UJ-prof jongste slagoffer in gay moorde

‘n Professor aan die Universiteit van Johannesburg is het glo sy moordenaar ingenooi, berig Eyewitness News.

Dr. Carl Mischke se bebloede lyk is Maandagoggend met verskeie steekwonde in Norwood gevind.

Die polisie ondersoek die moord as deel van ‘n reeks moorde op gay mans in Kaapstad en Gauteng.

Mischke is die negende gay slagoffer in dié reks moorde.

Die 47-jarige Mischke gee klas in Arbeidsreg.

Die polisie het moorde in Kaapstad met dieselfde bende verbind. Brig. Neville Malila, polisiewoordvoerder, het gesê Mischke se dood word ondersoek.

VF+ eis bedanking van Midvaal-burgemeester

Die VF Plus het vandag in ‘n sterk bewoorde verklaring geëis dat die burgemeester van Midvaal, mnr Timothy Nast, moet bedank.

Mnr Corrie Pypers, VF Plus raadslid vir Midvaal het gesê dat klagtes oor wanadministrasie sedert 2005 gedurende 2009 aan die Openbare Beskermer gerapporteer is en vandat Nast in 2009 as burgemeester verkies is, is onwettige afdankings van fluitjieblasers, amptenare en raadslede aan die orde van die dag.

Verder het viktimisasie teen die bestuur van die internasionaal befaamde Meyerton Golfklub byna die klub se ondergang tot gevolg gehad.

Bevoordeling van sommige ontwikkelaars deur voortydige goedkeurings, proseduriële magsmisbruik, die aanvang van ondersoeke deur die Openbare Beskermer (OB) en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het gelei tot ‘n OB-verslag wat sewe gevalle van wanadministrasie bevind het en gelei het tot die afdanking van die DA streeksvoorsitter en raadsprokureur.

‘n Kriminele ondersoek teen die DA administrasie deur die SOE duur steeds voort. Hierdie toedrag van sake is geensins in belang van die inwoners van Midvaal en daarom behoort Nast Midvaal eerste te stel en sy amp te ontruim saam met ander skuldige raadslede en amptenare.

Tydens ‘n Afbakeningsraadvergadering gehou op 11 April 2013 in die Vereeniging stadsaal, het ‘n senior ANC ampsdraer op die verhoog dit aan Nast gestel dat leningsvoorsiening aan Midvaal in die weegskaal is weens die SOE ondersoek teen hom.

Skielik het die DA en Nast ‘n struikelblok geword in die weg van ontwikkeling in Midvaal ten koste van die kiesers.

Nast behoort onder die omstandighede sy amp te ontruim deur onmiddellik saam met sy meelopers, waaronder amptenare en raadslede, te bedank.

By gebreke hierin sou die DA in die hand van die ANC speel omdat die kieserspubliek hul vertroue in die DA in Midvaal verloor en die verdere openbaring van wanadministrasie en dalk selfs korrupsie, kan die inwoners van Midvaal erg benadeel sê Pypers.

Texas-ontploffing: Dodetal kan styg

Volgens die jongste berigte istussen 60 tot 70 mense is dood toe ‘n reuse-ontploffing ‘n kunsmisaanleg naby Waco, Texas geruk het, sê plaaslike mediabronne.

Inwoners vrees ook dat ‘n tweede tenk by die aanleg in die dorp West, Texas, kan ontplof.

Tientalle huise in die gebied is in puin gelê en ‘n ouetehuis met meer as 130 mense is ontruim.

Minstens 100 pasiënte is in plaaslike hospitale opgeneem ná die ontploffing.

“Dit was soos ‘n atoombom wat ontplof het,” het Tommy Muska, burgemeester van West, aan die nuusnetwerk CNN gesê.

Berigte oor die aantal sterftes het in die minute ná die ontploffing verskil. ‘n Dodetal van ongeveer 60 tot 70 is deur ‘n plaaslike stasie, KWTX, gegee. Dié syfer is volgens die stasie deur die direkteur van nooddienste in West, George Smith, gegee.

Keith Hopkins, verbonde aan die Providence-hospitaal in Waco, het aan die nuusagentskap AFP gesê nooddienspersoneel in West het ook die sterftesyfer op 60 to 70 geraam.

DL Wilson, ‘n woordvoerder vir Texas se departement van openbare veiligheid, het egter aan verslaggewers gesê hy kan nie die sterftesyfer bevestig nie

“Ons het bevestiging van sterftes. Die getal is nog nie duidelik nie. Dit kan elke minuut styg.”

Duitse werkers met ‘geskenk’ vergiftig

Vyf-en-twintig mense is in ‘n hospitaal in Berlyn in Duitsland opgeneem nadat hulle broodrolletjies met rottegif daarin, geëet het.

Die rolletjies is by hulle maatskappy as ‘n geskenk afgelewer. Die werkers is van Mueller Technik, ‘n motoronderdele maatskappy in die noordwestelike dorp Steinfeld, Nedersakse.

Die boks van toebroodjies is vergesel deur ‘n nota wat sê dis ‘n geskenk en mense moet hulself help daaraan.

Werknemers het begin eet van die toebroodjies, wat met kaas en wors gevul was. Dit was eers in die middag dat een van die werkers opgemerk het daar is ‘n vreemde stof op hulle, en die polisie gekontak het.

Toetse wat op die brood gedoen is, toon dat dit wel rottegif bevat.

Die personeel se gesondheid is nie ernstig aangetas nie. Die polisie het bevestig dat die oorsprong van die gif ondersoek word.

Zuma na Tsjad om SAR te bespreek

President Jacob Zuma woon vandag ‘n vergadering van die streeksleiers van die Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal Afrikaanse state in Tsjad by om die krisis in die Sentraal Afrikaanse Republiek te bespreek.

Dit volg na die staatsgreep in die S.A.R waarin 13 Suid-Afrikaanse soldate dood is toe rebelle die bewind van president Francoise Bozize omver gewerp het.

‘n Noodvergadering van die leiers en president Zuma het vroeër vandeesmaand ‘n afvaardiging na die land gestuur om rebelle in te lig om ‘n komitee saam te stel om die land te bestuur en vir verkiesings oor 18 maande voor te berei. Terugvoering hieroor sal in vandag se vergadering gegee word.

President Zuma het vroeër die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Weermag in die Demokratiese Republiek van die Kongo en Soedan tot April volgende jaar verleng.

Die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj het die Parlement oor die besluit ingelig. Hy sê 850 soldate is in Darfoer ontplooi as deel van ‘n Afrika Unie/Verenigde Nasies-operasie.

Maharaj sê 1 267 weermaglede is in die DRK ontplooi as deel van ‘n VN-stabilisering-sending.

Marikana: Polisie hét geskiet wys verslag

‘n Polisieverslag het bevestig dat beamptes 34 stakende mynwerkers by Marikana doodgeskiet het, het die Farlam-ondersoekkommissie Woensdag gehoor.

Dumisa Ntsebenza, vir die families van die oorledenes, het gesê die verslag wys dat die polisie nie die bewering betwis het dat hulle die mynwerkers doodgeskiet het nie. Die argument het gegaan oor die omstandighede rondom die moorde.

Volgens die verslag is 30 van die mynwerkers op die toneel dood en vier het in die hospitaal gesterf, het Ntsebenza gesê.

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het vroeër gesê dit is nie bevestig dat die polisie die mynwerkers doodgeskiet het nie.

“Ek verstaan dat 34 mynwerkers dood is, maar om te sê wie hulle doodgemaak het, ek kan nie oor dit kommentaar lewer nie.”

Phiyega het tydens kruisondervraging by die kommissie in Rustenburg gevra dat sy nie onregverdige vrae gevra word waarvoor sy nie antwoorde het nie.

Sy het vir die kommissie gesê niemand is in hegtenis geneem of afgedank ná die sterftes nie.

Boston-verdagte geïdentifiseer

‘n Verdagte is naby die toneel van die tweede bomontploffing by die Boston-marathon geïdentifiseer, het die plaaslike media berig.

Volgens die Boston Globe het die persoon ‘n swart sak naby die toneel gedra.

CNN het ook berig dat die verdagte geïdentifiseer is op ‘n kringtelevisiekamera van ‘n winkel, wat geleë is naby die toneel van die ontploffing.

Intussen het owerhede mediaberigte ontken dat ‘n persoon in hegtenis geneem is in verband met die ontploffings.

Honderde ondersoekbeamptes het beeldmateriaal en foto’s nagegaan wat Maandag ten tye van die ontploffings geneem is. Drie mense het in die ontploffings gesterf en 180 ander mense is gewond.

CNN het berig dat ‘n verdagte in hegtenis geneem is, maar die FBI en die polisie in Boston het dit ontken.

Ondersoekbeamptes het aan die Amerikaanse media gesê sommige foto’s wat naby die toneel geneem is, wys ‘n man wat dalk die bomme geplant het.

Skoolhoof terug na porno-klagte

Die skorsing van ‘n skoolhoof wat daarvan beskuldig is dat hy pornografie aan ‘n leerder gewys het, is opgehef, het die departement van onderwys in Gauteng gesê.

Charles Phahlane, woordvoerder van die departement, het gesê daar was geen gronde om ‘n interne tugproses te begin nie, omdat die bewerings nie gestaaf kon word nie.

Die prinsipaal is Woensdag terug na die Mandisa Shiceka Sekondêre Skool in Kagiso nadat Boy Ngobeni, die departementshoof, sy skorsing opgehef het.

Die Sowetan het verlede maand berig dat ‘n gr.10-leerder beweer haar skoolhoof het pornografie aan haar gewys. Die prinsipaal het die bewerings ontken.

Die meisie se familie het toe ‘n klag by die departement van onderwys se distrikkantoor ingedien. ‘n Onderwyser by dieselfde skool het na bewering leerders oorreed om inligting teen die skoolhoof te vervals.

Die onderwyseres is hangende ‘n ondersoek geskors.

Talle draai hul rûe op Thatcher se kis

Tienduisende roubeklaers het Woensdag in Sentraal-Londen saamgekom om te kyk hoe die voormalige premier, Margaret Thatcher, se kis tydens ‘n prosessie na die St. Paulus-katedraal geneem word.

As ‘n teken van die bitterheid wat haar nalatenskap steeds uitlok, het groepies in die skare hul rug gedraai toe die begrafnisstoet verby beweeg het. Hulle het slagspreuke soos “Maggie, Maggie Maggie! Dood, dood, dood!” geskree.

Hul gebaar is om hul afkeur in die skade te toon waartoe haar radikale vrye mark ekonomiese hervormings gelei het. Dit het grootskaalse werkloosheid in Brittanje se industriële hartland veroorsaak.

Sommige mense is ook gebelgd oor die groot hoeveelheid geld wat op Thatcher se begrafnis spandeer is.

“Ons spandeer £10 miljoen (R140 miljoen) daarop en dis ‘n skande en onaanvaarbaar in ‘n tyd van besnoeiings,” het Casper Winslow, ‘n 22-jarige student met ‘n plakkaat wat lees “Die res van ons in armoede,” gesê.

Die regering moet nog die koste van die begrafnis bekendmaak, maar hou vol dit sal minder wees as die £10 miljoen waaroor berig is.

Die land se premier, David Cameron, het volgehou dat dit reg is om vir Thatcher ‘n behoorlike afskeid te gee.

“Dit is ‘n gepaste wyse om hulde te bring aan ‘n wonderlike premier wat oor die wêreld heen gerespekteer is,” het hy aan BBC-radio gesê.

“En ek dink ander lande in die wêreld sal dink Brittanje het die bus verpas as ons dit nie op die regte wyse herdenk nie.”

Thatcher se oorskot sal tydens ‘n privaatseremonie, wat deur haar 59-jarige tweeling, Mark en Carol, en ander familielede bygewoon sal word, veras word.

Sy is nege dae gelede aan ‘n beroerte oorlede. Sy was 87 jaar oud.

ANC noem Boston terreur, VSA nie

Die ANC het Maandag se Boston-marathonbomme as ‘n daad van “terrorisme” beskryf, ‘n woord wat die Amerikaanse president Barack Obama nie wou gebruik nie nadat die twee bomme die lewens van drie mense geëis het en talle beseer is.

Obama se administrasie het eers later toegegee dat dit ‘n “daad van terreur” was.

ANC-woordvoerder Jackson Mthembu het in ‘n verklaring namens die party Dinsdag gesê die VSA moet alles in sy vermoë doen om diegene wat verantwoordelik is vir die “terreurdaad” vas te trek.

“Ons het ook ‘n beroep gedoen op die internasionale gemeenskap onder die vaandel van die Verenigde Nasies om hande te vat in die stryd teen terrorisme,” het Mthembu gesê. Maar ontleders is dit eens, meen die Mail & Guardian, dat Obama se versigtige retoriek meer gepas is.

In ‘n verklaring by die Withuis in die nasleep van die aanvalle, het Obama die wêreld verseker dat die oortreders van die misdade die volle gewig van die Amerikaanse reg sal voel. Hy het die podium egter verlaat met verslaggewers wat agterna roep “terrorisme?”.

Later in die dag, het ‘n Withuisamptenaar verwys na die aanvalle as “dade van terreur”. Maar selfs hierdie opmerking was baie versigtig.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, Jack Hillmeyer, het gesê die ambassade staan ​​agter Obama se hantering van die situasie.

Die Taliban het enige betrokkenheid by die aanvalle ontken, alhoewel hulle die VSA steeds as vyand beskou.

In die afwesigheid van ‘n verdagte, sal die toekoms van die War on Terror dus afhang van watter vordering ondersoekbeamptes maak in die komende dae. Indien die bedreiging gekoppel kan word aan buitelandse ekstremisme, sal die Amerikaanse regering waarskynlik militêr reageer.