

Die aard van die soektog vir Joseph Kony, en die internasionale openbare appèl wat dit ontvang het, bly egter ‘n raaisel.

Dit het alles begin in 2012, toe ‘n aanlynveldtog genaamd Kony 2012, gelei deur die groep, “Invisible children”, so vinnig viraal versprei het dat dit binne ‘n week die hele wêreld iets nuuts geleer oor Uganda en sy probleme.

Maar die ware doelstellings van die veldtog is steeds onduidelik vir baie mense. Die groep het vinnig onder skoot gekom vir hul oënskynlike verwarring van liefdadigheidswerk wat direkte militêre optrede in Uganda bepleit.

Die mees bisarre gebeurtenis egter was die arrestasie van die Christelike filmmaker agter die “Kony 2012”-veldtog, wat vir masturbasie in die openbaar aangekeer is net dae na die sukses van sy veldtog.

Ander vrae is ook geopper. Miskien is die grootste vraag wat oorbly die skielike ontplooiing van Amerikaanse troepe na Uganda, in Oktober 2011, voor die Kony 2012-veldtog op die openbare toneel ontplof het.

President Obama se besluit om te ontplooi is gebou rondom die idee om ontslae te raak van Joseph Kony en sy Lord’s Resistance Army. Maar dit het ook saamgeval met beskuldigings dat Ugandese amptenare omkoopgeld ontvang van internasionale oliemaatskappye.

Met Joseph Kony het Africom dus ‘n steeds sterker vastrapplek op die vasteland verkry.

Die vermoede bly dat Amerikaanse oliebelange in Sentraal-Afrika die onskatbare oliereserwes daar wil beskerm.

Maak 'n opvolg-bydrae