Engels in howe eggo imperialisme sê VRA

Regter Cynthia Pretorius se pleidooi dat slegs Engels die enigste hoftaal moet geld, is ondeurdag, onverantwoordelik en ongrondwetlik.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het só gereageer op Pretorius wat Woensdag voor die Regterlike Dienskommissie (RDK) verskyn het om te vra dat Afrikaans afgeskaf word.

Sy is een van drie kandidate vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng.

Volgens die VRA sal so ‘n besluit die regte van alle landsburgers op regspleging ignoreer.

“Die argument dat Engels gebruik moet word omdat die meeste regters nie Afrikaans magtig is nie, is prinsipieel bedenklik en bowendien elitisties.

“Die howe is daar vir die publiek en nie die publiek vir die howe nie. Die howe en regters dien deur middel van die regspleging die publiek. Dis nie die regspleging en die publiek wat regterlike beamptes moet dien nie. Regterlike beamptes moet die publiek dien.”

Volgens die VRA is daar heeltemal genoeg regters – wit en swart – wat Afrikaans magtig is om sake in Afrikaans te verhoor. “Trouens, daar is gevalle van swart regters wat gereeld uitsprake in onberispelike Afrikaans lewer.”

Die VRA het regters gevra om hulle van standpunte ten gunste van Engels te weerhou. “Sodanige standpunte eggo ou imperialistiese sentimente, maar is nóg in pas met Suid-Afrika se inheemse behoeftes nóg met die eise van behoorlike regspleging.”

Rekenaarverkope tuimel

Microsoft se nuwe Windows 8-bedryfstelsel stoot gebruikers af van rekenaars na slimfone en tabletrekenaars, het die marknavorser IDC Woensdag gesê.

Die verkope van gewone rekenaars het in die eerste drie maande van 2013 met 14% gedaal, het IDC gesê. Dit is die skerpste daling sedert die navorsing in 1994 oor die rekenaarbedryf begin het.

Microsoft het op 26 Oktober verlede jaar sy nuwe Windows 8-bedryfstelsel bekendgestel in ‘n poging om die swak rekenaarmark ‘n hupstoot te gee, wat onder druk is weens die gewildheid van tabletrekenaars en slimfone.

“Ongelukkig is dit duidelik dat die bekendstelling van Windows 8 nie die positiewe uitwerking gehad het wat verwag is nie; dit lyk selfs of die mark verder verswak het,” het Bob O’Donnell, adjunkhoof van die IDC, gesê.

Die nuwe weergawe van Windows is ontwerp om ook op raakskerms te werk, maar dié raakskerms kos meer as ‘n gewone rekenaarskerms. Hoër pryse maak tabletrekenaars en slimfone, wat goedkoper is, meer gewild, het O’Donnell bygevoeg.

Thatcher-begrafnis ‘n openbare betrekkinge oefening

Die eerste van meer as 2 000 uitnodigings vir die begrafnis van die ontslape oudpremier van Brittanje, Margaret Thatcher, sal Vrydag uitgestuur word.

Dié uitnodigings sal onder andere gestuur word aan verskeie wêreldleiers, insluitend al die lewende Amerikaanse oudpresidente en voormalige Britse premiers, sowel as aan Britse vermaaklikheidsterre soos die Top Gear-aanbieder Jeremy Clarkson.

Belangrike figure uit die Thatcher-era, soos die voormalige Sowjetleier Mikhail Gorbachev, die voormalige Duitse kansellier Helmut Kohl en die weduwee van die Amerikaanse oudpresident Ronald Reagan, Nancy, sal egter weens gesondheidsredes nie die verrigtinge kan bywoon nie.

Koningin Elizabeth II en haar man, Prins Philip, het reeds bevestig dat hulle die seremonie volgende Woensdag in die St. Paulus-katedraal sal bywoon. Dit sal die eerste keer sedert 1965 wees wat ‘n Britse monarg die begrafnis van ‘n Britse premier bywoon.

Thatcher is Maandag in die ouderdom van 87 in Londen se Ritz Hotel oorlede weens ‘n beroerte. Sy was van 1979 tot 1990 Brittanje se eerste vroulike premier.

“Die gastelys is saamgestel deur Lady Thatcher se familie en verteenwoordigers met die hulp van die regering en die Konserwatiewe Party. Meer as 2 000 uitnodigings sal na verwagting uitgestuur word,” het die kantoor van die premier gesê.

Zuma, Manuel stem saam oor apartheid

Uitsprake oor apartheid se nalatenskap in Suid-Afrika deur pres. Jacob Zuma en Trevor Manuel, minister in die presidensie, weerspreek mekaar nié, het die presidensie Donderdag gesê.

“Om te sê apartheid se nalatenskap en impak bestaan steeds en sal vir ‘n lang ruk nog met ons wees, beteken nie die president sê staatsamptenare moet dit gebruik as verskoning vir luiheid en onbevoegdheid nie,” het Mac Maharaj, woordvoerder, gesê.

“Die punt wat pres. Zuma gemaak het is dat dit onmoontlik is om die nalatenskap van apartheid in slegs 20 jaar om te keer.”

Pres. Jacob Zuma het Woensdag tydens ‘n toespraak om Chris Hani se dood te herdenk, gesê dis onmoontlik om in 20 jaar ware verandering te bring. Hy het gesê die land sal nog lank gebuk gaan onder die impak van apartheid.

“Om te sê ons kan apartheid nie blameer vir wat nou in ons land aangaan nie, dink ek is ‘n fout,” het pres. Zuma gesê.

“Ons kan nie ophou om die mense wat vir apartheid verantwoordelik was, te blameer nie.”

Manuel het op sy beurt verlede week volgens berigte gesê dis tyd vir die regering om self verantwoordelikheid vir sy aksies te aanvaar.

“Ons [die regering] behoort nie meer te sê dis apartheid se skuld nie. Ons moet elke oggend opstaan en besef ons is verantwoordelik. Die Botha-regime is nie meer daar om oor ons skouer te loer nie, ons is self verantwoordelik.”

Intussen het Jeremy Cronin, onderleier van die SAKP, volgens SABC Radio gesê Manuel se kommentaar is uit konteks geneem en deur die media misbruik.

“Kom ons kyk wat die kameraad eintlik gesê het, party van die ander goed wat nie op die nuusplakkate was nie – ons het ‘n sterk en doeltreffende regering nodig; ons sal nie die impak van apartheid op die geleenthede wat aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar is, kan omkeer nie,” het Cronin Woensdagaand in Kaapstad gesê.

Manuel se uitlating was daarop gemik om staatsamptenare aan te moedig om meer pro-aktief te wees oor dienslewering, het Cronin gesê.

Polisie slaan op penis-pamflette toe

Die Johannesburgse Metropolisie het Donderdag op ‘n onderneming wat pamflette vir penisvergrotings met eksplisiete foto’s daarop in die stad versprei, toegeslaan

Twee mans wat die pamflette in Breestraat versprei het, het beamptes na ‘n kantoor in 220 Jeppestraat gelei, waar plakkate en pamflette vir die penisvergrotings gedruk word, het hoofsupt. Wayne Minnaar, polisiewoordvoerder, gesê.

Beamptes het op ongeveer 30 000 pamflette beslag gelê, asook op vervalste Nike- en Puma-T-hemde wat ook op die perseel vervaardig is.

Die polisie probeer die eienaar van die onderneming opspoor. Hy sal daarvan aangekla word dat hy onder andere die Wet op Seksuele Oortredings verontagsaam het, weens die eksplisiete foto’s op die pamflette.

Marikana-advokaat aangeval, gesteek

Dit is nog nie seker of adv. Dali Mpofu sy werk by die Marikana-ondersoekkommissie sal kan hervat nadat hy naby ‘n strand in Oos-Londen aangeval is nie.

Hy verteenwoordig mynwerkers by die Marikana kommisie van ondersoek.

Die ANC het die aanval op advokaat Dali Mpofu skerp veroordeel en sê so ‘n daad van boewery behoort nie geduld te word nie.

Mpofu, wat ook ‘n gewese bestuurshoof van die SAUK is, is gister omstreeks drie-uur die middag naby ‘n strand in Oos-Londen aangeval. Hy word in ‘n Oos-Londense hospitaal vir steekwonde in die bo-en onderlyf behandel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Sapa het berig dat hy teen Donderdagaand in ‘n ernstige maar stabiele toestand was ná hy naby Oos-Londen se Oostelike Strand beroof en gesteek is.

Twee mense het hom Donderdag na bewering ongeveer 15:00 aangeval, het kol. Sibongile Soci, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens die polisie het twee mans persoonlike besittings soos sy selfoon geneem en hom met ‘n mes in sy bo- en onderlyf gesteek.

“Hierdie daad van boewery moet nie geduld word nie want dit ondermyn openbare veiligheid en is ‘n bedreiging vir lewens,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, gesê.

Agang sal anti-man wees

Politici word nie genoeg vir hulle dade verantwoordelik gehou nie as gevolg van die land se sterk “manlike politieke kultuur,” het Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, Donderdag gesê.

“Die kern van die probleem in ons land is ‘n politieke kultuur wat onder alle politieke partye gesien kan word, wat mans bevoordeel ten koste van ander sosiale groepe en wat politieke partye bevoordeel ten koste van individue,” het Ramphele gesê.

“In ons manlik gedomineerde en politiek-georiënteerde demokrasie is die verbintenis tussen politieke partye en burgers uiters swak en in sommige gevalle bestaan dit nie.”

Ramphele het gepraat tydens ‘n seminaar oor die hervorming van die kiesstelsel by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

Ramphele het met die bekendstelling van haar politieke platform in Februarie gevra vir ‘n nuwe stelsel waarin kiesers in geografiese kiesafdelings hul LP’s direk kan kies. Partyleiers kies tans self LP’s.

“Politieke lojaliteit oorheers individuele menseregte.

“Die lojaliteit-faktor word gekompliseer deur faktore soos ras, etnisiteit en geloof,” het sy gesê.

“Eers wanneer daar ‘n fundamentele verandering in Suid-Afrika se politieke kultuur kom, sal die land daartoe in staat kan wees om ‘n betekenisvolle verantwoordbaarheid in sy politieke stelsel te bou,” het Ramphele gesê.

“Die verandering van die verkiesingsklousule van ons grondwet moes al lankal plaasgevind het.

Geen data oor SEB bestaan nie sê VF+

Adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor handel en nywerheid, sê geen behoorlike data bestaan wat aandui of swart ekonomiese bemagtiging in effek wel swart mense bemagtig het nie.

“Daar is onlangs ook in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid vasgestel dat geen behoorlike data bestaan wat aandui of swart ekonomiese bemagtiging in effek wel swart mense bemagtig het nie.

“Dit beteken dat die ANC diskrimineer teen wittes sonder dat hy weet of sy beleid breed gesproke inderdaad swartmense ophef terwyl dit moontlik in die proses nuwe slagoffers skep. Dit maak die beleid in wese ongrondwetlik.

Alberts sê die ANC het byna twintig jaar gehad om te regeer en het byna net so lank ‘n twee derde-meerderheid gehad. Nou pak hy steeds die skuld vir die probleme in die land op apartheid.

Volgens adv. Alberts kon die regering in dié tyd sinvolle veranderinge, gebaseer op bewese vryemark-beleidsopsies, in die land aangebring het om mense op te hef indien hy waarlik erns daarmee gehad het.

Ten spyte daarvan het die ANC ‘n beleid ingestel wat net ‘n klein groepie ANC-kaders bevoordeel en verryk het sonder dat die land ekonomies gegroei het. Die ANC-beleid het eerder die gevolg gehad dat nuwe slagoffers deur transformasie geskep is.

“Indien die ANC in hierdie tyd behoorlike ekonomiese programme toegepas het, sou Suid-Afrika se ongelykheid nou reeds baie minder gewees het.

“Die ongelykhede het egter gegroei onder die ANC-bewind en het ‘n nuwe karakter aangeneem waar ongelykhede onder alle groepe, insluitend tussen swart mense, vergroot het.

“Zuma sê die ANC kan nie ophou om diegene wat vir apartheid verantwoordelik was aan te hou blameer nie.

“Indien dit inderdaad sy standpunt is, is die vraag waarom dan gediskrimineer word teen ‘n nuwe geslag witmense wat geen aandeel in apartheid gehad het nie?

“Die VF Plus gaan die saak verder neem in die betrokke komitee om te sorg dat die diskriminerende angel in die wet teen wittes verwyder word.

“Zuma en die ANC doen net lippediens aan sosiale kohesie. Dit is tyd dat die ANC en sy rassistiese ingesteldheid geëlimineer word ten einde ‘n regverdige samelewing te skep,” sê Alberts.

Wit bejaarde by pensioenuitkering verneder

Die Vryheidsfront Plus gaan ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) indien na die voorval waarin ‘n 84-jarige vrou van Newcastle, mev. Ria van Straaten, gedwing is om te sing voordat amptenare haar ouderdomspensioen aan haar uitbetaal het.

Die party eis ook die onmiddellike afdanking van al die personeel wat by die voorval betrokke was en dring daarop aan dat die betrokke persone deur die MRK beveel word om mev. Van Straaten te vergoed vir die trauma en vernedering wat sy deurgegaan het.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se woordvoerder oor maatskaplike aangeleenthede, sê mev. Van Straaten is steeds so getraumatiseerd en vernederd dat sy nie oor die voorval wil praat nie.

“Ons gaan ‘n klag by die Menseregtekommissie en die Staatsdienskommissie indien teen die personeel en bestuurder van die betrokke kantoor.

“Die Staatsdienskommissie moet dit ondersoek en ons dring daarop aan dat die skuldiges nooit weer in enige pos in die staatsdiens aangestel word nie.

“Dit is ‘n skande dat ‘n bejaarde vrou wat net haar pensioen wou gaan haal, so verneder is. Dit is ‘n bewys daarvan dat die regering net lippediens lewer wanneer dit by die gelyke behandeling van minderhede kom,” sê adv. Alberts.

Afrikaanse regter pleit vir Engels

‘n Afrikaanssprekende regter wil Engels as enigste hoftaal in Suid-Afrika hoor.

Regter Cynthia Pretorius, van die hooggeregshof in Pretoria, het gesê sy dink nie Afrikaans moet ‘n besondere plek hê nie.

“Ek dink die hoftaal moet Engels wees,” het sy gesê en bygevoeg dat die meeste hofgeskrifte in Engels is en die meeste mense Engels magtig is.

Pretorius hoop kennelik dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) haar as een van drie kandidate vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng sal oorweeg as sy haarself teen Afrikaans uitspreek.

Madala Masuku, Mpumalanga se LUR vir finansies, het haar uitgevra oor ‘n versoek dat sy onttrek aan ‘n onlangse saak omdat sy Afrikaans is en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het.

“Ek dink nie die feit dat ek Afrikaanssprekend is, kan teen my gehou word nie. Dit is hoe ek gebore is. Ek dink nie dit kan teen my gehou word dat ek ‘n wit Afrikaanse vrou is nie,” het sy gesê.

Masuku het gevra hoe sy haar verbintenis tot Afrikaans gaan hanteer. Pretorius het dit baie duidelik gemaak dat sy ‘n hele minderheidsgemeenskap se reg om in hul taal verdedig te word, sal opoffer vir haar ambisie.

“Ek dink ‘n moeilike politieke besluit moet geneem word om Engels die hoftaal te maak,” het sy verklaar. Sy het ook gesê baie Afrikaanse mense hou nie van haar nie omdat sy “liberaal” is.

Regters Audrey Ledwaba en Lettie Molopa-Sethosa is saam met Pretorius kandidate vir die pos.

Pretorius se gunstige uitspraak in die dronkbestuursaak teen Robert McBride, het onlangs wenkbroue laat lig.