Texas-ontploffing: Dodetal kan styg

Volgens die jongste berigte istussen 60 tot 70 mense is dood toe ‘n reuse-ontploffing ‘n kunsmisaanleg naby Waco, Texas geruk het, sê plaaslike mediabronne.

Inwoners vrees ook dat ‘n tweede tenk by die aanleg in die dorp West, Texas, kan ontplof.

Tientalle huise in die gebied is in puin gelê en ‘n ouetehuis met meer as 130 mense is ontruim.

Minstens 100 pasiënte is in plaaslike hospitale opgeneem ná die ontploffing.

“Dit was soos ‘n atoombom wat ontplof het,” het Tommy Muska, burgemeester van West, aan die nuusnetwerk CNN gesê.

Berigte oor die aantal sterftes het in die minute ná die ontploffing verskil. ‘n Dodetal van ongeveer 60 tot 70 is deur ‘n plaaslike stasie, KWTX, gegee. Dié syfer is volgens die stasie deur die direkteur van nooddienste in West, George Smith, gegee.

Keith Hopkins, verbonde aan die Providence-hospitaal in Waco, het aan die nuusagentskap AFP gesê nooddienspersoneel in West het ook die sterftesyfer op 60 to 70 geraam.

DL Wilson, ‘n woordvoerder vir Texas se departement van openbare veiligheid, het egter aan verslaggewers gesê hy kan nie die sterftesyfer bevestig nie

“Ons het bevestiging van sterftes. Die getal is nog nie duidelik nie. Dit kan elke minuut styg.”

Maak 'n opvolg-bydrae