praag.co.za

Baas en slagoffer – ‘n kanttekening by Gustav Venter se ‘Ploegskaarbreker’

Written by

in

Gustav Venter het vandag weer ‘n meesterlike rubriek, Afrikaner: Ploegbreker en Jannie Martelgat geskryf, waarin hy dit het teen die “Jannie-Martelgat-Afrikaner” wat net kla oor omstandighede en niks doen nie. Hierteenoor is daar die “Ploegbrekers” wat eenvoudig hardnekkig aanhou en hulle nie laat onderkry nie. Vir Gustav is die Ploegbreker-Afrikaner met sy diep ondergrondse wortels verteenwoordigend van ons volk en nie die lafhartige klakouse nie.

Dis vir my ‘n baie geldige punt wat hy maak: dat ons geneig is om ons eie vermoëns te onderskat en sonder meer aanvaar dat ons tans nie meer baas van die plaas is nie, maar ‘n permanente klaas. Ek gebruik doelbewus die woord “baas”, want is daar nie ook in die verlede van “blanke baasskap” gepraat nie? Soos “apartheid” en “swart gevaar” is dié term ook later deur die Engelse koerante tot vervelens toe gebruik om die agterlikheid van Afrikanerdenke voor te stel.

Ek is seker Gustav sal my nie kwalik neem as ek so effens met hom in debat tree oor sy andersins voortreflike skryfstuk wat elkeen van ons behoort te inspireer nie. Beskou dit nie as kritiek nie, maar as ‘n kanttekening, iets wat volgens die HAT oor twee betekenisse beskik: 1. “Aantekening op die kant van ‘n geskrewe of bedrukte blad. 2. Klein opmerking of kommentaar.”

Gustav sê vir ons dat ons moet ophou om ons slagoffers te beskou en te besef dat ons nooit deur ons as slagoffers voor te stel, die simpatie van ander blankes en Westerlinge gaan wen nie:

“Miskien dink hulle die strategie is ‘n wenner omdat dit vir die swartman gewerk het. Ja, dit is so, as die swartman se onderlip bewe, gaan die Westerling se beursie oop. Maar dan betaal hy wel vir iets wat vir hom waarde het – die selfverheffende gevoel dat hy ‘n ondergeskikte, hulpelose ellendeling gehelp het. Maar in Afrika is dit nét die swarte wat hom so laat voel. Die Westerling weet instinktief dat die Afrikaner skrander, hardwerkend, gedug genoeg is om na homself om te sien. Hy het geen moeite om sy beursie in sy sakke te hou nie al huil die Afrikaner riviere van snot en trane.”

Ek moet Gustav hiermee gelyk gee. Soveel kere moes ek al die afgelope paar jaar by buitelanders hoor: “Hoekom moet ons julle help? Die bankiers sê vir ons daar is miljarde dollar se Afrikanergeld in buitelandse banke, in Switserland, Monaco en elders. Waarom help die ryk Afrikaners nie hul eie mense met hul oorskotfondse nie?”

My kanttekening gaan egter oor die strategiese waarde van slagofferskap. Toe Mbeki president en per definisie die magtigste man in die land was, het hy hom nog steeds as slagoffer voorgehou. Uiteraard maak dit deel uit van die swart diskoers, om altyd slagoffer te speel en altyd die blankes, apartheid, slawerny of kolonialisme vir jou ellende te blameer.

Daar bestaan ‘n ander volksgroep wat glad nie arm en sukkelend is nie, maar wat steeds die strategiese waarde van slagofferskap besef: die Jode.

Behalwe ‘n jaar in Pretoria en Durban, onderskeidelik, asook sewe jaar in die Franse hoofstad Parys, woon ek reeds langer as veertig jaar in Johannesburg. Ek het die middestad en omliggende dele sien verander van die “Manhattan van Afrika” tot die hool wat dit vandag is. Toe ek aanvanklik in die koshuis by Helpmekaar was, het ek omtrent deur elke straat geloop, gedraf, aan lentelope, landlope, of wat ook al deelgeneem. En per motor het ek seker al letterlik die hele stad deurkruis.

Ek het al selfs die 100 kilometer rondom Johannesburg op die snelweë per fiets afgelê tydens die jaarlikse 94.7-fietsren rondom die stad, ‘n ietwat uitputtende manier om dit te verken! Veral daardie afdraand in Jan Smutslaan verby die dieretuin bied aan die ryer geleentheid om ‘n lewensgevaarlike spoed op sy resiesfiets te bereik en ek moes hard konsentreer om te sorg dat ek bo bly.

Nou die dag ry ek egter per motor teen dieselfde afdraand af en bemerk twee nuwe geboue in Jan Smutslaan: ‘n splinternuwe “Holocaust Centre” wat opgerig word, asook ‘n ent verder: die Rosa-Luxemburg-stigting.

Benewens Karl Marx self, was Rosa Luxemburg sekerlik die beroemdste Duitse kommunis van alle tye; daarom dra die oorblyfsels van die Oos-Duitse Kommunisteparty wat deesdae “Die Linke” heet, se stigting haar naam.

Wat die Rosa-Luxemburg-stigting alles in Johannesburg doen, is ‘n onderwerp wat ons seker op ‘n ander stadium kan ondersoek. Wat my interesseer, is die nuwe “Holocaust Centre”. Blykbaar het Jode wêreldwyd sommer binne ‘n kort tydjie $500 miljoen ingesamel om in elke groot stad ter wêreld ‘n “Holocaust Centre” op te rig waar hulle hul lyding tydens die Nazi-bewind in Duitsland ten toon stel. Daar bestaan reeds so ‘n “Holocaust Centre” in Kaapstad wat baie aktief is. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu dien ook op die raad daarvan.

Omdat ek destyds vanaf Helpmekaar oorkant die straat by Wits ingeskryf het, is ek baie bekend met die Joodse gemeenskap in Johannesburg. Trouens, ek was vir ‘n jaar lank op die studenteraad van Wits saam met Tony Leon, wat later leier van die opposisie geword het. Ek was een van twee nie-Jode op die studenteraad. Hillary Joffe, wat tans die openbare woordvoerder van Eskom is, was insgelyks op die studenteraad en ook redaktrise van die studentekoerant waarvoor ek boek- en filmresensies geskryf het.

Houghton, die kiesafdeling van mev. Helen Suzman, was die plek waar die meeste van my medestudente gewoon het. Omtrent elkeen het ‘n Italiaanse sportmotortjie soos ‘n Lancia of Alfa Romeo as geskenk op hul agtiende verjaardag ontvang. Hul huise was groot en gerieflik, gevul met duur meubels en kunswerke. As middelklas-Afrikaner het baie van hulle my jammer gekry omdat ek met ‘n tweedehandse motortjie gery het en ‘n lening moes aangaan om my studies te betaal. As toegif het hulle my saamgenooi na hul reusevakansiehuise by die see of ritte in die sportmotors na linkse studentevergaderings op ander kampusse.

Trouens, as ek terugdink aan my studentedae, voel dit asof ek ‘n lid van Suid-Afrika se stralerjakkerklub was. Die meeste van my medestudente het inderdaad op hul ouers se onkoste eers vir ses maande of ‘n jaar oorsee rondgeflenter om “die wêreld te sien” alvorens hulle kom studeer het.

Nou die dag lees ek dat die Joodse gemeenskap van Johannesburg oor die hoogste lewenstandaard van alle Jode ter wêreld beskik. Dit sê nogal iets, dink ek. Sedert Paul Kruger grond vir die enigste sinagoge in Johannesburg tydens die 1890s aan hulle bewillig het, het hulle nogal gewoeker!

Tydens my bywoning van atletiekbyeenkomste op hoërskool het ek ‘n tenger Joodjie wat in die 3000-meter-stap uitgeblink het, teëgekom. Sy naam was Ivan Glasenberg. Groot was my verbasing toe ek onlangs via die internet verneem dat hy intussen die rykste Suid-Afrikaner van alle tye geword het! Vandag woon hy in Switserland, in ‘n kanton waar hy sy eie belastingkoers onderhandel het. Sy persoonlike bates oorskry blykbaar $10 miljard, wat met die swak rand deesdae byna R100 miljard werd is. Dis nou ‘n een met elf nulle aan: R100 000 000 000. Ek lei af dat hy die meeste steenkoolmyne in die land besit en waarskynlik Eskom se grootste verskaffer is. Enkele jare gelede het hy al die kopermyne in die Demokratiese Republiek van die Kongo vir ‘n appel en ‘n ei opgekoop toe die staatskas bietjie leeg was.

Ek is nou nog taamlik goeie vriende met Tony Leon. Soos hy in sy onlangse boek oor sy ambassadeurskap in Argentinië beskryf, het hy groot moeite gedoen om Afrikaans behoorlik te leer praat en op ‘n stadium was hy waarskynlik ‘n beter Afrikanerleier as FW de Klerk. Ek is geensins anti-Joods nie, maar ek voel dat Afrikaners baie lesse by Jode kan leer.

Die punt wat ek egter wil maak, is dat Johannesburgse Jode, allermins as “slagoffers” beskou kan word. Hulle verkeer op die kruin van finansiële en politieke sukses: me. Helen Zille is een van hulle, asook die goewerneur van die Reserwebank, me. Gill Marcus. Die aantal genoteerde maatskappye op die Johannesburgse Aandelebeurs wat onder hul beheer is, is te lank om op te noem. Terwyl Afrikaners op ‘n streep Australië toe emigreer, word die Joodse gemeenskap van 80 000 in Suid-Afrika as “stabiel” beskryf. Trouens, sedert 1994 het 10 000 Israeli’s hierheen geïmmigreer, wat seker ‘n aanduiding is van hoe gesog ons land vir Jode is wat seker ewe maklik na die VSA, Australië, Kanada of watter land ook al, kan verhuis.

Desnieteenstaande beklemtoon Jode dat hulle dwarsdeur hul geskiedenis eintlik baie swaar gekry het en by tye – in Nazi-Duitsland maar ook elders in Europa – vervolg is. Blykbaar is daar onlangs binne ‘n redelike kort tyd meer as $500 miljoen wêreldwyd geld ingesamel om ‘n “Holocaust Centre” in elke groot stad ter wêreld op te rig. Vandaar dus die splinternuwe sentrum wat hier in Jan Smutslaan verrys en deel uitmaak van ‘n wêreldwye netwerk.

Duitsland is vandag in geen opsig ‘n gevaar vir Jode of vir Israel nie. Die geringste sweem van anti-Joodse gevoelens of uitsprake in Duitsland word deur Duitsers self swaar gestraf. In die Duitse media word daar gedurig jag gemaak op enige herlewing van ‘n eklusief Duitse nasionalisme en selfs gevoelens teen Turkse immigrante word as “regs-ekstreem” beskou.

Die vraag bly dus: waarom vind die internasionale Jodedom, selfs die uiters welvarende Johannesburgse Jode waarmee ek saam gestudeer het, dit nodig om hulself as slagoffers voor te hou?

As ‘n mens daaraan dink, het die wêreld se drie belangrikste godsdienste in die Midde-Ooste ontstaan: die Judaïsme, die Christendom en Islam. Waarskynlik verstaan Jode iets van hul eie godsdiens en die Semitiese waardes wat dit onderlê.

Die Koran is ook in Afrikaans vertaal. Ek het dit jare gelede in die Groot Moskee van Durban gekoop toe ek en my vrou die Indiese buurt van daardie stad verken het. Tot my skande, moet ek erken dat ek nog maar min daarin gelees het. Dus sal ek my nie oor Islam, die derde groot Semitiese godsdiens, wou uitlaat nie.

Nietzsche, wat een van die groot sekulêre denkers van die Weste was, het die Christelike geloof verwerp, maar steeds groot waardering vir die Ou Testament as ‘n verhaal van heroïese dade gekoester. Die Israeliete van ouds was “Ploegskaarbrekers” soos Gustav Venter sou sê. Die Christene, daarenteen, is meer geneig om “die ander wang te draai” en die spreekwoordelike “armes van gees” as voortreflik voor te stel. Dis moeiliker vir ‘n ryk man om in die hemel te kom as vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan, ens.

Allermins wil ek hier in ‘n teologiese debat betrokke raak. Een van Nietzsche se insigte was egter dat daar iets soos ‘n “slawemoraal” in die Weste bestaan. Mense van Europese afkoms bewonder krag, trots, intelligensie,uithouvermoë, voortreflikheid en materiële sukses. Tot op ‘n punt. Dan voel hulle ‘n behoefte om te toon watter simpatie hulle vir die spreekwoordelike “armes van gees”, die swakkelinge, die lydendes, die siekes, die Vigs-wesies het.

Bill en Melinda Gates is die rykste egpaar ter wêreld. Hulle is egter besig om miljarde dollar aan die armstes van die armstes te skenk, of aan ontwikkelingsprojekte in Afrika te bestee, asook om die liberale soort “een-wêreld-ideologie” te bevorder. Waarskynlik is hulle goeie Christene of dalk betaal hulle net vir wat Gustav Venter “die selfverheffende gevoel dat hy ‘n ondergeskikte, hulpelose ellendeling gehelp het”, noem.

Teenoor Nietzsche wat ‘n soort “beskawingsfout” by die Europeër bespeur, wat hom maar nie van die “simpatie vir die slaaf” kan bevry nie, is daar ‘n meer genetiese argument. Europeërs moes in hul oertyd tydens die strawwe wintermaande met mekaar saamwerk om te oorleef en is daarom as’t ware geteel om medelye en empatie met sowel hul medemens as diere te hê. Die eertydse Franse sekssimbool Brigitte Bardot het sedert haar glorieryke jongdae haar lewe aan dierebeskerming gewy. Soos president Jacob Zuma heel tereg gesê het, is dit tipies blanke gedrag om liefde en geld op troeteldiere uit te stort.

Maar interessant is dat Bardot deesdae ‘n reputasie as ‘n Franse nasionalis het en haar polities in die geselskap van die Front National van me. Marine Le Pen bevind. Dus sluit diereliefhebbery kennelik nie ‘n liefde vir die eie volk uit nie!

N.P. van Wyk Louw en ander Afrikanerintellektuele het in die 1930s ‘n “aristokratiese ideaal” vir die Afrikaner bepleit. In ‘n beroemde, gelyknamige opstel skryf Louw:

“As daar een ding is wat ons kultuur vandag nodig het, dan is dit die wedergeboorte van die aristokratiese ideaal. Die kenmerk van ons tyd is die opkoms van die massa en die massawaardes. Alles dreig om gepeupel te word…

“Ons Westerse mense, en ons in Suid-Afrika, het vandag feitlik geen aristokrasie meer nie. In die politiek neem ons dit as vanselfsprekend aan dat die wil van die massa moet seëvier; dat sy welvaart die hoogste goed is.”

Profetiese woorde, want vandag ly die Afrikaner onder die heerskappy van die massa. Nietzsche se afkeer van die “slawemoraal” was ten dele ook ‘n kanttekening by Hegel se “dialektiek van die meester en die slaaf”, waaruit allerlei denkrigtings, ook die kommunisme, ontstaan het.

Die Franse skrywer, Jean Raspail, het ‘n allegorie oor die ondergang van die Westerse beskawing in romanvorm geskryf onder die titel: “Omsingel die laer van die heiliges.” Ook dít is in Afrikaans deur die ywerige Naomi Morgan van Kovsies vertaal. Daarin stel Raspail hom die oorname van Frankryk en Wes-Europa deur ‘n arm menigte uit die Derde Wêreld voor. Die boek is in 1973 vir die eerste keer gepubliseer en ironies genoeg is Suid-Afrika die enigste land ter wêreld wat juis so ‘n ondergang verwerp. Min het Raspail geweet dat die Afrikaner juis eerste voor die “slawemoraal” sou kapituleer.

Iewers in ‘n nuwer voorwoord by die roman skryf Raspail dat ‘n mens “óf moet aanvaar om arm te bly en dus geen jaloesie by ander gaande te maak nie, óf wreed genoeg moet wees om ryk te wees”.

Soos Gustav Venter dit ook uitbeeld, is die keuse eenvoudig: óf ‘n mens moet die krag in jouself vind om baas of aristokraat te wees, óf jy moet jou met slagofferskap versoen.

Myns insiens mag daar ‘n derde weg wees, dié wat Jode kennelik hul eie gemaak het: om baas te speel terwyl jy jou as slagoffer aanbied. Dit veronderstel egter ‘n dubbele spel. Terwyl ‘n mens een wen ná die ander teen jou politieke en handelsteenstanders aanteken, beklemtoon jy angsvallig jou eie kwesbaarheid en ellende. As eerlike Calviniste voel die Afrikaners egter waarskynlik ongemaklik met so ‘n inherent “oneerlike” benadering.

As ‘n mens egter vir Nietzsche ernstig opneem, dan is medelye so deel van die Weste soos die kruis en die Indo-Europese tale waarvan sowel Afrikaans as Russies voorbeelde is. Dis so te sê deel van ons DNS. In jou eie land, omring deur jou eie mense, verskaf dit krag en binding wat volkere tot groot hoogtes aanspoor. Omring deur vreemdelinge en vyande, mag dit egter die dood in die pot wees, want dan voel ‘n mens meer medelye met vreemdelinge as met jou eie mense, selfs lede van jou eie gesin. Kyk maar na die NG Kerk wat sy rug op arm Afrikaners keer, maar fluks geld insamel om Zimbabwiërs of ander vreemdelinge te help.

Ons kan regtig baie lesse by Jode leer, in die sakewêreld, maar ook hoe om jou eie gemeenskap saam te bind en in die wêreld aan te bied. Terwyl Jode hul na buite as slagoffers aanbied, is hulle na binne voortdurend besig om mekaar op die skouer te klop en hul status as uitverkore volk te beklemtoon.

Ek stem saam met Gustav dat ons “ploegbrekers” is wat niemand sal kan uitroei nie. Ons moet die selfvertroue hê om te weet dat ons in staat is om weer koning te kraai in Suid- en Suider-Afrika. Dít kan ons gerus vir mekaar in Afrikaans oor en oor sê.

Na buite kan dit egter help om ‘n paar “Holocaust Centres” op te rig. Ek het reeds kontak met die direktrise van die Johannesburgse “Holocaust Centre” opgeneem om voor te stel dat ons ook ‘n tentoonstelling daar oor die Britse konsentrasiekampe behoort aan te bied.

Sy is heeltemal ontvanklik vir die idee. Ek hoop dat PRAAG genoeg ondersteuning onder Afrikaners sal ontvang om sulke projekte van stapel te stuur. Uiteraard kan ons nie hoop op $500 miljoen nie, maar ‘n honderdste daarvan kan dalk nuttig wees! As die ryk Afrikaners maar net kan besef dat dit op die duur hul beste versekering teen onteiening van hul bates gaan wees, sal hulle soos Jode rojaal hiertoe bydra.

Comments

Leave a Reply