Geen data oor SEB bestaan nie sê VF+

Adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor handel en nywerheid, sê geen behoorlike data bestaan wat aandui of swart ekonomiese bemagtiging in effek wel swart mense bemagtig het nie.

“Daar is onlangs ook in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid vasgestel dat geen behoorlike data bestaan wat aandui of swart ekonomiese bemagtiging in effek wel swart mense bemagtig het nie.

“Dit beteken dat die ANC diskrimineer teen wittes sonder dat hy weet of sy beleid breed gesproke inderdaad swartmense ophef terwyl dit moontlik in die proses nuwe slagoffers skep. Dit maak die beleid in wese ongrondwetlik.

Alberts sê die ANC het byna twintig jaar gehad om te regeer en het byna net so lank ‘n twee derde-meerderheid gehad. Nou pak hy steeds die skuld vir die probleme in die land op apartheid.

Volgens adv. Alberts kon die regering in dié tyd sinvolle veranderinge, gebaseer op bewese vryemark-beleidsopsies, in die land aangebring het om mense op te hef indien hy waarlik erns daarmee gehad het.

Ten spyte daarvan het die ANC ‘n beleid ingestel wat net ‘n klein groepie ANC-kaders bevoordeel en verryk het sonder dat die land ekonomies gegroei het. Die ANC-beleid het eerder die gevolg gehad dat nuwe slagoffers deur transformasie geskep is.

“Indien die ANC in hierdie tyd behoorlike ekonomiese programme toegepas het, sou Suid-Afrika se ongelykheid nou reeds baie minder gewees het.

“Die ongelykhede het egter gegroei onder die ANC-bewind en het ‘n nuwe karakter aangeneem waar ongelykhede onder alle groepe, insluitend tussen swart mense, vergroot het.

“Zuma sê die ANC kan nie ophou om diegene wat vir apartheid verantwoordelik was aan te hou blameer nie.

“Indien dit inderdaad sy standpunt is, is die vraag waarom dan gediskrimineer word teen ‘n nuwe geslag witmense wat geen aandeel in apartheid gehad het nie?

“Die VF Plus gaan die saak verder neem in die betrokke komitee om te sorg dat die diskriminerende angel in die wet teen wittes verwyder word.

“Zuma en die ANC doen net lippediens aan sosiale kohesie. Dit is tyd dat die ANC en sy rassistiese ingesteldheid geëlimineer word ten einde ‘n regverdige samelewing te skep,” sê Alberts.

Maak 'n opvolg-bydrae