Google wil net oor Afrika span

Google wil netwerke van Sub-Sahara-Afrika tot Suidoos-Asië finansier, oprig en bestuur in die hoop om ongeveer ‘n miljard mense in ontluikende lande internettoegang te gee, het die Wall Street Journal (WSJ) berig.

Die internet-soekreus gebruik ‘n verskeidenheid tegnologiese hulpmiddels en is in gesprekke met reguleerders van Suid-Afrika tot Kenia oor sy planne, het die WSJ berig.

Die hoë koste van infrastruktuur, streng regulasies en moeilike geografiese ligging het tot nog toe internettoegang in verskeie Afrikalande belemmer.

Google sal glo steun probeer werf by reguleerders om golwe te gebruik wat tot dusver uitgehou is vir televisie-uitsendings, en wat teen laer frekwensies deur geboue en oor langer afstande kan beweeg.

Verder wil Google lae-koste-selfone verskaf en ballonne daarvoor gebruik om seine van hoër hoogtes oor honderde vierkante kilometer uit te stuur.

Die maatskappy het reeds met verskeie kleinskaalse oefenlopies begin, waaronder ‘n proefneming in Kaapstad.

Google wou nie kommentaar oor die planne lewer nie. Beter toegang tot breëband-inligting strek tot voordeel van Google, omdat meer mense dan van sy soek- en ander dienste gebruik maak.

Doeanebeheer opgeskerp na Gupta-debakel

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal doeane-beheer verskerp by die Waterkloof-lugmagbasis en ander toegangspunte, het The Star Dinsdag berig.

Dít volg nadat ‘n vliegtuig met die Gupta-familie se trougaste op 30 April onregmatig op die lugmagbasis geland het.

In ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag deur Tim Harris, DA-LP, het Pravin Gordhan, minister van finansies, gesê Waterkloof is “nie onder gewone omstandighede ‘n kommersiële toegangspunt nie”, maar dit sal ná die Gupta-voorval hersien word.

Harris het Gordhan gevra hoekom die SAID se doeanebeamptes nie teenwoordig was om te verseker dat doeane-prosedures gevolg word nie.

“Die bestuur van die SAID is beveel om te kyk watter lesse uit die voorval geleer is, en om voorstelle aan die minister van finansies te maak oor wat verander moet word om doeane-beheer by die nodige toegangspunte te verbeter,” het Gordhan gesê.

Gordhan het gesê Waterkloof is nie as ‘n internasionale lughawe geklassifiseer nie.

Diepsloot: Situasie gespanne na xenofobiese aanvalle

Die situasie in Diepsloot is steeds gespanne nadat ‘n Somaliese winkelier twee Zimbabwiërs doodgeskiet het, sê die polisie woordvoerder Lungelo Dlamini.

Buitelandse winkeliers in Diepsloot, Johannesburg skuil by ‘n motorwassery waar polisiebeamptes hulle beskerm nadat inwoners die naweek hul winkels geplunder het.

‘n Ethiopiese man het aan Eyewitness News gesê hy smous kruidenierswarel in die gebied. Hy sê hy is bang hy word deur die plunderaars geteiken en wil hê die polisie moet hom beskerm.

Die polisie se vinnige optrede het glo verhoed dat die geweld verder uitbrei.

“Dit lyk soos apartheid. Die mense beroof nie plaaslike winkels nie, maar wil net buitelanders se winkels besteel.”

Diepsloot-inwoners sê die naweek se moord en die grootskaalse plundering van 19 buitelanders se winkels, is as gevolg van frustrasie oor werkloosheid en armoede.

Die Somaliër beweer die oorledenes het sy spaza-winkel probeer beroof.

Inwoners het op die winkel toegeslaan in reaksie op die moorde.

‘n Ooggetuie sê inwoners het ná die skietery hul woede op buitelanders in die gebied gerig en gedreig om hul winkels af te brand.

Suid-Afrikaners is vyandig teenoor buitelanders in Diepsloot sê ‘n Zimbawiese burger en sê buitelanders steel hul werksgeleenthede en vroue.

ANC-tenderpreneur ‘aan die werk’ in Pretoria

Beeld berig dat die ANC in die sogenaamde Tshwane-metro “in die kruisvuur verkeer oor tenders van miljoene rande wat glo op verdagte wyse aan die party se streeksekretaris toegeken word.

Die Tshwane-metro het in April ’n tender teen meer as R3,3 miljoen aan die maatskappy Paul & Partners Engineers & Quantity Surveyors toegeken vir werk oor drie jaar aan die New Parkmore-reservoir in die ooste van Pretoria.

Die maatskappy behoort aan Paul Mojapelo, ANC-streeksekretaris in Tshwane.

Daar is aanvanklik aanbeveel dat die tender toegeken word aan EVN Africa Consulting Services, wat die werk vir R1,1 miljoen sou doen.

EVN Africa het 95 bodbeoordelingspunte gekry en Paul & Partners 86 punte, weens dié maatskappy se hoë tenderprys.

Afgesien van EVN Africa het agt ander maatskappye beter punte as Mojapelo se maatskappy behaal.

Daar was volgens inligting ‘ingryping van bo’ wat meegebring het dat Paul & Partners die tender gekry het.”

’n Senior amptenaar in die aankope-afdeling het gesê die tegniese evaluering is ’n “groot grap”.

“EVN Africa doen groot projekte oor Suider-Afrika heen en Paul & Partners het nie eens ’n webwerf nie. Maak jy die som.”

Daar was in November 2011 soortgelyke vrae oor ’n tender vir werk in talle van Tshwane se munisipale streke, wat aan Mojapelo toegeken is.

Mojapelo het gesê hy het ’n wettige maatskappy en betaal belasting.

“Daar is geen rede waarom ek nie vir Tshwane werk kan doen nie.”

Die Tshwane-metro het nie op navrae gereageer nie.

Volledige berig hier.

Xenofobiese geweld vlam op ná buitelandse inmenging

Orange Farm en Sebokeng gaan kwaai gebuk onder xenofobiese geweld, en die aanvalle is onlosmaaklik deel van ander kwessies in hierdie gemeenskappe wat deur buitelandse inmenging vererger word.

Orange Farm, suid van Johannesburg, en die naburige Sebokeng-plakkerskampe, is uiters gespanne nadat xenofobiese aanvalle op buitelandse winkeleienaars Vrydag weer opgevlam het.

Die mededinging om skaars hulpbronne, soos HOP-huise en kliënte vir informele handelaars wat moet staatmaak op ‘n grootliks werklose gemeenskap vir inkomste, het Vrydag tot hernude geweld gelei.

Die plundering wat gevolg het teen buitelandse winkeleienaars in die gebied, was byna identies aan dié van Februarie 2010 toe swart skoolkinders buitelanders se winkels in Orange Farm onder die dekmantel van diensleweringprotes aangeval het.

Hierdie keer is die protes georganiseer deur Wasp, wat tans egter alle betrokkenheid in die plundering ontken. Dié nuwe party word deur buitelandse geld en wit kundigheid van oorsee bedryf en hits swartes aan teen ‘kapitaliste’.

Llt.kol Lungelo Dlamini het gesê die gebeure het Maandag met ‘n diensleweringprotes buite Sebokeng begin. Paaie is versper en die protes het vinnig versprei na die naburige Evaton en Orange Farm, binne sowat 20 minute.

Die polisie vermoed die paaie is versper in ‘n poging om beamptes te verhoed om  toegang tot die gebiede waar die plundering plaasgevind het, te verkry.

Teen Donderdag het die polisie buitelanders aangeraai om die gebied te verlaat en selfs gehelp om sommige van hulle se winkels en huise te pak.

Die polisie het ook inligting ontvang dat skole gesluit sou word Vrydag sodat kinders kan deelneem aan die protes.

Daardie middag, is winkels in Sebokeng geplunder en hul buitelandse eienaars moes vlug. Die plundering het gou oor die grens van Gauteng na Orange Farm gespoel waar meer as 100 mense in hegtenis geneem is. Hulle sal in die hof verskyn hierdie week.

Die voorval herinner aan die 2008-xenofobiese geweld waarin meer as 60 mense dood en duisende ontwortel is.

Harde dwelms by Moot-skool gevind

Kokaïen en ander dwelms is gevind by ‘n skool in die Moot, Vrydagmiddag.

Die ontdekking van ongeveer sewe sakkies kokaïen by die Hoërskool Staatspresident CR Swart in Waverley het weer eens bewys dat dwelms in skole vinnig besig is om ‘n epidemie te word.

Die Tshwane Metropolisie se klopjag op die skool het Vrydagoggend plaasgevind, na aanleiding van ‘n wenk van besorgde lede van die gemeenskap sowel as die skool.

Uit 14 kinders wat as gebruikers geïdentifiseer en getoets is, het drie positief vir dwelmgebruik getoets.

Volgens supt Isak Mahamba, het hulle op die skool om 09:00 op Vrydagoggend toegeslaan.

Nie een van die dwelms waarop beslag gelê is was in die besit van die leerlinge nie, maar op die skoolterrein gevind, omdat hulle na bewering die pakkies uit die vensters gegooi het toe hulle hoor van die polisieteenwoordigheid.

Mahamba het gesê dat die skool is ‘n bron van kommer as gevolg van die groot aantal leerlinge wat hulle genader het vir hulp met betrekking tot dwelmverslawing.

Hy het gesê dat sewe klein sakkies kokaïen, sowel as dagga is gevind.

Mahamba het gesê ouers en onderwysers moet betrokke raak in die identifisering van kinders wat hulp nodig het. Hy het gesê hulle sal dwelmklopjagte uitvoer in die komende maande by verskeie ander skole.

Hoërskool Staatspresident CR Swart was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Franse anti-gay-optog raak gewelddadig

Die Franse polisie het bykans 300 mense in hegtenis geneem tydens ‘n optog in Parys waarin standpunt téén gay-huwelike en aannemings ingeneem is.

Die betoging was aanvanklik vreedsaam en deelnemers het vlae en baniere gewaai. Die betogers het egter later bottels en rookbomme na die polisie begin gooi. Honderde jeugdiges was betrokke.

Die polisie het traangas gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Volgens die owerhede het sowat 150 000 mense aan die protesoptrede deelgeneem, maar die organiseerders sê daar was minstens een miljoen mense.

Frankryk het onlangs gay-huwelike goedgekeur en die eerste troue tussen twee mans was Woensdag in Montpellier in die suide van Frankryk.

Mesaanval op polisielid in Frankryk ook ‘terreur’

Franse aanklaers sal die mesaanval op ‘n soldaat naby die land se hoofstad, Parys, as ‘n terreurdaad hanteer.

Die BBC berig dat die soldaat, Cedric Cordier tydens ‘n voetpatrollie met twee kollegas deur ‘n man van agter af oorval en met ‘n mes in die nek gesteek is.

Die polisie sê hoewel die soldaat ernstig beseer is, sal hy die aanval oorleef.

Frankryk se minister van verdediging, Jean Yves Le Drian, het aan verslaggewers gesê die soldaat is as gevolg van sy beroep geteiken.

Die polisie is steeds op soek na die aanvaller wat vermoedelik van Noord-Afrika afkomstig is.

Pres. Francois Hollande sê daar is tot dusver geen teken dat die aanval verband hou met die onlangse moord op ‘n Britse soldaat in Londen nie.

Nóg ‘n man is in hegtenis geneem in verband met die dood van van ‘n Britse soldaat in Londen, het die Britse speurdiens, Scotland Yard, bevestig.

Die 22-jarige man is in die noorde van Londen aangekeer omdat hy vermoedelik deel was van ‘n sameswering om moord te pleeg, berig RSG.

Drie ander mans is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Twee van dié mans is steeds in die hospitaal nadat hulle op die toneel waar die 25-jarige soldaat Lee Rigby herhaaldelik gesteek is, deur die polisie geskiet is.

Een van die mans, Michael Adebolajo, is voorheen in Kenia in hegtenis geneem omdat hy na bewering probeer het om hom by die Somaliese Islamitiese militante groep al-Shabab aan te sluit.

Adebolajo is glo genader deur die Britse geheimediens MI5 ses maande gelede en gevra of hy vir hulle wil werk.

‘n Jeugvriend van die vermeende terroris beweer MI5 het Adebolajo ná ‘n reis na Kenia verlede jaar, genader.

Abu Nusaybah het gesê die moordverdagte het geglo MI5 het hom afgeluister en ‘aan sy deur kom klop’ vir inligting oor ‘n sekere individu.

MI5 is reeds fel gekritiseer nadat dit bekend geword het dat Adebolajo en mede-verdagte Michael Adebowale vir agt jaar gemonitor is deur die veiligheidsdiens.

Dié skokkende onthullings oor die beweerde moordenaars se bekende skakeling met Islamitiese ekstremisme, is deur Abu Nusaybah, op die BBC se Newsnight-program gemaak: “Sy bewoording was,  ‘Hulle luister my af – hulle sal my nie uitlos nie'”.

Mandela te sag met wittes, sê Mugabe

Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, het in ‘n televisieonderhoud  Nelson Mandela se versoeningsbeleid gekritiseer, en het die oudpresident daarvan beskuldig dat hy “te veel van ‘n heilige is.”

Die Sunday Independent berig die omstrede staatshoof het dié uitlatings met die televisie-aanbieder Dali Tambo gedeel.

“Mandela het ‘n bietjie te ver gegaan om goed te wees vir die nie-swart gemeenskappe… In sommige gevalle ten koste van ander [swartes]…”

Mugabe meen Madiba is besig om “te goed” en “te veel van ‘n heilige” te wees.

Die onderhoud is opgeneem vir die program People of the South en sal oor ‘n week uitgesaai word.

Die Sunday Independent berig die onderhoud bevat ook beeldmateriaal van die omstrede president se familie. Mugabe se vrou, Grace, gesels ook met die aanbieder op ‘n suiwelplaas.

Die onderhoud is einde verlede jaar opgeneem.

Tambo het bewerings dat hy die ou staatshoof se beeld probeer poets het, ten sterkste ontken.

Die gewilde televisieaanbieder het bygevoeg dat hy nie omgee as enigiemand kwaad raak oor die onderhoud met die Zimbabwiese leier nie.

“Dit is nie ‘n politieke program nie. Ons almal eet middagete saam. Mugabe is ‘n ikoon,” het hy aan die koerant gesê.

Baas en slagoffer – ‘n kanttekening by Gustav Venter se ‘Ploegskaarbreker’

Gustav Venter het vandag weer ‘n meesterlike rubriek, Afrikaner: Ploegbreker en Jannie Martelgat geskryf, waarin hy dit het teen die “Jannie-Martelgat-Afrikaner” wat net kla oor omstandighede en niks doen nie. Hierteenoor is daar die “Ploegbrekers” wat eenvoudig hardnekkig aanhou en hulle nie laat onderkry nie. Vir Gustav is die Ploegbreker-Afrikaner met sy diep ondergrondse wortels verteenwoordigend van ons volk en nie die lafhartige klakouse nie.

Dis vir my ‘n baie geldige punt wat hy maak: dat ons geneig is om ons eie vermoëns te onderskat en sonder meer aanvaar dat ons tans nie meer baas van die plaas is nie, maar ‘n permanente klaas. Ek gebruik doelbewus die woord “baas”, want is daar nie ook in die verlede van “blanke baasskap” gepraat nie? Soos “apartheid” en “swart gevaar” is dié term ook later deur die Engelse koerante tot vervelens toe gebruik om die agterlikheid van Afrikanerdenke voor te stel.

Ek is seker Gustav sal my nie kwalik neem as ek so effens met hom in debat tree oor sy andersins voortreflike skryfstuk wat elkeen van ons behoort te inspireer nie. Beskou dit nie as kritiek nie, maar as ‘n kanttekening, iets wat volgens die HAT oor twee betekenisse beskik: 1. “Aantekening op die kant van ‘n geskrewe of bedrukte blad. 2. Klein opmerking of kommentaar.”

Gustav sê vir ons dat ons moet ophou om ons slagoffers te beskou en te besef dat ons nooit deur ons as slagoffers voor te stel, die simpatie van ander blankes en Westerlinge gaan wen nie:

“Miskien dink hulle die strategie is ‘n wenner omdat dit vir die swartman gewerk het. Ja, dit is so, as die swartman se onderlip bewe, gaan die Westerling se beursie oop. Maar dan betaal hy wel vir iets wat vir hom waarde het – die selfverheffende gevoel dat hy ‘n ondergeskikte, hulpelose ellendeling gehelp het. Maar in Afrika is dit nét die swarte wat hom so laat voel. Die Westerling weet instinktief dat die Afrikaner skrander, hardwerkend, gedug genoeg is om na homself om te sien. Hy het geen moeite om sy beursie in sy sakke te hou nie al huil die Afrikaner riviere van snot en trane.”

Ek moet Gustav hiermee gelyk gee. Soveel kere moes ek al die afgelope paar jaar by buitelanders hoor: “Hoekom moet ons julle help? Die bankiers sê vir ons daar is miljarde dollar se Afrikanergeld in buitelandse banke, in Switserland, Monaco en elders. Waarom help die ryk Afrikaners nie hul eie mense met hul oorskotfondse nie?”

My kanttekening gaan egter oor die strategiese waarde van slagofferskap. Toe Mbeki president en per definisie die magtigste man in die land was, het hy hom nog steeds as slagoffer voorgehou. Uiteraard maak dit deel uit van die swart diskoers, om altyd slagoffer te speel en altyd die blankes, apartheid, slawerny of kolonialisme vir jou ellende te blameer.

Daar bestaan ‘n ander volksgroep wat glad nie arm en sukkelend is nie, maar wat steeds die strategiese waarde van slagofferskap besef: die Jode.

Behalwe ‘n jaar in Pretoria en Durban, onderskeidelik, asook sewe jaar in die Franse hoofstad Parys, woon ek reeds langer as veertig jaar in Johannesburg. Ek het die middestad en omliggende dele sien verander van die “Manhattan van Afrika” tot die hool wat dit vandag is. Toe ek aanvanklik in die koshuis by Helpmekaar was, het ek omtrent deur elke straat geloop, gedraf, aan lentelope, landlope, of wat ook al deelgeneem. En per motor het ek seker al letterlik die hele stad deurkruis.

Ek het al selfs die 100 kilometer rondom Johannesburg op die snelweë per fiets afgelê tydens die jaarlikse 94.7-fietsren rondom die stad, ‘n ietwat uitputtende manier om dit te verken! Veral daardie afdraand in Jan Smutslaan verby die dieretuin bied aan die ryer geleentheid om ‘n lewensgevaarlike spoed op sy resiesfiets te bereik en ek moes hard konsentreer om te sorg dat ek bo bly.

Nou die dag ry ek egter per motor teen dieselfde afdraand af en bemerk twee nuwe geboue in Jan Smutslaan: ‘n splinternuwe “Holocaust Centre” wat opgerig word, asook ‘n ent verder: die Rosa-Luxemburg-stigting.

Benewens Karl Marx self, was Rosa Luxemburg sekerlik die beroemdste Duitse kommunis van alle tye; daarom dra die oorblyfsels van die Oos-Duitse Kommunisteparty wat deesdae “Die Linke” heet, se stigting haar naam.

Wat die Rosa-Luxemburg-stigting alles in Johannesburg doen, is ‘n onderwerp wat ons seker op ‘n ander stadium kan ondersoek. Wat my interesseer, is die nuwe “Holocaust Centre”. Blykbaar het Jode wêreldwyd sommer binne ‘n kort tydjie $500 miljoen ingesamel om in elke groot stad ter wêreld ‘n “Holocaust Centre” op te rig waar hulle hul lyding tydens die Nazi-bewind in Duitsland ten toon stel. Daar bestaan reeds so ‘n “Holocaust Centre” in Kaapstad wat baie aktief is. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu dien ook op die raad daarvan.

Omdat ek destyds vanaf Helpmekaar oorkant die straat by Wits ingeskryf het, is ek baie bekend met die Joodse gemeenskap in Johannesburg. Trouens, ek was vir ‘n jaar lank op die studenteraad van Wits saam met Tony Leon, wat later leier van die opposisie geword het. Ek was een van twee nie-Jode op die studenteraad. Hillary Joffe, wat tans die openbare woordvoerder van Eskom is, was insgelyks op die studenteraad en ook redaktrise van die studentekoerant waarvoor ek boek- en filmresensies geskryf het.

Houghton, die kiesafdeling van mev. Helen Suzman, was die plek waar die meeste van my medestudente gewoon het. Omtrent elkeen het ‘n Italiaanse sportmotortjie soos ‘n Lancia of Alfa Romeo as geskenk op hul agtiende verjaardag ontvang. Hul huise was groot en gerieflik, gevul met duur meubels en kunswerke. As middelklas-Afrikaner het baie van hulle my jammer gekry omdat ek met ‘n tweedehandse motortjie gery het en ‘n lening moes aangaan om my studies te betaal. As toegif het hulle my saamgenooi na hul reusevakansiehuise by die see of ritte in die sportmotors na linkse studentevergaderings op ander kampusse.

Trouens, as ek terugdink aan my studentedae, voel dit asof ek ‘n lid van Suid-Afrika se stralerjakkerklub was. Die meeste van my medestudente het inderdaad op hul ouers se onkoste eers vir ses maande of ‘n jaar oorsee rondgeflenter om “die wêreld te sien” alvorens hulle kom studeer het.

Nou die dag lees ek dat die Joodse gemeenskap van Johannesburg oor die hoogste lewenstandaard van alle Jode ter wêreld beskik. Dit sê nogal iets, dink ek. Sedert Paul Kruger grond vir die enigste sinagoge in Johannesburg tydens die 1890s aan hulle bewillig het, het hulle nogal gewoeker!

Tydens my bywoning van atletiekbyeenkomste op hoërskool het ek ‘n tenger Joodjie wat in die 3000-meter-stap uitgeblink het, teëgekom. Sy naam was Ivan Glasenberg. Groot was my verbasing toe ek onlangs via die internet verneem dat hy intussen die rykste Suid-Afrikaner van alle tye geword het! Vandag woon hy in Switserland, in ‘n kanton waar hy sy eie belastingkoers onderhandel het. Sy persoonlike bates oorskry blykbaar $10 miljard, wat met die swak rand deesdae byna R100 miljard werd is. Dis nou ‘n een met elf nulle aan: R100 000 000 000. Ek lei af dat hy die meeste steenkoolmyne in die land besit en waarskynlik Eskom se grootste verskaffer is. Enkele jare gelede het hy al die kopermyne in die Demokratiese Republiek van die Kongo vir ‘n appel en ‘n ei opgekoop toe die staatskas bietjie leeg was.

Ek is nou nog taamlik goeie vriende met Tony Leon. Soos hy in sy onlangse boek oor sy ambassadeurskap in Argentinië beskryf, het hy groot moeite gedoen om Afrikaans behoorlik te leer praat en op ‘n stadium was hy waarskynlik ‘n beter Afrikanerleier as FW de Klerk. Ek is geensins anti-Joods nie, maar ek voel dat Afrikaners baie lesse by Jode kan leer.

Die punt wat ek egter wil maak, is dat Johannesburgse Jode, allermins as “slagoffers” beskou kan word. Hulle verkeer op die kruin van finansiële en politieke sukses: me. Helen Zille is een van hulle, asook die goewerneur van die Reserwebank, me. Gill Marcus. Die aantal genoteerde maatskappye op die Johannesburgse Aandelebeurs wat onder hul beheer is, is te lank om op te noem. Terwyl Afrikaners op ‘n streep Australië toe emigreer, word die Joodse gemeenskap van 80 000 in Suid-Afrika as “stabiel” beskryf. Trouens, sedert 1994 het 10 000 Israeli’s hierheen geïmmigreer, wat seker ‘n aanduiding is van hoe gesog ons land vir Jode is wat seker ewe maklik na die VSA, Australië, Kanada of watter land ook al, kan verhuis.

Desnieteenstaande beklemtoon Jode dat hulle dwarsdeur hul geskiedenis eintlik baie swaar gekry het en by tye – in Nazi-Duitsland maar ook elders in Europa – vervolg is. Blykbaar is daar onlangs binne ‘n redelike kort tyd meer as $500 miljoen wêreldwyd geld ingesamel om ‘n “Holocaust Centre” in elke groot stad ter wêreld op te rig. Vandaar dus die splinternuwe sentrum wat hier in Jan Smutslaan verrys en deel uitmaak van ‘n wêreldwye netwerk.

Duitsland is vandag in geen opsig ‘n gevaar vir Jode of vir Israel nie. Die geringste sweem van anti-Joodse gevoelens of uitsprake in Duitsland word deur Duitsers self swaar gestraf. In die Duitse media word daar gedurig jag gemaak op enige herlewing van ‘n eklusief Duitse nasionalisme en selfs gevoelens teen Turkse immigrante word as “regs-ekstreem” beskou.

Die vraag bly dus: waarom vind die internasionale Jodedom, selfs die uiters welvarende Johannesburgse Jode waarmee ek saam gestudeer het, dit nodig om hulself as slagoffers voor te hou?

As ‘n mens daaraan dink, het die wêreld se drie belangrikste godsdienste in die Midde-Ooste ontstaan: die Judaïsme, die Christendom en Islam. Waarskynlik verstaan Jode iets van hul eie godsdiens en die Semitiese waardes wat dit onderlê.

Die Koran is ook in Afrikaans vertaal. Ek het dit jare gelede in die Groot Moskee van Durban gekoop toe ek en my vrou die Indiese buurt van daardie stad verken het. Tot my skande, moet ek erken dat ek nog maar min daarin gelees het. Dus sal ek my nie oor Islam, die derde groot Semitiese godsdiens, wou uitlaat nie.

Nietzsche, wat een van die groot sekulêre denkers van die Weste was, het die Christelike geloof verwerp, maar steeds groot waardering vir die Ou Testament as ‘n verhaal van heroïese dade gekoester. Die Israeliete van ouds was “Ploegskaarbrekers” soos Gustav Venter sou sê. Die Christene, daarenteen, is meer geneig om “die ander wang te draai” en die spreekwoordelike “armes van gees” as voortreflik voor te stel. Dis moeiliker vir ‘n ryk man om in die hemel te kom as vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan, ens.

Allermins wil ek hier in ‘n teologiese debat betrokke raak. Een van Nietzsche se insigte was egter dat daar iets soos ‘n “slawemoraal” in die Weste bestaan. Mense van Europese afkoms bewonder krag, trots, intelligensie,uithouvermoë, voortreflikheid en materiële sukses. Tot op ‘n punt. Dan voel hulle ‘n behoefte om te toon watter simpatie hulle vir die spreekwoordelike “armes van gees”, die swakkelinge, die lydendes, die siekes, die Vigs-wesies het.

Bill en Melinda Gates is die rykste egpaar ter wêreld. Hulle is egter besig om miljarde dollar aan die armstes van die armstes te skenk, of aan ontwikkelingsprojekte in Afrika te bestee, asook om die liberale soort “een-wêreld-ideologie” te bevorder. Waarskynlik is hulle goeie Christene of dalk betaal hulle net vir wat Gustav Venter “die selfverheffende gevoel dat hy ‘n ondergeskikte, hulpelose ellendeling gehelp het”, noem.

Teenoor Nietzsche wat ‘n soort “beskawingsfout” by die Europeër bespeur, wat hom maar nie van die “simpatie vir die slaaf” kan bevry nie, is daar ‘n meer genetiese argument. Europeërs moes in hul oertyd tydens die strawwe wintermaande met mekaar saamwerk om te oorleef en is daarom as’t ware geteel om medelye en empatie met sowel hul medemens as diere te hê. Die eertydse Franse sekssimbool Brigitte Bardot het sedert haar glorieryke jongdae haar lewe aan dierebeskerming gewy. Soos president Jacob Zuma heel tereg gesê het, is dit tipies blanke gedrag om liefde en geld op troeteldiere uit te stort.

Maar interessant is dat Bardot deesdae ‘n reputasie as ‘n Franse nasionalis het en haar polities in die geselskap van die Front National van me. Marine Le Pen bevind. Dus sluit diereliefhebbery kennelik nie ‘n liefde vir die eie volk uit nie!

N.P. van Wyk Louw en ander Afrikanerintellektuele het in die 1930s ‘n “aristokratiese ideaal” vir die Afrikaner bepleit. In ‘n beroemde, gelyknamige opstel skryf Louw:

“As daar een ding is wat ons kultuur vandag nodig het, dan is dit die wedergeboorte van die aristokratiese ideaal. Die kenmerk van ons tyd is die opkoms van die massa en die massawaardes. Alles dreig om gepeupel te word…

“Ons Westerse mense, en ons in Suid-Afrika, het vandag feitlik geen aristokrasie meer nie. In die politiek neem ons dit as vanselfsprekend aan dat die wil van die massa moet seëvier; dat sy welvaart die hoogste goed is.”

Profetiese woorde, want vandag ly die Afrikaner onder die heerskappy van die massa. Nietzsche se afkeer van die “slawemoraal” was ten dele ook ‘n kanttekening by Hegel se “dialektiek van die meester en die slaaf”, waaruit allerlei denkrigtings, ook die kommunisme, ontstaan het.

Die Franse skrywer, Jean Raspail, het ‘n allegorie oor die ondergang van die Westerse beskawing in romanvorm geskryf onder die titel: “Omsingel die laer van die heiliges.” Ook dít is in Afrikaans deur die ywerige Naomi Morgan van Kovsies vertaal. Daarin stel Raspail hom die oorname van Frankryk en Wes-Europa deur ‘n arm menigte uit die Derde Wêreld voor. Die boek is in 1973 vir die eerste keer gepubliseer en ironies genoeg is Suid-Afrika die enigste land ter wêreld wat juis so ‘n ondergang verwerp. Min het Raspail geweet dat die Afrikaner juis eerste voor die “slawemoraal” sou kapituleer.

Iewers in ‘n nuwer voorwoord by die roman skryf Raspail dat ‘n mens “óf moet aanvaar om arm te bly en dus geen jaloesie by ander gaande te maak nie, óf wreed genoeg moet wees om ryk te wees”.

Soos Gustav Venter dit ook uitbeeld, is die keuse eenvoudig: óf ‘n mens moet die krag in jouself vind om baas of aristokraat te wees, óf jy moet jou met slagofferskap versoen.

Myns insiens mag daar ‘n derde weg wees, dié wat Jode kennelik hul eie gemaak het: om baas te speel terwyl jy jou as slagoffer aanbied. Dit veronderstel egter ‘n dubbele spel. Terwyl ‘n mens een wen ná die ander teen jou politieke en handelsteenstanders aanteken, beklemtoon jy angsvallig jou eie kwesbaarheid en ellende. As eerlike Calviniste voel die Afrikaners egter waarskynlik ongemaklik met so ‘n inherent “oneerlike” benadering.

As ‘n mens egter vir Nietzsche ernstig opneem, dan is medelye so deel van die Weste soos die kruis en die Indo-Europese tale waarvan sowel Afrikaans as Russies voorbeelde is. Dis so te sê deel van ons DNS. In jou eie land, omring deur jou eie mense, verskaf dit krag en binding wat volkere tot groot hoogtes aanspoor. Omring deur vreemdelinge en vyande, mag dit egter die dood in die pot wees, want dan voel ‘n mens meer medelye met vreemdelinge as met jou eie mense, selfs lede van jou eie gesin. Kyk maar na die NG Kerk wat sy rug op arm Afrikaners keer, maar fluks geld insamel om Zimbabwiërs of ander vreemdelinge te help.

Ons kan regtig baie lesse by Jode leer, in die sakewêreld, maar ook hoe om jou eie gemeenskap saam te bind en in die wêreld aan te bied. Terwyl Jode hul na buite as slagoffers aanbied, is hulle na binne voortdurend besig om mekaar op die skouer te klop en hul status as uitverkore volk te beklemtoon.

Ek stem saam met Gustav dat ons “ploegbrekers” is wat niemand sal kan uitroei nie. Ons moet die selfvertroue hê om te weet dat ons in staat is om weer koning te kraai in Suid- en Suider-Afrika. Dít kan ons gerus vir mekaar in Afrikaans oor en oor sê.

Na buite kan dit egter help om ‘n paar “Holocaust Centres” op te rig. Ek het reeds kontak met die direktrise van die Johannesburgse “Holocaust Centre” opgeneem om voor te stel dat ons ook ‘n tentoonstelling daar oor die Britse konsentrasiekampe behoort aan te bied.

Sy is heeltemal ontvanklik vir die idee. Ek hoop dat PRAAG genoeg ondersteuning onder Afrikaners sal ontvang om sulke projekte van stapel te stuur. Uiteraard kan ons nie hoop op $500 miljoen nie, maar ‘n honderdste daarvan kan dalk nuttig wees! As die ryk Afrikaners maar net kan besef dat dit op die duur hul beste versekering teen onteiening van hul bates gaan wees, sal hulle soos Jode rojaal hiertoe bydra.