80 ambulanse kry voete

Die bestuurder en hoof van administrasie van Limpopo se nooddienste word ondersoek vir finansiële wanbestuur, het die provinsie se departement van gesondheid en sosiale ontwikkeling Dinsdag gesê.

Volgens woordvoerder Selby Makgotho is Bim Kerupashad, die bestuurder, en Herbert Phaahla, administratiewe hoof, drie maande gelede geskors “op grond van aantygings van wanbestuur van finansies.”

“Die departement is besig om in verskeie aspekte in te kyk. Die hele saak word nog ondersoek. Ek kan nie meer inligting op hierdie stadium verskaf nie,” het hy gesê.

The Sowetan het Dinsdag berig dat 80 van die nooddienste se 100 ambulanse wat in 2007 deur die departement gekoop is, spoorloos verdwyn het.

Berigte dat Kerupashad en Phaahla die 80 voertuie, ter waarde van R48 miljoen, verkoop en die geld in hul eie sak gesteek het, gaan deel vorm van die ondersoek.

Die departement van gesondheid het versoek dat dié nooddienste ‘n dringende verslag oor die saak indien.

Makgotho wou nie bevestig dat die voertuie verdwyn het nie en het gesê dat dit deel uitmaak van die ondersoek en dus kan hy nie kommentaar lewer nie.

“Ons kan in die stadium niks hieroor sê nie, aangesien die ondersoek aan die gang is,” het hy gesê.

Die twee is geskors om te verseker dat die ondersoek kan plaasvind sonder inmenging.

Makgotho het gesê dat die ondersoek binne enkele maande voltooi sal wees.

‘n Waarnemende bestuurder en hoof van administrasie is aangestel om die twee se werk te doen, het Makgotho gesê.

 

строительство бани своимитопкарго кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae