Marikana-advokaat aangeval, gesteek

Dit is nog nie seker of adv. Dali Mpofu sy werk by die Marikana-ondersoekkommissie sal kan hervat nadat hy naby ‘n strand in Oos-Londen aangeval is nie.

Hy verteenwoordig mynwerkers by die Marikana kommisie van ondersoek.

Die ANC het die aanval op advokaat Dali Mpofu skerp veroordeel en sê so ‘n daad van boewery behoort nie geduld te word nie.

Mpofu, wat ook ‘n gewese bestuurshoof van die SAUK is, is gister omstreeks drie-uur die middag naby ‘n strand in Oos-Londen aangeval. Hy word in ‘n Oos-Londense hospitaal vir steekwonde in die bo-en onderlyf behandel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Sapa het berig dat hy teen Donderdagaand in ‘n ernstige maar stabiele toestand was ná hy naby Oos-Londen se Oostelike Strand beroof en gesteek is.

Twee mense het hom Donderdag na bewering ongeveer 15:00 aangeval, het kol. Sibongile Soci, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens die polisie het twee mans persoonlike besittings soos sy selfoon geneem en hom met ‘n mes in sy bo- en onderlyf gesteek.

“Hierdie daad van boewery moet nie geduld word nie want dit ondermyn openbare veiligheid en is ‘n bedreiging vir lewens,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae