Honderde groet ‘Rooi Konsertina’

Meer as 200 mense het in Pretoria hul laaste eer betoon aan die Afrikaanse musikant en boeremusieklegende, Nico van Rensburg, berig RSG.

Afrikaanse kultuurorganisasies en lede van die Afrikaanse musiekgemeenskap, waaronder Steve Hofmeyr het hul medelye aan Van Rensburg se familie betuig. Dit is hardop tydens sy gedenkdiens gelees.

Van Rensburg is Sondag aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was bekend as die “Rooi Konsertina”.

Een van sy vriende, die akteur Lieb Bester, sê Van Rensburg was nie slegs ‘n ikoon in die Afrikaanse gemeenskap nie, maar ook in Suid-Afrikaanse musiekkringe.

Kundigheidsverlies ‘n kopseer

Swak bestuur is besig om Suid-Afrika duur te kos in terme van wetenskaplike- en tegnologiese vooruitgang, en veral die verlies aan top-kundiges op die gebied, wat deur ander lande opgeraap word, is ‘uiters kommerwekkend’.

Adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor wetenskap en tegnologie, het vandag met die begrotingposdebat van die department van wetenskap en tegnologie ook gepraat oor die Sunspace-program wat weens kortsigtigheid en swak besluitneming aan regeringskant deels ten gronde gegaan het.

“Sunspace, ‘n satellietvervaardigingsmaatskappy wat reeds groot sukses met die bou van ‘n satelliet behaal het, se geldelike steun van die regering is ingekort. Die ‘enigste private ruimtevaartmaatskappy’ sal nou met Denel moet saamsmelt in ‘n poging om hom van ondergang te red,” sê adv. Alberts.

“Dit is kommerwekkend om te sien dat die intellektuele kapitaal of menslike hulpbronne rondom die gestaakte korrelbedkernreaktor-program nou ook privaat voortgaan met die projek in die VSA. Dit laat die vraag ontstaan of daar ooit probeer is om die talent vir Suid-Afrika te behou.

“Hierdie departement speel ‘n groot rol om te sorg dat Suid-Afrika deel bly van hierdie breë beweging van wetenskap en tegnologie wat aan ons kennis bring oor die aard van ons bestaan asook hoe ons die toekoms kan bestuur tot voordeel van almal op aarde.

“Hy moet ook die volle potensiaal van wetenskap en tegnologie realiseer in sosiale en ekonomiese ontwikkeling deur menslike hulpbronne, navorsing en innovasie.

“Wat met Sunspace gebeur het, en die feit dat die land van sy voorste wetenskaplikes en tegnoloë weens die regering se stiksienigheid verloor, is ‘n terugslag vir die land.

“Die minister kan ingryp om oplossings te vind. Een van die belangrikste dinge is om Sunspace van ondergang te red,” het adv. Alberts gesê.

SA bly buite stemming oor Sirië

Die VN se Algemene Vergadering het ‘n Arabiesgesteunde voorstel aanvaar wat die toename van geweld in Sirië veroordeel, maar wat ook die totstandkoming van die Nasionale Koalisie vir Siriese Rewolusionêre en Opposisiemagte verwelkom.

Die stap word gesien as ‘n aanvaarding van die opposisie as ‘n party in die oorgang in dié land.

Die voorstel is met 107 stemme aanvaar. Suid-Afrika is een van 57 lande wat buite stemming gebly het weens kommer oor balans in die voorstel.

Rusland en Sirië en nog 10 ander lande het teen die voorstel gestem en dit as eensydig bestempel.

Entstofveldtog by skole van volgende jaar

Die regering sal in Februarie aanstaande jaar begin om entstowwe teen servikale kanker by skole toe te dien.

Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi sê die regering hoop om te onderhandel oor laer pryse vir die entstof teen die menslike papilloomvirus, wat servikale kanker veroorsaak.

Die entstof sal toegedien word aan nege- en tienjarige meisies, aangesien die entstof slegs doeltreffend is voordat meisies seksueel aktief begin raak.

Motsoaledi het ‘n beroep op mediese fondse gedoen om vir die entstowwe te betaal. Hy sê servikale kanker raak sesduisend Suid-Afrikaanse vroue per jaar, en bykans die helfte van hulle sterf jaarliks daaraan.

Kitsbanke spoeg minder note in April

Onttrekkings by kitsbanke het in April 2013 met 0,73% afgeneem, het Spark ATM Systems Maandag gesê.

Kontankonttrekkings was effens minder as tydens die Maart-vakansietydperk, maar was 6,01% meer as dieselfde maand verlede jaar, het die maatskappy gesê.

Die gemiddelde bedrag wat kitsbankgebruikers onttrek het, is volgens ‘n ontleding van kontantonttrekkings by 2 000 kitsbanke R461,65.

Die grootste afnames is gesien by kleinhandel (2,41%), groothandel (1,57%) en landbou-gebiede (1,48%), het Ryan Tzamtzis, bedryfshoof van Spark ATM Systems, in ‘n verklaring gesê.

“Die afnames in die gebiede dui daarop dat verbruikers minder bestee het as in Maart, toe daar ‘n toename in onttrekkings was as gevolg van die Paasnaweek, skoolvakansie en ander openbare vakansiedae in die maand.”

Werk by Lonmin hervat na rand val

Werk by al 13 skagte van Lonminmyn in Marikana in die Noordwes is hervat.

Die stakende werkers het laat Woensdag ‘n onwettige staking van twee dae beëindig en bedrywighede is dieselfde aand hervat.

Die staking het tot ‘n einde gekom nadat Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), Woensdag meer as 5 000 werkers by die Wonderkop-stadion toegespreek het.

“Daar is kanale wat gevolg moet word… gaan terug werk toe sodat jul vyande nie voordeel uit hierdie situasie trek nie,” het Mathunjwa aan die werkers gesê.

Amcu, die mynbestuur en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) sal Donderdag vergader om Amcu se erkenning as meerderheidsvakbond te bespreek, berig RSG.

Mathunjwa het vroeër aangedui dat ‘n staking kan volg indien die vakbond nie tevrede is met die uitslag van dié samesprekings nie.

Die mynwerkers het Dinsdag begin staak en eis dat die National Union of Mineworkers se kantore by Lonmin onmiddellik gesluit word.

Die rand het tot sy swakste vlak sedert middel-April gedaal en verhandel tans teen R9,22 teenoor die dollar, berig RSG.

Die nuwe vrese oor arbeidsonrus in Marikana in die Noordwes het opgevlam na die onwettige staking begin het.

Die stakers was kwaad oor die dood van ‘n vakbondleier die afgelope naweek in Nkaneng. Hulle eis dat die vakbond, die NUM se kantore by Lonmin gesluit word.

Lonmin se aandeleprys het Dinsdag byna 7% laer gesluit.

Mediakonferensie kom binnekort oor Gupta-verslag

Die ministers van justisie, misdaadvoorkoming- en veiligheid sal binnekort ‘n nuuskonferensie hou om die uitslag van die ondersoek na die ongemagtigde landing van ‘n private straler op die Waterkloof-lugmagbasis bekend te maak.

Phumla Williams, woordvoerder van die regering, het gesê die groepering is daartoe verbind om te verseker dat streng maatreëls getref word om ‘n herhaling daarvan te voorkom, het RSG berig.

‘n Straler, wat deur die skatryk Gupta-familie gehuur is, het op 29 April met 270 bruilofgaste aan boord by die lugmagbasis geland.

Gaste het die troue van Vega Gupta by Sun City bygewoon. Die landing by ‘n nasionale sleutelpunt het groot kritiek uitgelok.

Intussen is daar nog nie ‘n besluit geneem oor of ‘n klag by Indië gelê gaan word oor die landing nie.

Die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ebrahim Ebrahim, het Dinsdag gesê besluite sal eers geneem word nadat ‘n ondersoek in die saak afgehandel is.

“In hierdie stadium was daar geen klagtes aan die Indiese regering gemaak oor die Indiese hoë-kommissaris (Virendra Gupta) nie. Ons wag vir die bevindinge van daardie kommissie,” het hy aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Afhangende van die kommissie se bevindinge sal ons sien watter besluite geneem word,” het hy gesê.

Virendra Gupta is nie familie van die ryk Gupta-familie nie.

Die Guptas besit die New Age-koerant, sowel as Sahara Computers.

Twee wat Mpofu aanval, vasgetrek

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die aanranding van adv. Dali Mpofu in Oos-Londen, het die polisie in die Oos-Kaap Woensdag gesê.

Die twee, wat beide 23 jaar oud is, is Dinsdag in Cambridge in hegtenis geneem, het brig. Phuti Setati gesê.

Die polisie het daarin geslaag om beslag op die [beweerde] wapen te lê… sowel as die selfoon wat gesteel is,” het hy gesê.

Mpofu, wat die mynwerkers verteenwoordig wat in verlede jaar se skietery met die polisie in Marikana betrokke was, is op 11 April beroof en met ‘n mes gesteek terwyl hy op ‘n strand in Oos-Londen gestap het.

Die voormalige uitvoerende hoof van die SABC is drie dae later uit die hospitaal ontslaan en was aangeraai om nie per vliegtuig te reis nie weens die skade aan sy longe.

Setati het gesê die polisie het vasgestel dat beide die verdagtes uit was op R500 se borgtog vir ‘n beweerde rooftog in Oktober.

In daardie voorval is ‘n toeris en polisiereservis van hul selfone beroof. Die twee beskuldigdes sal op 24 Mei weer in die landdroshof in Oos-Londen verskyn in verband met die roofsaak.

Hulle sal Vrydag in dieselfde hof verskyn in verband met die aanval op Mpofu. Hulle staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof.

Gupta-uitnodiging deur bomeenheid opgeblaas

Noordwes-polisiebeamptes het ‘n uitnodiging na Vega Gupta se uitspattige troue opgeblaas omdat hulle gedink het dis ‘n plofbaar.

The Star berig die uitnodiging was aan die provinsiale polisiekommissaris, lt.kol. Merriam Mbombo, gerig.

Brig. Thulani Ngubane het aan die koerant verduidelik dat die pakkie verdag gelyk het.

“Ons het die uitnodiging gekry, maar Mev. Mbombo het nie ‘n uitnodiging verwag nie.

“… Dit het gelyk asof dit drade [aangeheg] gehad het en ons moes ons normale veiligheidstoetse doen.”

Ses versierde silinders was aangeheg, wat na bewering geskenke soos sjokolade bevat het.

Luidens die berig het ‘n snuffelhond ook op iets verdag afgekom.

“So ons het geen keuse gehad nie… en moes die bomeenheid inroep,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Die Guptas het ‘n opskudding veroorsaak toe trougaste drie weke gelede vir die troue by Sun City, by die Waterkloof-lugmagbasis geland het.

Vyf hooggeplaaste amptenare en militêre personeellede is sedertdien geskors.

Verskeie regeringsdepartemente is besig om die saak te ondersoek.

Disqus-kommentaar is terug op PRAAG-webwerf

Geagte leser, ons het die Disqus-stelsel op die PRAAG-wewerf weer aangeskakel, ná vele versoeke van ons lesers. Die afgelope tyd het ons hoofsaaklik op Facebook en Twitter gesprek gevoer, maar onlangse berigte dui daarop dat Facebook al hoe meer sensuur oor alternatiewe media wil toepas.

Daarom is die Disqus-gespreksforum van wesentlike belang om die gesprek in Afrikaans warm te hou. Anders as in die verlede, gaan ons egter baie streng waak teen die misbruik van die forum. Ons sal later meer breedvoerige riglyne plaas, maar die volgende soort gedrag en kommentaar is nie op Disqus toelaatbaar nie:

  • persone wat as agents provocateurs of “trolle” optree bloot om beledigend en twissoekerig te wees;
  • blatante rassisme en kwetsende aanmerkings oor ander etniese groepe wat PRAAG aan vervolging mag blootstel;
  • laster teen individue wat PRAAG insgelyks aan eise mag blootstel.
Ons is ten gunste van spraakvryheid, maar vra dat elke deelnemer verantwoordelik hiermee omgaan en ons nie in ‘n moeilike posisie plaas waar vyandige groepe byvoorbeeld kommentaar op Disqus versamel en dit as PRAAG-beleid voorhou nie.
In elk geval aanvaar ons geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige kommentaar wat deur lesers op die Disqus-afdeling geplaas word nie en neem u op eie risiko aan enige gesprek deel.

As ‘n reël moet u van u regte naam gebruik maak op Disqus, tesame met ‘n werklike eposadres. Indien daar ‘n rede mag wees waarom u ‘n skuilnaam wil gebruik, moet u goeie redes aan ons moderators verstrek (viktimisering by die werk, u openbare profiel, ens.), wat agterna sal besluit of u onder ‘n skuilnaam mag deelneem, aldan nie.

Voel vry om hier onder ook kommentaar te lewer of vrae oor die nuwe beleid te vra.