praag.co.za

Ons blaps so lekker want ons gaps so lekker

Written by

in

Die huidige regering het nie korrupsie uitgevind nie. Nog nooit nie.

Net vervolmaak. Die minister in die presidensie verantwoordelik vir prestasiemonitering en evaluering, Collins Chabane, gebruik deesdae sy amptelike kredietkaart vir persoonlike uitgawes.

Nee, dis nie Herrie wat so sê nie, dis die regering wat self so sê. Nou nie in soveel woorde nie, maar dit word darem nou erken dat dinge nou heeltemal hande uit geruk het, want hulle wil nie meer daaroor praat nie.

Neem nou maar die parlementêre vliegtuigkaartjies. Dis ‘n ou ding, en Herrie ken ook een wat destyds gevang is persoonlik. Hy is later tronk toe, maar oor iets anders.

Ai, en helikopterritte elke Vrydag na ‘n sekere missieltoetsterrein naby Waenhuiskrans (waar die minister heel toevallig ‘n strandhuis gehad het), en Maandae weer terug parlement toe met die helikopter. Nee, dit was ook nie Herrie wat so briljant was om dit uit te pluis nie, maar die inwoners in die stranddorpe waaroor die heli gevlieg het, soos Hermanus, Onrus, Kleinmond, Gordonsbaai…”Daar gaan die minister weer vir sy naweeklikse inspeksie…”

Nou wie kan dan nou die eerste klip gooi as ‘n huidige minister oor die Kerstyd in ‘n Durbanse strandfront-hotel tuisgaan, en ‘n paar besoeke aan plaaslike polisiestasies bring? Al kon ‘n mens nou met daai hotelrekening die hele missieltoetsterrein koop.

Ai, en ‘n minister se eersteministerplanne wat in die slag bly toe dit kort voor die werping van die lot aan die lig kom hoe heldersiende dié minister was om te weet presies waar damme gebou, en besproeiingsplase uitgelê gaan word. Koop dan droë land, en verkoop besproeiingsgronde. Snaaks, mens sou dink so ‘n heldersiende minister sou ‘n gawe eerste minister kon wees.

Toe Herrie op skool was, was hy self taamlik heldersiende, soos om soos klokslag te weet wanneer die administrateur siek is, en een van die LUK’s as administrateur waarneem. Want dan het sy telgies met daai lang, slap kar, OVS 1, skool toe gekom, chauffeur en al.

Ai, en daai bekaf uitdrukkings toe ‘n paar LUK’s, senior amptenare, ‘n horde vroue en ‘n hele klomp vriende,familie en etlike belangstellendes in Bloemfontein van die êrrie afklim, en die SAUK (ja, toe was dit nog die SAUK) se TV-kameras wag hulle in. Dié lywige afvaardiging sonder ‘n enkele kundige het oorsee gaan besluit watter skandeerder die provinsie moet aankoop.

Natuurlik was die proffie toe al hoeka oorsee gewees om die skandeerder te gaan kies – die afvaardiging kon slegs die kleur gaan uitsoek. Fred Schnetler, destydse skrywer van Volksblad se Stop van Myne en deesdae saliger, het toe ‘n ellelange stuk geskryf oor hoe dit gebeur het dat die verbypad om Senekal 15 jaar geneem het om goedgekeur te raak. Van die afvaardigings wat eers oorsee moes gaan om ondersoek in te stel na die kleur van koppies.

Daardie verbypad, terloops, is nou nog amper 30 jaar later steeds nie gebou nie.

Nou wie kan dan ‘n vinger wys na ‘n hedendaagse brandarm munisipaliteit se toerismebevorderingsekskurie van ‘n half miljoen rand? Verspot goedkoop!

Ook voor die nuwe bedeling vertel ‘n hoofdirekteur van die TPA van ‘n sekere burgemeester wat ‘n kontrak met ‘n ontwikkelaar gesluit het. Die maatskappy sou hom naamlik ‘n miljoen rand betaal, en sy seun in die VSA op universiteit hou. Boonop, een keer jaar, gaan die gesin op maatskappykoste vir boetman in die vreemde kuier. Natuurlik is die teenprestasie nie in die kontrak vervat nie.

Toe lek die spulletjie uit, en die eintlike kontrak byt in die stof. Die maatskappy dog nog die ander kontrak is ook daarmee heen, toe laat weet die, toe gewese burgemeester, aikôna, daar is mos niks van ‘n teensprestasie nie.

Maar soos Herrie sê, al het die nuwe regering nie korrupsie uitgevind nie, hulle het dit vervolmaak. Of dit nou “handling fees” vir kontrakte is, of dit “geskenkies is om die hart bly te maak, en of dit nou sommer doodgewoon tsjôtsjô is, Herrie het dit als gesien..

Selfs ‘n burgemeester wie se onder die tafel-aksies op ‘n versteekte video-kamera vasgelê is. Pleit onskuldig, want, voer hy aan, wetgewing maak net voorsiening daarvoor dat iemand vir prostitusie en diamante in ‘n lokval gevang kan word. Nie korrupsie nie. Hy is onskuldig bevind, maar Herrie weet nie of dit iets met sy verweer te make gehad het nie.

Ja, Herrie het al als gesien.

Of nee, daar was variasies wat Herrie nie geken het nie. Ai, soos die slag wat Herrie deel was van ‘n vergadering met die onderwysbase en die een kollega ‘n geldjie vir die onthaal kry. Die “onthaal” het in inkopiesakkie in die hoek bly staan – doodgewone kruideniersware vir die huis met ongewone fondse.

In geheel was Herrie se verslag aan die Ouditeur-generaal oor die hele projek 86 bladsye.

Herrie se Sothonaam het van Lethola (die een wat sag praat weens ‘n gewas wat die senuwee na die stembande seergemaak het) na Moferefere (die een wat onluste maak) verander. So erg, ‘n hoofdirekteur uit die vorige bedeling het Herrie ingeroep en gesê Herrie skep vir die nuwe regering probleme. Herrie, of dan Moferefere, moet net bietjie diskresie aanleer, leer wegkyk nou en dan, en as Herrie hom ooit aanhaal sal hy dit “voor die Here ontken.”

Sjoe, so lekker gaan dit, ‘n bekende advokaat se naam is glads “Gaps” en ‘n rubriekskrywer “Roof.”

En as iemand dalk self moeite het om in te sien wat verkeerd is met korrupsie – neem dan maar die Wêreldbank se woord daarvoor: Korrupsie is die diefstal van ‘n land se toekoms.

 

 

детские куклыДанильченко Харьков

Comments

Leave a Reply