Google wil net oor Afrika span

Google wil netwerke van Sub-Sahara-Afrika tot Suidoos-Asië finansier, oprig en bestuur in die hoop om ongeveer ‘n miljard mense in ontluikende lande internettoegang te gee, het die Wall Street Journal (WSJ) berig.

Die internet-soekreus gebruik ‘n verskeidenheid tegnologiese hulpmiddels en is in gesprekke met reguleerders van Suid-Afrika tot Kenia oor sy planne, het die WSJ berig.

Die hoë koste van infrastruktuur, streng regulasies en moeilike geografiese ligging het tot nog toe internettoegang in verskeie Afrikalande belemmer.

Google sal glo steun probeer werf by reguleerders om golwe te gebruik wat tot dusver uitgehou is vir televisie-uitsendings, en wat teen laer frekwensies deur geboue en oor langer afstande kan beweeg.

Verder wil Google lae-koste-selfone verskaf en ballonne daarvoor gebruik om seine van hoër hoogtes oor honderde vierkante kilometer uit te stuur.

Die maatskappy het reeds met verskeie kleinskaalse oefenlopies begin, waaronder ‘n proefneming in Kaapstad.

Google wou nie kommentaar oor die planne lewer nie. Beter toegang tot breëband-inligting strek tot voordeel van Google, omdat meer mense dan van sy soek- en ander dienste gebruik maak.

Maak 'n opvolg-bydrae