{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
“Wat moet ons eerste doen? Die muur hoër bou of minarette oprig?”

Die mooi weer sal jou nie beskadig omdat jy jou jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.
Daar is mense wat so uiters versigtig is dat hulle nie hulle versigtigheid verniet wil vermors nie. As die weer bewolk is wanneer hulle van die huis af gaan dan doen hulle meer moeite om op te kyk hemel-toe en die opienie van die bure te verneem en die almanak te raadpleeg omtrent die toestand van die maansveranderinge, as wat dit hulle sou gekos het om maar die klein jong die sambreel op die kar te laat sit. Ek het nie diewe in my huis nie. Ek hoef eintlik maar net my brandkas – pure papiere leser: moenie jou strooi-skuldenaar stuur om ‘n ander krediteur in jou plek te kry nie – ek sê ek hoef maar net my safe toe te sluit as ek weggaan van die huis af. Maar nou sluit ek hom al dae. Dis min moeite; die sleutel raak nie opsy nie; en daar is nie gevaar dat ek juis by die nodige geleentheid die toesluit sal vergeet nie.
Ons neem almal maatreels vir ons gesondheid as ons eers die knak weg het. Dan loop ons met pluisies in die ore rond en rooi flennel onderbroeke: maar die sinkings en reumatiek kom van die jeugdige bloeidae toe ons met die nooi op die nat kweek gesit het. Ons eet nou pappies en ons drink soppies: maar die swak maag kom van die oordaad van ons gesonde lentetyd. Só sukkel ons ons ou lewe deur; ons vergeet dat gehoorsaamheid beter is as offerande; ons oortrek ons rekening op die liberale en weelderig-weldadige bank van die Natuur; en wanneer die onvermydelike bankrotskap volg, loop ons met ‘n nukkerig-donkere bakkies rond om die Voorsienigheid te beskuldig van onregverdigheid.
Soos ons met ons liggaam maak, netso ook maak ons met ons siel. In ons onskuldige Paradys-dae wanneer ons karakter nog nie besmet is omdat hy nog nie met die ghries-teer in aanraking gekom het nie, voel ons so sterk en selfvertrouend dat die versoeking geen skrik vir ons het nie omdat ons voel dat hy ons wil nie kan baasraak nie. Die een klein stappie kan ons maar neem want ons weet ons kan weer omdraai. En dan naderhand moet die halfverdronke karakter sukkel om te swem omdat die frisse gesonde in die water in geloop het uit brawado. En wanneer ons tot onsselwe kom, moet ons verbroke liggaam en riempies-gelaste siel met verwyt wat bitterder is as die gal van die hel, terugsien op die grote kanse wat hy vermors het en die kleine wat nog oorbly deeskant die graf.
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
Die huidige regering het nie korrupsie uitgevind nie. Nog nooit nie.
Net vervolmaak. Die minister in die presidensie verantwoordelik vir prestasiemonitering en evaluering, Collins Chabane, gebruik deesdae sy amptelike kredietkaart vir persoonlike uitgawes.
Nee, dis nie Herrie wat so sê nie, dis die regering wat self so sê. Nou nie in soveel woorde nie, maar dit word darem nou erken dat dinge nou heeltemal hande uit geruk het, want hulle wil nie meer daaroor praat nie.
Neem nou maar die parlementêre vliegtuigkaartjies. Dis ‘n ou ding, en Herrie ken ook een wat destyds gevang is persoonlik. Hy is later tronk toe, maar oor iets anders.
Ai, en helikopterritte elke Vrydag na ‘n sekere missieltoetsterrein naby Waenhuiskrans (waar die minister heel toevallig ‘n strandhuis gehad het), en Maandae weer terug parlement toe met die helikopter. Nee, dit was ook nie Herrie wat so briljant was om dit uit te pluis nie, maar die inwoners in die stranddorpe waaroor die heli gevlieg het, soos Hermanus, Onrus, Kleinmond, Gordonsbaai…”Daar gaan die minister weer vir sy naweeklikse inspeksie…”
Nou wie kan dan nou die eerste klip gooi as ‘n huidige minister oor die Kerstyd in ‘n Durbanse strandfront-hotel tuisgaan, en ‘n paar besoeke aan plaaslike polisiestasies bring? Al kon ‘n mens nou met daai hotelrekening die hele missieltoetsterrein koop.
Ai, en ‘n minister se eersteministerplanne wat in die slag bly toe dit kort voor die werping van die lot aan die lig kom hoe heldersiende dié minister was om te weet presies waar damme gebou, en besproeiingsplase uitgelê gaan word. Koop dan droë land, en verkoop besproeiingsgronde. Snaaks, mens sou dink so ‘n heldersiende minister sou ‘n gawe eerste minister kon wees.
Toe Herrie op skool was, was hy self taamlik heldersiende, soos om soos klokslag te weet wanneer die administrateur siek is, en een van die LUK’s as administrateur waarneem. Want dan het sy telgies met daai lang, slap kar, OVS 1, skool toe gekom, chauffeur en al.
Ai, en daai bekaf uitdrukkings toe ‘n paar LUK’s, senior amptenare, ‘n horde vroue en ‘n hele klomp vriende,familie en etlike belangstellendes in Bloemfontein van die êrrie afklim, en die SAUK (ja, toe was dit nog die SAUK) se TV-kameras wag hulle in. Dié lywige afvaardiging sonder ‘n enkele kundige het oorsee gaan besluit watter skandeerder die provinsie moet aankoop.
Natuurlik was die proffie toe al hoeka oorsee gewees om die skandeerder te gaan kies – die afvaardiging kon slegs die kleur gaan uitsoek. Fred Schnetler, destydse skrywer van Volksblad se Stop van Myne en deesdae saliger, het toe ‘n ellelange stuk geskryf oor hoe dit gebeur het dat die verbypad om Senekal 15 jaar geneem het om goedgekeur te raak. Van die afvaardigings wat eers oorsee moes gaan om ondersoek in te stel na die kleur van koppies.
Daardie verbypad, terloops, is nou nog amper 30 jaar later steeds nie gebou nie.
Nou wie kan dan ‘n vinger wys na ‘n hedendaagse brandarm munisipaliteit se toerismebevorderingsekskurie van ‘n half miljoen rand? Verspot goedkoop!
Ook voor die nuwe bedeling vertel ‘n hoofdirekteur van die TPA van ‘n sekere burgemeester wat ‘n kontrak met ‘n ontwikkelaar gesluit het. Die maatskappy sou hom naamlik ‘n miljoen rand betaal, en sy seun in die VSA op universiteit hou. Boonop, een keer jaar, gaan die gesin op maatskappykoste vir boetman in die vreemde kuier. Natuurlik is die teenprestasie nie in die kontrak vervat nie.
Toe lek die spulletjie uit, en die eintlike kontrak byt in die stof. Die maatskappy dog nog die ander kontrak is ook daarmee heen, toe laat weet die, toe gewese burgemeester, aikôna, daar is mos niks van ‘n teensprestasie nie.
Maar soos Herrie sê, al het die nuwe regering nie korrupsie uitgevind nie, hulle het dit vervolmaak. Of dit nou “handling fees” vir kontrakte is, of dit “geskenkies is om die hart bly te maak, en of dit nou sommer doodgewoon tsjôtsjô is, Herrie het dit als gesien..
Selfs ‘n burgemeester wie se onder die tafel-aksies op ‘n versteekte video-kamera vasgelê is. Pleit onskuldig, want, voer hy aan, wetgewing maak net voorsiening daarvoor dat iemand vir prostitusie en diamante in ‘n lokval gevang kan word. Nie korrupsie nie. Hy is onskuldig bevind, maar Herrie weet nie of dit iets met sy verweer te make gehad het nie.
Ja, Herrie het al als gesien.
Of nee, daar was variasies wat Herrie nie geken het nie. Ai, soos die slag wat Herrie deel was van ‘n vergadering met die onderwysbase en die een kollega ‘n geldjie vir die onthaal kry. Die “onthaal” het in inkopiesakkie in die hoek bly staan – doodgewone kruideniersware vir die huis met ongewone fondse.
In geheel was Herrie se verslag aan die Ouditeur-generaal oor die hele projek 86 bladsye.
Herrie se Sothonaam het van Lethola (die een wat sag praat weens ‘n gewas wat die senuwee na die stembande seergemaak het) na Moferefere (die een wat onluste maak) verander. So erg, ‘n hoofdirekteur uit die vorige bedeling het Herrie ingeroep en gesê Herrie skep vir die nuwe regering probleme. Herrie, of dan Moferefere, moet net bietjie diskresie aanleer, leer wegkyk nou en dan, en as Herrie hom ooit aanhaal sal hy dit “voor die Here ontken.”
Sjoe, so lekker gaan dit, ‘n bekende advokaat se naam is glads “Gaps” en ‘n rubriekskrywer “Roof.”
En as iemand dalk self moeite het om in te sien wat verkeerd is met korrupsie – neem dan maar die Wêreldbank se woord daarvoor: Korrupsie is die diefstal van ‘n land se toekoms.
‘n Aardbewing het die aand van 4 Desember 1809 ‘n groot indruk op die mense van Kaapstad en omstreke gemaak. ‘n Skrikwekkende gerammel is plotseling gehoor “asof ‘n honderdtal waens in volle galop die straat opgery, of liewer, met die snelheid van die bliksem daaroor gevlieg het”, het ‘n ooggetuie gesê.
Terselfdertyd het die Kapenaars ‘n aaklige skok gevoel wat alles laat wankel het. Die meeste huise is beskadig en op die skepe in Tafelbaai is sommige mense uit hul hangmatte geslinger. Met angs en ontsetting het mense uit hul huise gevlug, bevrees dat die mure op hulle sou instort. Baie het die eerste nagte daarna in tente deurgebring wat hulle op die Parade en ander pleine opgeslaan het.
Selfs die onverskilligstes was verskrik, en party het luidkeels geroep: “Bid vir ons! Bid vir ons!” Mense van alle ouderdomme, stande en kleure het mekaar verdring in kerke en ander plekke waar bidure gehou is.
Die Groote Kerk kon die eerste Sondag ná die aardbewing nie die menseskare bevat nie. Die predikante het hulle kans waargeneem om hul gemeentes op te wek tot bekering en heiligmaking. Lidmate wat in hul ywer verslap het, het opnuut verplig gevoel om vir die sieleheil van hulleself en anderte ywer. Party was gou weer afvallig, maar vir ander het die gebeurtenis “tot blywende seën geword” en ‘n merkbare invloed gehad op die kerklike lewe, skryf die kerkhistorikus Adriaan Moorrees.
Dié beskrywing is een van ‘n aantal uiteenlopende verslae oor godsdiens en sedes aan die Kaap. Ds. Meent Borcherds van Stellenbosch het geskryf dat die “verderflike stelsel van die ongeloof” wat sy “slangenhoofd” in dele van Europa uitgesteek het, hier met afkeer ontvang is.
Volgens Lichtenstein moes mense partykeer tot drie weke kerk toe en terug reis, “oor steile berge en deur diep en gevaarlike riviere, soos die Jode van ouds na hul tempel in Jerusalem, en op hul terugreis oordenk hulle wat hulle gehoor het om dit dus vir hulle van nut te maak.”
Aan die ander kant was daar ‘n aantal ontuggevalle op die Kaapse kerkregisters. “Some of our Duch ladies […] are not all that they should be”, het lady Anne Barnard beweer.
‘n Besluit van groot belang vir die toekoms was die invoer van Gesange. In Nederland het die Gereformeerde Kerk die Evangelische Gezangen op 1 Januarie 1807 in gebruik geneem. Aangesien die Nasionale Sinode van Dordrecht die sing van alle liedere behalwe die Psalms en ‘n paar duidelik vermelde gesange verbied het, is die saadjie gesaai vir ontevredenheid en verset.
Dit het later gelei tot skeurings in die Nederlandse kerk, wat sedert 1816 offisieel as die Nederlandse Hervormde Kerk bekend was, asook die Kerk in Suid-Afrika. Op die tweede Sondag van Januarie 1814 is die gesange in die gemeente Kaapstad in gebruik geneem, en kort daarna in buitegemeentes. Teen dié tyd was die NG Kerk, soms ook Hervormde Kerk genoem, een van die min Kaapse instellings met voorlopig ‘n Hollandse karakter. Daar was in 1806 sewe gemeentes: Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, Swartland, Tulbagh, Graaff-Reinet en Swellendam.
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}