Disqus-kommentaar is terug op PRAAG-webwerf

Geagte leser, ons het die Disqus-stelsel op die PRAAG-wewerf weer aangeskakel, ná vele versoeke van ons lesers. Die afgelope tyd het ons hoofsaaklik op Facebook en Twitter gesprek gevoer, maar onlangse berigte dui daarop dat Facebook al hoe meer sensuur oor alternatiewe media wil toepas.

Daarom is die Disqus-gespreksforum van wesentlike belang om die gesprek in Afrikaans warm te hou. Anders as in die verlede, gaan ons egter baie streng waak teen die misbruik van die forum. Ons sal later meer breedvoerige riglyne plaas, maar die volgende soort gedrag en kommentaar is nie op Disqus toelaatbaar nie:

  • persone wat as agents provocateurs of “trolle” optree bloot om beledigend en twissoekerig te wees;
  • blatante rassisme en kwetsende aanmerkings oor ander etniese groepe wat PRAAG aan vervolging mag blootstel;
  • laster teen individue wat PRAAG insgelyks aan eise mag blootstel.
Ons is ten gunste van spraakvryheid, maar vra dat elke deelnemer verantwoordelik hiermee omgaan en ons nie in ‘n moeilike posisie plaas waar vyandige groepe byvoorbeeld kommentaar op Disqus versamel en dit as PRAAG-beleid voorhou nie.
In elk geval aanvaar ons geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige kommentaar wat deur lesers op die Disqus-afdeling geplaas word nie en neem u op eie risiko aan enige gesprek deel.

As ‘n reël moet u van u regte naam gebruik maak op Disqus, tesame met ‘n werklike eposadres. Indien daar ‘n rede mag wees waarom u ‘n skuilnaam wil gebruik, moet u goeie redes aan ons moderators verstrek (viktimisering by die werk, u openbare profiel, ens.), wat agterna sal besluit of u onder ‘n skuilnaam mag deelneem, aldan nie.

Voel vry om hier onder ook kommentaar te lewer of vrae oor die nuwe beleid te vra.

Maak 'n opvolg-bydrae