‘n Foto van haar lelike beseerde groottoon “wat ‘n skoonheidsbehandeling benodig” is deur Wes-Kaapse premier, Helen Zille, getwiet.
Sy is gister deur ‘n rot gebyt by haar ampswoning Leeuwenhof.
“Die vreemdste ding het nou net gebeur,” het sy getwiet. “Ek het die koerante gaan haal by die hek toe ‘n rot uitspring en my aan my toon byt!”
Zille het dadelik ‘n foto van haar bebloede “nuuswaardige” groottoon uitgestuur.
“Ek het nie ‘n hondsdolheidinspuiting nodig nie,” het sy aan The Times gesê.
Volgens Zille is Leeuwenhof skoon, “maar daar is nog so nou en dan rotte. Die stadsraad het ‘n reuse-program om sulke peste in woongebiede, veral arm gemeenskappe, te beheer.”
‘n Eienaar van ‘n plaagbeheeronderneming sê hy het in 42 jaar nog nooit te doen gehad met soveel rotte soos nou nie.
“Ons het oproepe vir die beheer van rotte in die voorstede net in die wintermaande gekry, maar nou het ek hulle deur die loop van die jaar.”
Hy het mense aangemoedig om nie produkte wat die chemiese middel Warfarin bevat te gebruik nie, omdat rotte immuun daarteen geword het.
