Doeanebeheer opgeskerp na Gupta-debakel

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal doeane-beheer verskerp by die Waterkloof-lugmagbasis en ander toegangspunte, het The Star Dinsdag berig.

Dít volg nadat ‘n vliegtuig met die Gupta-familie se trougaste op 30 April onregmatig op die lugmagbasis geland het.

In ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag deur Tim Harris, DA-LP, het Pravin Gordhan, minister van finansies, gesê Waterkloof is “nie onder gewone omstandighede ‘n kommersiële toegangspunt nie”, maar dit sal ná die Gupta-voorval hersien word.

Harris het Gordhan gevra hoekom die SAID se doeanebeamptes nie teenwoordig was om te verseker dat doeane-prosedures gevolg word nie.

“Die bestuur van die SAID is beveel om te kyk watter lesse uit die voorval geleer is, en om voorstelle aan die minister van finansies te maak oor wat verander moet word om doeane-beheer by die nodige toegangspunte te verbeter,” het Gordhan gesê.

Gordhan het gesê Waterkloof is nie as ‘n internasionale lughawe geklassifiseer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae