‘n ANC-lid is buite sy huis in Westonaria aan die Wes-Rand doodgeskiet, het die party Donderdag gesê.
“Die ANC is geskok en verslae oor die dood van Jackson Mafika, wat Woensdag deur onbekende gewapende mans by sy huis doodgeskiet is,” het die party in ‘n verklaring gesê.
“Die ANC het ‘n wonderlike leier verloor, wat toegewy was daaraan om die mense te dien.”
Konst. Elsie Tshonte het bevestig dat ‘n man Woensdag geskiet is, maar kon nie verdere inligting verskaf nie.
Die ANC het gesê Mafika was besig om voorbereidings te tref vir sy broer, wat verlede week doodgesteek is, se begrafnis.
Die party het sy medelye betuig met Mafika se familie.
