Sewe mense is volgens berigte in die hospitaal na ‘n skietery by ‘n Graspan-steenkoolmyn by Middelburg in Mpumalanga.
Mynwerkers beweer dat die polisie met skerppunt-ammunisie op stakende myners geskiet het, en dosyne gewond het.
Die werkers het na bewering begin met ‘n onbeskermde staking na ‘n geskil met die bestuur oor onbetaalde bonusse. ‘n Mynwerker – wat nie sy naam bekend wou maak nie – het aan die SAUK gesê dat werkers gefrustreerd geraak het en aangedring het daarop om die hoofbestuurder te sien.
Die hoofbestuurder het glo geweier om die werkers toe te spreek. Die polisie het intussen die voorval bevestig, maar ontken dat skerppunt-ammunisie gebruik is.
‘n Polisiewoordvoerder, Selby Mhlala sê die polisie het rubberkoëls gebruik. Volgens Mhlala is een persoon beseer en sewe is in hegtenis geneem.
