ANC-bewind moet beëindig word

Die Vryheidsfront Plus het gisteraand reeds afgeskop met sy veldtog in aanloop tot die algemene verkiesing aanstaande jaar met ‘n vergadering by die Jan Krielskool op Kuilsrivier.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep en provinsiale leier van die VF Plus in die Wes-Kaap en mnr. André Fourie, raadslid en onderleier in die provinsie, het die vergadering toegespreek waarna ‘n nuwe tak vir die Oostenberg-subraad gestig is.

Mnr. Piet Batt is aangewys as voorsitter van die tak, en mnr. Jean Yslie as sekretaris.

Dr. Mulder het in sy toespraak onder meer gevra of daar ‘n toekoms vir die Afrikaner en sy kinders in Suid-Afrika is en het aktuele sake soos regstellende aksie, onregverdige tersiêre toelatingsvereistes, plaasaanvalle, die aanslag op Afrikaans en grondherverdeling bespreek.

Hy het gesê die ANC wil die land transformer tot sy denke, terwyl staatsdepartemente al minder in staat is om basiese dienste te lewer.

“Dis nie in Suid-Afrika se belang dat die ANC aan bewind bly nie. Hy het wel groot steun, behalwe in die Wes-Kaap, maar net ‘n elite groepie mense trek hieruit voordeel. Die meeste swart mense sit steeds werkloos in hul plakkershutte,” het hy gesê.

Die proporsionele kiesstelsel is ook weer verduidelik en dr. Mulder het dit duidelik gestel dat elke wegblystem van moedelose kiesers in werklikheid ‘n stem vir die ANC beteken aangesien dit sy meerderheidspersentasie verhoog.

Hy het gewys op die belangrikheid vir opposisiepartye met dieselfde doelwitte om saam te werk sonder om ‘n eie identiteit prys te gee.

“Die ANC gee homself voor as ‘n groot, demokratiese beweging, maar sy werklike toets oor demokrasie sal kom die dag as hy uiteindelik mag verloor. Ons bly optimisties, daardie dag kom. Ek sal nooit aanvaar ons het in 1652 na die land gekom net om te verdwyn nie,” het dr. Mulder gesê.

Mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid, het onder meer oor die situasie in die Stad Kaapstad gepraat en het na metrorade as ‘n ‘monster’ verwys wat swak dienslewering aan die hand werk.

“Munisipale waardasies is chaoties. Eiendomsbelasting het in die laaste sewe jaar met 73% gestyg en elektrisiteit met 224%. Die stad is besig om ons mense uit hul huise te belas,” het mnr. Fourie gesê.

Groenteboere in Wes-Kaap trek noustrop

Die Wes-Kaapse regering in samewerking met die privaatsektor soek glo na maniere om 45 groenteboere te ondersteun, maar die boere bly skepties oor die belofte nadat die McCain-fabriek hul sluiting in George aangekondig het.

Philip Terblanche, voorsitter van die Outeniqua-boerevereniging, het  aan Sake 24 gesê die sluiting van die groentefabriek in George gaan verskaffers van kunsmis, saad en vervoer raak, asook ongeveer 500 seisoenale werkers.

McCain sluit eerder die fabriek as om dit te verkoop omdat hy nie ‘n mededinger wil hê nie, sê boere.

Groenteboere wat aan die George-fabriek lewer, het gediversifiseer, maar hulle gaan die knyp voel. “As ons regering enigsins iets vir landbou voel, kan hulle regtigwaar kyk hoe McCain gehelp kan word deur minstens die invoer van bevrore groente te beperk, sê een vooraanstaande boer.

Mededinging van goedkoop ingevoerde bevrore groente, veral uit China, het oor die afgelope drie jaar toegeneem. Daar was ook ‘n skerp toename in die invoer van bevrore groente uit Wes-Europa.

“Wes-Europese boere kry landbou-subsidies en boonop is die klimaat vir die verbouing van groente, danksy die nodige konstante reënval, daar beter as in Suid-Afrika. Die meeste van ons produsente se groente, veral bone, word besproei wat gepaardgaande water- en elektrisiteitskoste meebring,” sê Louis Wolthers, besturende direkteur van McCain Foods SA.

Hy het gesê dat mededinging deur ingevoerde groente die rede is vir die sluiting van die fabriek. Gebiede in Limpopo en op die Hoëveld onder besproeiing voorsien voorts aan die behoefte.

Wolthers sê elektrisiteit is ‘n groot koste want die verkoelingsaanleg moet teen volle krag werk, al is dit nie vol nie. Vervoerkoste speel ook ‘n rol weens lang afstande tussen produsente en die ­George-verwerkingsaanleg.

Apteker afgedank na ‘rassisme’

‘n Apteker van Limpopo het sy werk verloor nadat hy ‘n rassistiese aanmerking teenoor ‘n kollega gemaak het, is Woensdag berig.

Stuart Muller is verlede Dinsdag skuldig bevind en afgedank by die Clinix-privaathospitaal – dieselfde dag wat die voorval plaasgevind het, berig die Sowetan.

Marinda Bouwer, hospitaalbestuurder, het gesê die bestuur het inligting ontvang oor wat gebeur het en ná ‘n ondersoek bevind dat dit waar is.

Volgens die koerant het Muller ook op ‘n stuk papier geskryf en na Mokati as ‘n “boy” verwys.

“Onmiddellik nadat ons die inligting oor die voorval ontvang het, is ‘n interne ondersoek begin,” het Bouwer gesê.

Muller is genader vir kommentaar en het gesê: “Ek dink nie dit is reg om die saak met jou te bespreek nie”.

NAVO lê reëls vir kuberoorlog neer

Reëls vir ‘n kuberoorlog is vir die eerste keer uiteengesit in ‘n NAVO-handleiding

Die handleiding sê regerings moet hulself weerhou van aanvalle op hospitale en kernaanlegte.

Die handleiding is die eerste poging om te bepaal hoe die internasionale reg van toepassing is op aanlyn-aanvalle deur die staat, en waarsku dat sulke aanvalle kan lei tot volskaalse militêre konflikte.

Die handboek, die resultaat van drie jaar se samewerking tussen internasionale kundiges vir NAVO, definieer ‘n kuberaanval as een wat “redelikerwys verwag om besering of dood te veroorsaak aan persone of skade of vernietiging aan voorwerpe.”

‘n Aanlyn-aanval op ‘n elektrisiteitsnetwerk is ‘n voorbeeld van die maniere waarop kuberoorlog werklike fisiese skade kan aanrig.

Die advieskomitee se handboek, geskryf deur 20 regskenners, sê regeringsaanvalle op burgerlikes, hospitale, kernsentrales, damme en dyke moet liefs vermy word.

“Aanvalle op die laaste drie is besonder sensitief want dit kan tot wydverspreide lewensverlies lei en moet vermy word, selfs wanneer hulle militêre doelwitte is”.

Hospitale en mediese eenhede word reeds beskerm onder die reëls van tradisionele oorlogvoering.

Die riglyne verbied ook die gebruik van kuberlokvalle en kuberaanvalle om paniek te saai onder die gewone bevolking.

Die handboek, opgestel op die uitnodiging van NAVO se Koöperatiewe Verdedigingsamewerkingsentrum van Uitnemendheid (CCDCOE) in Tallinn, Estland, sluit in ‘n voorsiening vir state om te reageer met konvensionele magte as ‘n kuberaanval tot dood of aansienlike skade aan eiendom lei.

Volskaalse oorloë kan veroorsaak word deur middel van aanlynaanvalle. Die verslag sê “kuberbedrywighede op sigself kan die potensiaal inhou om die drumpel van internasionale gewapende stryd oor te steek”.

“Hacktivists” of kraaktiviste wat deelneem aan aanlynaanvalle kan beskou word as legitieme teikens in kuberoorlog, sê die nuwe riglyne, selfs al is hulle tegnies burgerlikes.

Die CCDCOE is gestig in 2008 na aanleiding van ‘n golf van kuberaanvalle op Estland.

Die aanvalle het staatswebwerwe geteiken en die land se infrastruktuur beskadig.

Die Tallinn-handleiding, wat bestaan ​​uit 95 “swartletterreëls”, is formeel van stapel gestuur by Chatham House verlede week, volgens die Guardian.

Kolonel Kirby Abbott, ‘n assistent-regsadviseur by die NAVO, het dit beskryf as “die belangrikste dokument in kuber-oorlogvoeringwette.”

Die Stuxnetvirusaanval op Iran se kernprogram, wat fisies sensitiewe sentrifuges beskadig het, is egter deur die opstellers uitgelaat.

Die handboek lui: “Tot op datum, is geen internasionale gewapende stryd in die openbaar gekenmerk as uitsluitlik ontketen in die kuberruim nie.”

Die handleiding magtig ‘n land om “proporsionele teenmaatreëls” na ‘n aanlyn-aanval te neem, maar dit kan slegs waar dit tot die dood of ernstige skade gelei het, ‘n geweldsoplossing insluit.

Die handboek is nie ‘n amptelike NAVO-dokument of -beleid nie, maar ‘n adviserende handleiding, wat deur Cambridge University Press gepubliseer word.

Franse boek oor swart geweld word blitsverkoper

Clockwork Orange: Frankryk, ‘n omstrede boek wat beweer Frankryk is besig om ‘n barbaarse land te word met toenemende diewery, verkragtings en aanvalle, het ‘n blitsverkoper geword.

Volgens die boek is hoofstroom-politici en die media besig om ‘n ontstellende werklikheid te verdoesel oor die geweld in land.

“Niemand moet die werklikheid ignoreer nie,” naamlik dat daar “elke 24 uur 13.000 diefstalle, 2000 aanvalle en 200 verkragtings” plaasvind in Frankryk, syfers veel hoër as die amptelike nasionale statistiek.

Die boek word deur sommige kommentators en kriminoloë afgemaak as bevooroordeeld, onwetenskaplik en ronduit rassisties, en hulle beskuldig die skrywer dat hy smous met ver-regse teorieë wat misdaad en immigrasie koppel.

Maar sedert die vrystelling in middel-Januarie, het die boek deur Laurent Obertone, die skuilnaam van ‘n onbekende 28-jarige joernalis, 35.000 kopieë verkoop en ‘n nuwe oplaag van 20.000 is gedruk. Dit is tans op die vyfde plek op Frankryk se weeklikse Ipsos-Livres-Hebdo blitsverkoperys en is derde op Amazon se mees gesogte boekranglys.

In die boek gee die skrywer klinies ‘n opsomming van die toename in geweld en kom tot die gevolgtrekking dat “ultra-gewelddadige misdaad” ontplof het in Frankryk.

“Die werklike vlak van misdaad, waarskynlik die ergste in die geskiedenis van die Franse Republiek, is sowat 12 miljoen misdade per jaar,” sê die skrywer. Die werklike misdaadvlak is “drie keer hoër” as die amptelike syfers aangesien amptelike syfers slegs geregistreerde of opgeloste misdade in ag neem.

Obertone sê: “Ek veg vir ‘n waarheid wat ek ontdek het en wat nie die mediablootstelling kry wat dit verdien nie.” Die boek het ‘n senuwee getref want Frankryk se parlement het hierdie week begin met ‘n debat oor hervormings wat ernstige misdaad betref.

Obertone ontken dat hy ‘n ver-regse simpatiseerder is en sê hy het “geen politieke verbintenis” nie.

Steenkoolmyners sê polisie gebruik skerppunt-ammunisie

Sewe mense is volgens berigte in die hospitaal na ‘n skietery by ‘n Graspan-steenkoolmyn by Middelburg in Mpumalanga.

Mynwerkers beweer dat die polisie met skerppunt-ammunisie op stakende myners geskiet het, en dosyne gewond het.

Die werkers het na bewering begin met ‘n onbeskermde staking na ‘n geskil met die bestuur oor onbetaalde bonusse. ‘n Mynwerker – wat nie sy naam bekend wou maak nie – het aan die SAUK gesê dat werkers gefrustreerd geraak het en aangedring het daarop om die hoofbestuurder te sien.

Die hoofbestuurder het glo geweier om die werkers toe te spreek. Die polisie het intussen die voorval bevestig, maar ontken dat skerppunt-ammunisie gebruik is.

‘n Polisiewoordvoerder, Selby Mhlala sê die polisie het rubberkoëls gebruik. Volgens Mhlala is een persoon beseer en sewe is in hegtenis geneem.

Rotplaag tref ‘skoon’ premierswoning

‘n Foto van haar lelike beseerde groottoon “wat ‘n skoonheidsbehandeling benodig” is deur Wes-Kaapse premier, Helen Zille, getwiet.

Sy is gister deur ‘n rot gebyt by haar ampswoning Leeuwenhof.

“Die vreemdste ding het nou net gebeur,” het sy getwiet. “Ek het die koerante gaan haal by die hek toe ‘n rot uitspring en my aan my toon byt!”

Zille het dadelik ‘n foto van haar bebloede “nuuswaardige” groottoon uitgestuur.

“Ek het nie ‘n hondsdolheidinspuiting nodig nie,” het sy aan The Times gesê.

Volgens Zille is Leeuwenhof skoon, “maar daar is nog so nou en dan rotte. Die stadsraad het ‘n reuse-program om sulke peste in woongebiede, veral arm gemeenskappe, te beheer.”

‘n Eienaar van ‘n plaagbeheeronderneming sê hy het in 42 jaar nog nooit te doen gehad met soveel rotte soos nou nie.

“Ons het oproepe vir die beheer van rotte in die voorstede net in die wintermaande gekry, maar nou het ek hulle deur die loop van die jaar.”

Hy het mense aangemoedig om nie produkte wat die chemiese middel Warfarin bevat te gebruik nie, omdat rotte immuun daarteen geword het.

Ashanti-goud in Oslo gegaps

Twee Peruviaanse mans word in Noorweë verhoor waar hulle daarvan verdink word dat hulle verskeie kilogram goud van die koning van die Ashantivolk in Ghana gesteel het.

Die juweliersware wat op meer as ‘n miljoen rand geraam word, was in ‘n tas wat van Koning Otumfuo Osei Tutu se afvaardiging gesteel is terwyl hy gewag het om by ‘n hotel in Oslo in te teken.

Een van die mans het aan die hof gesê hy was onder die indruk dat hy ‘n tas met ‘n skootrekenaar in gesteel het. Die juweliersware word deur die koning gebruik wanneer hy sy seremoniële pligte nakom.

Malema se plaas genasionaliseer

Julius Malema se plaas is genasionaliseer. Die batebeslagleggingseenheid het gister beslag gelê op sy plaas in  Limpopo nadat hy versuim het om ‘n Pretoriase hooggeregshofbevel aan die SAID in Desember teen te staan.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, is so ‘n verklaringsbevel Maandag verleen. Die geregistreerde eienaar is Gwama Properties, ‘n sakeonderneming van die Malema-vertroueling Lesiba Gwangwa.

Die NVG beweer dat die plaas behoort aan Malema.

“Dit is opmerklik dat die eenheid se aansoek nie teengestaan is deur mnr. Gwangwa of sy maatskappy, Gwama Properties, of deur Mnr Malema, wat na bewering die werklike eienaar is nie,” het die woordvoerder gesê.

Die hoër hof het op 5 Desember beslis dat die plaas gekoop is met fondse verkry deur diefstal, bedrog en korrupsie, of dat die eiendom het alternatiewelik gebruik is om geld te was.

Die beslaglegging op die plaas is gisteroggend deur die hooggeregshof in Pretoria bekragtig nadat dit as bate bevries is. Die plaas Schuilkraal, is glo meer as R4 miljoen werd.

Die SA Inkomstediens het die geskorsde ANC-jeugleier se bates laat sekwestreer om R16-miljoen belastingskuld te verhaal.

Dit is nie bekend of Malema die hof vra om toegelaat te word om sy beëdigde verklaring in te dien teen die sekwestrasie nie. Hy het kennis gegee van sy voorneme om dit te doen, maar die sperdatum gemis.

Strenger anti-rookmaatreëls

Die regering sal dié week strenger regulasies vir rokers bekendmaak, het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê.

“Die nuwe regulasies sal onder meer die rook van tabak buite geboue verbied,” het hy op ‘n vergadering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes in Boksburg gesê.

Motsoaledi het gesê rokers wat buite geboue staan, waar die gebruik van tabak verbied word, het ‘n bekende gesig geword. Hulle staan by die ingang van geboue en besoedel net die lug buite, het die minister gesê.

“Mense wat uit of in die gebou gaan moet nou tot die nadeel van ons gesondheid deur ‘n rookwolk stap. Dit is onaanvaarbaar en die nuwe regulasies sal die praktyk verbied.”

Die regulasies teen rook in openbare plekke en sekere buiteluggebiede het ook kritiek ontlok.

Sommige organisasies glo dat dit ook sal inbreuk maak op die outonomie van individue binne hul eie ruimte.

Dit het Motsoaledi egter nie afgeskrik nie.

“Ons het nie die reguleringsproses gestaak nie en sal nie ophou terwyl mense steeds kies om te rook nie.”

Joe Maila, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê die regulasies sal aangekondig word voor dit later in die week in die Staatskoerant gepubliseer word.