Mandela te sag met wittes, sê Mugabe

Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, het in ‘n televisieonderhoud  Nelson Mandela se versoeningsbeleid gekritiseer, en het die oudpresident daarvan beskuldig dat hy “te veel van ‘n heilige is.”

Die Sunday Independent berig die omstrede staatshoof het dié uitlatings met die televisie-aanbieder Dali Tambo gedeel.

“Mandela het ‘n bietjie te ver gegaan om goed te wees vir die nie-swart gemeenskappe… In sommige gevalle ten koste van ander [swartes]…”

Mugabe meen Madiba is besig om “te goed” en “te veel van ‘n heilige” te wees.

Die onderhoud is opgeneem vir die program People of the South en sal oor ‘n week uitgesaai word.

Die Sunday Independent berig die onderhoud bevat ook beeldmateriaal van die omstrede president se familie. Mugabe se vrou, Grace, gesels ook met die aanbieder op ‘n suiwelplaas.

Die onderhoud is einde verlede jaar opgeneem.

Tambo het bewerings dat hy die ou staatshoof se beeld probeer poets het, ten sterkste ontken.

Die gewilde televisieaanbieder het bygevoeg dat hy nie omgee as enigiemand kwaad raak oor die onderhoud met die Zimbabwiese leier nie.

“Dit is nie ‘n politieke program nie. Ons almal eet middagete saam. Mugabe is ‘n ikoon,” het hy aan die koerant gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae