Zille stort krokodiltrane oor SAR

Die besluit om Suid-Afrikaanse soldate uit die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) te onttrek, is Donderdag deur die DA verwelkom.

“Dit is veral goeie nuus vir die familie en vriende van soldate wat in die SAR gestasioneer is, wat die laaste week in buitengewone gevaar was, en wat 13 van hulle mense in die stryd verloor het,” het Helen Zille, leier van die party, gesê.

“Die presidensie moet die land binnekort oor die volle besonderhede van die onttrekking inlig.”

Pres. Jacob Zuma het Woensdag die besluit by die Eccas-beraad in N’Djamena, Tsjad, gemaak.

“Pres. Zuma het besluit om die Suid-Afrikaanse magte wat in Bangui ontplooi is, te onttrek,” het Idriss Deby, president van Tsjad, gesê, en bygevoeg dat Zuma steeds bereid was om in die toekoms soldate te voorsien.

Zille het gesê hoewel die onttrekking van die troepe welkome nuus is, moet Zuma steeds verduidelik waarom Suid-Afrikaanse troepe in die SAR ontplooi is.

Maak 'n opvolg-bydrae