Meer as 200 mense het in Pretoria hul laaste eer betoon aan die Afrikaanse musikant en boeremusieklegende, Nico van Rensburg, berig RSG.
Afrikaanse kultuurorganisasies en lede van die Afrikaanse musiekgemeenskap, waaronder Steve Hofmeyr het hul medelye aan Van Rensburg se familie betuig. Dit is hardop tydens sy gedenkdiens gelees.
Van Rensburg is Sondag aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was bekend as die “Rooi Konsertina”.
Een van sy vriende, die akteur Lieb Bester, sê Van Rensburg was nie slegs ‘n ikoon in die Afrikaanse gemeenskap nie, maar ook in Suid-Afrikaanse musiekkringe.
