President Jacob Zuma woon vandag ‘n vergadering van die streeksleiers van die Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal Afrikaanse state in Tsjad by om die krisis in die Sentraal Afrikaanse Republiek te bespreek.
Dit volg na die staatsgreep in die S.A.R waarin 13 Suid-Afrikaanse soldate dood is toe rebelle die bewind van president Francoise Bozize omver gewerp het.
‘n Noodvergadering van die leiers en president Zuma het vroeër vandeesmaand ‘n afvaardiging na die land gestuur om rebelle in te lig om ‘n komitee saam te stel om die land te bestuur en vir verkiesings oor 18 maande voor te berei. Terugvoering hieroor sal in vandag se vergadering gegee word.
President Zuma het vroeër die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Weermag in die Demokratiese Republiek van die Kongo en Soedan tot April volgende jaar verleng.
Die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj het die Parlement oor die besluit ingelig. Hy sê 850 soldate is in Darfoer ontplooi as deel van ‘n Afrika Unie/Verenigde Nasies-operasie.
Maharaj sê 1 267 weermaglede is in die DRK ontplooi as deel van ‘n VN-stabilisering-sending.
