Franse aanklaers sal die mesaanval op ‘n soldaat naby die land se hoofstad, Parys, as ‘n terreurdaad hanteer.
Die BBC berig dat die soldaat, Cedric Cordier tydens ‘n voetpatrollie met twee kollegas deur ‘n man van agter af oorval en met ‘n mes in die nek gesteek is.
Die polisie sê hoewel die soldaat ernstig beseer is, sal hy die aanval oorleef.
Frankryk se minister van verdediging, Jean Yves Le Drian, het aan verslaggewers gesê die soldaat is as gevolg van sy beroep geteiken.
Die polisie is steeds op soek na die aanvaller wat vermoedelik van Noord-Afrika afkomstig is.
Pres. Francois Hollande sê daar is tot dusver geen teken dat die aanval verband hou met die onlangse moord op ‘n Britse soldaat in Londen nie.
Nóg ‘n man is in hegtenis geneem in verband met die dood van van ‘n Britse soldaat in Londen, het die Britse speurdiens, Scotland Yard, bevestig.
Die 22-jarige man is in die noorde van Londen aangekeer omdat hy vermoedelik deel was van ‘n sameswering om moord te pleeg, berig RSG.
Drie ander mans is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Twee van dié mans is steeds in die hospitaal nadat hulle op die toneel waar die 25-jarige soldaat Lee Rigby herhaaldelik gesteek is, deur die polisie geskiet is.
Een van die mans, Michael Adebolajo, is voorheen in Kenia in hegtenis geneem omdat hy na bewering probeer het om hom by die Somaliese Islamitiese militante groep al-Shabab aan te sluit.
Adebolajo is glo genader deur die Britse geheimediens MI5 ses maande gelede en gevra of hy vir hulle wil werk.
‘n Jeugvriend van die vermeende terroris beweer MI5 het Adebolajo ná ‘n reis na Kenia verlede jaar, genader.
Abu Nusaybah het gesê die moordverdagte het geglo MI5 het hom afgeluister en ‘aan sy deur kom klop’ vir inligting oor ‘n sekere individu.
MI5 is reeds fel gekritiseer nadat dit bekend geword het dat Adebolajo en mede-verdagte Michael Adebowale vir agt jaar gemonitor is deur die veiligheidsdiens.
Dié skokkende onthullings oor die beweerde moordenaars se bekende skakeling met Islamitiese ekstremisme, is deur Abu Nusaybah, op die BBC se Newsnight-program gemaak: “Sy bewoording was, ‘Hulle luister my af – hulle sal my nie uitlos nie'”.
