Dis ironies dat Ferdi Greyling hom op demokrasie beroep in sy kritiek op pres. Jacob Zuma.
Anders as oudpres. Nelson Mandela, byvoorbeeld, is sy “handelsmerk” nie deur Britse politici en popsterre opgebou nie, maar deur hom en sy ondersteuners. Hy kom uit landelike KwaZulu-Natal, waar die meeste Zoeloes woon.
Zuma se paleisrevolusie teen Mbeki was by uitstek demokraties en hy is steeds die gewildste politikus in die land. Daarom begryp ek moeilik Greyling se beswaar teen die president wat blykbaar na die Grondwet moet gaan kyk om demokrasie te verstaan.
Die Grondwet stel hom in staat om vir twee termyne tot in 2019 te regeer, wat waarskynlik gaan gebeur. Agterna sal hy as éminence grise van die SA politiek steeds invloed uitoefen.
Wat die SANW se optrede in die Sentraal-Afrikaanse Republiek betref, het Mbeki in 2007 die ooreenkoms aangegaan om opleiding aldaar te verskaf. Soos vele militêre en ander kommentators die afgelope week of twee berig het, was daar geen maklike manier om te ontkom aan die verpligtinge wat daardie ooreenkoms opgelê het nie, veral toe die rebelle ‘n direkte aanval gedoen het.
Dis ‘n hebbelikheid van sommige Britse media om Suid-Afrika voor 1994 as ‘n wettelose diktatuur voor te stel waar swart mense genadeloos onderdruk is en boonop geen onderwys ontvang het nie. Tot dusver het die Afrikaanse koerante nog nie heeltemal die geskiedenis so drasties “herskryf” nie.
Greyling se insinuasie dat oudpres. PW Botha nie aan enige grondwet gebonde was nie en dat hy daarom “oorlog buite ons grense (kon) maak soos hy lus het”, is egter grotesk – iets uit Fleet Street. Om die ingewikkelde geostrategiese en ideologiese oorlog in Angola boonop aan ‘n soort gier van Botha toe te skryf, spreek van kwade wil. Daarmee ontken Greyling ook die rol wat die VSA, Frankryk en ander Westerse lande agter die skerms gespeel het om Suid-Afrika en Unita te onderskraag.
Onlangs is daar op sosiale media die woord “libverkrampte” as vertaling van die Engelse “libtard” geskep. Volgens libverkramptes moes ons al in 1960 aan die ANC oorgegee en toe ‘n soort Sowjetstelsel aanvaar het. Dalk sou ons nog kunsterade met wonderlike Russiese balletinstrukteurs gehad en almal Kubaanse sigare gerook het, maar ekonomies sou ons ná ‘n Marxistiese revolusie geëindig het waar Mosambiek onder Samora Machel was: die armste land ter wêreld.
‘n Mens verstaan egter dat oorgawe vandag as ‘n soort panasee voorgehou word, want selfs die verraaiers van die Anglo-Boereoorlog word as die ware helde gesien.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.