Die 25-jarige weerkundige Johann Jamneck is dood in ‘n klimongeluk by die Suid-Afrikaanse Suidpoolstasie, het die departement van omgewingsake Dinsdag gesê.
“Spanlede het hul reddingstegnieke binne ‘n skeur geoefen toe die ongeluk (Sondag) plaasgevind het,” het die departement in ‘n verklaring gesê.
Die oefeninge het ingesluit dat hulle by toue op- en afklim en katrolstelsels opstel om mense mee op te trek.
Sy lyk sal in November met ‘n huurvlug teruggebring word na Suid-Afrika.
Dit is die vroegste geleentheid, aangesien Antarktika nie toeganklik is hierdie tyd van die jaar nie.
Jamneck het 2007 op Marioneiland deurgebring en dit so baie geniet dat hy aansoek gedoen het vir die pos as weerkundige op die Antarktika-ekspedisie.
Hy het Kaapstad op 23 Desember 2008 op die SA Agulhas verlaat as deel van die 48ste Suidpool-span wat deur die winter daar bly. Hy sou in Februarie 2010 terugkeer.
“Die direktoraat van Antarktika en eilande van die departement van omgewingsake wat verantwoordelik is vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese program, is baie jammer oor die ongeluk.”
“Buyelwa Sonjica, minister van water en omgewingsake, het haar medelye aan Jamneck se familie oorgedra.”

Eskom wil volgende jaar die basiese gratis-elektrisiteitstoelaag aan arm huishoudings van 50 kW tot tussen 70 en 100 kW verhoog, het mnr. Jacob Maroga, uitvoerende beampte van Eskom, vandag gesê.
Die Wêreldbank, wat gewoonlik steun aan arm lande verleen, moes soveel kontant uitdeel ná die globale finansiële krisis dat dit ‘n tekort vir nuwe projekte oor die volgende 12 maande ondervind.
